'n Groot teleurstelling Print E-mail
News - Briewe
Monday, 21 March 2016 07:26
Untitled Document

Breytie Breytenbach van Mooiplaats skryf:
Op die webwerf van Diamantvallei is Boekedag geadverteer om 12 ure te duur vanaf 9h00 tot 21h00 op Saterdag 20 Februarie.

Daarom kom ons met groot verwagting daar aan om 14h30 en betaal ons toegangsfooi. Maar o, wee, toe ons by die plek kom waar die boeke uitgestal word, sal ons merk dat die uitstallers besig is om die boeke op te pak en weg te neem.

So vra ek vir 'n dame of hulle nie veronderstel is om tot die aand te bly nie. Ja, is die antwoord, maar hulle het 'n baie bedrywige oggend gehad en sy is nie bereid om te bly nie, want daar is nou baie minder mense.

Aangesien daar toe baie min oor was van die uitstallings, het ons ook maar verkas. Op die stukkie grondpad wat uit die terrein uitlei, gaan ons minstens 13 voertuie vol mense verby wat op pad is na die Boekedag.

Hoeveel sou nie nog aankom nie? Weliswaar seker nie so baie soos die oggend nie, maar nêrens word die publiek ingelig dat die voorwaarde is dat daar voortdurend baie mense moet wees nie.

En net soos ons R25 ‘n persoon toegangsfooi moes betaal om niks te ervaar nie, so sou die mense nà ons seker ook die geld moes opdok om na die leë tafels te kyk.

Indien daar ooit weer 'n Boekedag gereël word, sal ons dit nie besoek nie, dankie.

Ons het Breytie se brief vir Boekedag-organiseerder, Alida Verwoerd, aangestuur. – Red

Alida Verwoerd van Diamantvallei-landgoed antwoord:
Baie dankie dat jy die brief aangestuur het. Ja, dis nooit lekker om sulke kommentaar te kry nie en die ergste is dat dit regtig waar is! Ek was nie bewus daarvan dat daar so laat nog besoekers aangekom het nie, maar moes darem seker gemaak het.

Ook het ons wel die uitstallers vooraf mooi gevra om tot 4 uur te bly. Ons moes seker meer dwingend opgetree het toe hulle begin oppak, en daarin het ons wel fouteer. 

Ek sal baie graag vir dr Breytenbach verskoning wil vra.

Ons het Breytie se e-pos adres vir Alida gestuur. – Red

 

© 2020 Die/The Bronberger