Banjailand was amper die derde Boererepubliek PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 22 February 2016 18:50
Untitled Document

Angie Kleijn

Pogings om die Republiek van Banjailand op die been te bring, is vandag lankal vergete. As dié pogings suksesvol was sou ‘n derde Boererepubliek in 1891 noord van die Limpoporivier tot stand gekom het.

Die Voortrekkers het reeds vestiging in dit wat Rhodesië sou word, ondersoek. Kommandant Andries Hendrik Potgieter en JGS (Gert) Bronkhorst se verkenningspatrollie het Nwanetsi in die suidoostelike hoek van die hedendaagse Zimbabwe verken. Hulle het in 1836 ʼn ontdekkingsreis na die noorde onderneem om moontlike nedersettings en handelsmoontlikhede met Mosambiek se hawestede te ondersoek.

Volgens navorser Carel Gronum het ‘n Boere-geselskap in 1855 tot by die Zambezirivier se oewer deurgedring om vir goud te prospekteer. Hy sê dat minstens vyf groepe Boerejagters voor David Livingstone by die Victoria-waterval uitgekom het.


‘n Ossewa steek die Lumenerivier oor
Bron: www.rhodesian.com.au.

Beskerm
Oor die jare was daar baie kontak tussen die Sjonas noord van die Limpoporivier en jagters en sendelinge van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR). Die ZAR-regering is in 1880 gevra om die Banjai-stamme teen die aggresiewe Matabeles te beskerm.

’n Grondkonsessie is in Augustus 1890 onderteken. ʼn Groepie boere, onder leiding van Louis Adendorff, het op diplomatieke grondslag vergunning van Sebascha en Mozobe, opperhoofde van die Banjai-stamme in Banjailand in die suidoostelike deel van Matabeleland, gekry om daar te gaan bly om as buffer teen die Matabeles te dien.

Op 16 Maart 1891 is ‘n belangrike vergadering in Pretoria gehou om die stigting van die onafhanklike Republiek van Banjailand te bespreek. Volgens Gustav Hendrich se 2010 proefskrif, ‘Die geskiedenis van die Afrikaner in Rhodesië’, is die vergadering onder leiding van generaal Piet Joubert gehou en aanwesiges het Louis Daniel Adendorff, JLH du Preez, HJ Cloete, FW Ernst en FPJ de Meyer ingesluit.


‘n Blaaskans op die trektog
Bron: www.rhodesian.com.au.

Gustav skryf dat besluite op dié vergadering geneem is wat as bloudruk vir die eerste volwaardige Afrikaner-trek na Banjailand sou dien. Dié trek sou as die Adendorff-trek bekend gestaan het.

Portugal het die steun van ZAR-burgers, wat gewillig was om die Portugese invloedsfeer oor die gebied te erken, aanvaar. Hulle wou dié mense gebruik om hulle te help teen moontlike vyandigheid van die Britse imperialis, Cecil John Rhodes, se Britse Suid-Afrikaanse Maatskappy (BSAM), wat die gebied in 1890 beset het.


Andries Hendrik Potgieter het die Nwanetsi-gebied in die suid-oostelike hoek van die
hedendaagse Zimbabwe verken
Foto: Wikipedia

Aansluit
Nadat Louis Adendorff die konsessie verkry het, het hy mense van dwarsoor die land gevra om by die beplande trek aan te sluit. ‘n Groot kommissie sou gaan om die land in besit te neem en hulle het beplan om die 1858-grondwet van die ZAR as basis vir die gebied se regering te gebruik.

Baie mense in die Kaapkolonie, Oranje-Vrystaat, die ZAR en Natal het besluit om aan Louis se oproep gehoor te gee. Trekkoors het hoog geloop en dit het gelyk of dit ’n herhaling van die Groot Trek gaan wees. Daar word geskat dat tussen 2 000 en 3 000 mense wou saamtrek.

Op 24 Junie 1891 het honderde trekkers reeds by Florisdrift (naby Messina) aan die Limpopo byeengekom. Die ZAR-regering het egter ter elfder ure beslis dat die trek gestaak moes word. Polities gesproke wou Paul Kruger regstreekse konflik met Rhodes vermy omdat hy Britse steun vir ’n Swaziland-oorname wou hê.


Goud prospekteerdery in Masjonaland, 1900
Bron: ebay

President Paul Kruger en die volksraad het ʼn proklamasie uitgevaardig om die trekkers deur wetgewing te dwing om terug te keer. Trekkers wat wel die Limpopo oorgesteek het is deur die BSAM se
dr LS Jameson voorgekeer. Hulle was welkom om die gebied binne te trek, maar slegs as hulle ʼn dokument onderteken waarin die BSAM se gesag erken word. Die trekkers het geweier en het omgedraai.

Die Adendorff-trekkers het amptelike besware ingedien en, in samewerking met die Kaapse Afrikanerbond, ’n geregtelike ondersoek na die wedersydse grondaansprake van die trekkers en Rhodes aangevra.

Dit was ‘n sensitiewe saak vir Rhodes, wat toe eerste minister van die Kaapkolonie was, omdat hy ‘n vreedsame verhouding met die Afrikanerbond in dié kolonie wou hê. Nadat hy gesê het dat Afrikaners slegs tot Rhodesië toegelaat sou word as hulle Britse gesag aanvaar, het hy die bond se steun verloor.


Afrika, van Kairo tot die Kaap – Rhodes
Bron: Wikipedia

Voorspring
Hoe het dit gebeur dat Rhodes die Adendorff-trek voorgespring het? Volgens Gustav se proefskrif het die BSAM en majoor Frank Johnson op 1 Januarie 1890 ‘n kontrak onderteken waarin bekragtig is dat die Britse besetting van Masjonaland kon voortgaan. Rhodes het stamhoof Lobengula se goedkeuring gehad om Masjonaland vreedsaam binne te gaan, maar Rhodes se doelwit was om die gebied so gou as moontlik te annekseer.

Majoor Johnson was die bevelvoerder van die pionierskolon, ‘n mag wat deur Rhodes en die BSAM in die vorm van ‘n trekgeselskap op die been gebring is. Argivale bronne toon dat omtrent een uit elke 14 deelnemers aan die pionierskolonne Afrikaners was. Selfs die Vrystaatse president Brand se seun,
TT Brand, was in dié kolonne.

Kolonel EG Pennefather en die Britse Suid-Afrikaanse (BSA)-polisie het die pionierskolonne bygestaan. Baie van dié polisiemanne was Afrikaners wat vrywillig aangesluit het.

‘n Wapad is beplan en voorbereidings vir die voorsiening van wapens en lewensmiddele is getref.


Die Britse Suid-Afrikaanse Polisie sukkel met ‘n os in Masjonaland
Bron: ebay

Kolonne
Die pionierskolonne het by Kamp Macloutse, ʼn oefeningskamp aan die Macloutserivier in Betsjoeanaland, byeengekom. Hulle is deur majoor-generaal Paul Methuen, adjudant-generaal van die Britse magte in Suid-Afrika, geïnspekteer en die ekspedisie het op 10 Julie 1890 na Masjonaland vertrek deur die Sashirivier oor te steek.

Die kolonne, met 65 swaarbelaaide waens, het omtrent 11 myl per dag op ‘n 400 myl roete afgelê en die talle pioniersgrafte langs die roete lewer getuienis van die sterftes op pad.

Vyf forte is opgerig: Macloutse, Tuli, Fort Victoria, Charter en Salisbury. Tussen die forte was talle kleiner stasies wat deur 40 tot 50 mans bewaak is. Hulle moes sorg dat die roete vir kommunikasiedoeleindes verdedig word.

Die skielike binnekoms van die pionierskolonne het Lobengula onkant betrap en hy het geëis dat hulle moes terugkeer. Kolonel Pennefather het die eise geïgnoreer. Na suksesvolle samesprekings met
A Colquhoun, die aangewese administrateur van Masjonaland en die sluiting van ʼn verdrag met die opperhoof van die Manika-distrik, Umtasa, is die vrede tussen die kolonne en die Matabeles verseker.


Thomas Moodie
Bron: Geni.com

George Benjamin Dunbar Moodie
Bron: Geni.com

Johannes Nicolaas Moolman
Bron: Geni.com

Bestemming
Die pionierskolonne het op 12 September 1890 by hulle eindbestemming, Fort Hampton in Masjonaland, aangekom. Die Union Jack is op 13 September 1890 op Cecil-plein gehys en ‘n bevel is uitgevaardig dat die naam van die plek voortaan Fort Salisbury sou wees. Dié kolonie sou voortaan as Rhodesië bekend staan.

Die pionierskolonne is met hulle aankoms ontbind en die lede het hulle eie rigtings as prospekteerders, setlaars, jagters, transportryers en werkers ingeslaan. Baie Afrikaners het agtergebly, soos Christiaan de Lange, wat ʼn plaas van 1 500 morg in Masjonaland gekry het.


Laertrek in Matabeleland
Bron: www.rhodesian.com.au.

Gerugte oor talryke minerale bronne uit die oorblyfsels van die antieke Afrika-koninkryk van Monomotapa het goudkoors hoog laat loop. Groot bogrondse spoelgoud neerslae is ontdek, maar geen beduidende geologiese ondersoek na ondergrondse goudriwwe is ingestel nie.

Rhodes het Suid-Afrikaners in 1894 in ‘De Express’ en ‘Oranjevrijstaatsche Advertentieblad’ aangemoedig om die potensiële goudbedryf in Rhodesië te ondersoek.


JGF Steyn en sy seuns op die Henry-Steyn Trek in 1895
Bron: ‘Many Treks Made Rhodesia’, S P Olivier

Deputasies
Dié aanmoediging het gewerk en boere was ook gretig om meer oor landbou-omstandighede uit te vind. In die ZAR en die Oranje-Vrystaat het leidende Afrikaners ingestem om met Rhodes oor plaaseiendomme in Rhodesië te onderhandel.

Na ʼn vergadering op 19 Mei 1891 in die Vrystaatse Ladybrand-distrik is HP van Heerden en HJ Bisset verkies om Rhodes in Kaapstad te besoek.

Afgevaardigdes vanuit die ZAR het ook by Rhodes aangedoen. Die twee vernaamste verteenwoordigers was Richard Granville Nicholson van die Soutpansbergdistrik en kommandant Willem Cornelius Meyer van die Rustenburgdistrik. Dié twee het ‘n kontrak onderteken wat bepaal het dat hulle familie en vriende kon saamneem na Rhodesië en dat elke volwassene 1 500 morg op die hoëveld van Masjonaland sou ontvang. Die huurpag was £3 per jaar en elkeen sou ook ʼn aanvullende bosveldplaas bekom.


Op Matopoheuwels
Bron: www.rhodesian.com.au.

Ander ZAR-afgevaardigdes, soos PG Steyn, RP Steenkamp en CAJ Roetz, het later na Rhodesië gereis.

Selfs Kapenaars wou Masjonaland verken. Die Paarlse Masjonalandkommissie is in April 1891 gestig.

In Junie 1891 het die afvaardiging na Masjonaland vertrek en ‘n trekkersgids opgestel. Teen Maart 1892 was daar reeds 149 aansoeke vanuit die Kaapkolonie aan die Masjonalandkommissie gerig.

Afrikaanssprekendes wat hulle osse voor die waens ingespan het, het volgens Gustav se proefskrif in die volgende trekke deelgeneem:

Van der Byl-trek
Pieter Laurence van der Byl, ʼn lid van die Kaapse Parlement, het ‘n ooreenkoms met Rhodes se BSAM beding. In Mei 1891 het Pieter ʼn advertensie in ‘De Zuid-Afrikaan’ geplaas om jong boere te werf. Op 25 Junie 1891 het ʼn trekgeselskap van 27 mans Kaapstad verlaat en hulle het Rhodes by Fort Charter ontmoet.

Rhodes het daarop aangedring dat hulle ʼn nedersetting tussen die Macheke- en Rusaperivier moes stig. Hulle het voorrade en landbou-implemente ontvang en die nedersetting is ‘Laurencedale Settlement’ genoem.

Pieter is egter aan koorssiekte oorlede en die oorblywende mans, almal enkellopend, het na ander gebiede van Rhodesië gedros.


Fort Tuli in 1890
Foto: Central African Archives

Moodie-trek
George Benjamin Dunbar Moodie was ʼn raadgewer van die BSAM en voormalige bestuurder van die Portugese Ophir-mynmaatskappy, wat ook in Manikaland gemyn het.

Ná onderhandelings met Rhodes en Jameson is ʼn inbesitnemingsooreenkoms onderteken. Plase van
3 000 morg in Gazaland, die suid-oostelike grensgebied van Rhodesië, is aan elke boer gegee met die voorwaarde dat die plase dadelik beset moes word. Daar was ʼn jaarlikse vooruitbetaalbare erfpag van £3 per 1 500 morg, en 4s. vir elke verdere 100 morg, of deel daarvan.

Die BSAM het die reg op alle edelgesteentes, minerale en minerale-olie behou.


Die eerste openbare veiling in Salisbury, Pionierstraat, 1891
Bron: www.rhodesian.com.au

George se oom, Thomas Moodie, is as trekleier verkies. Hy was ‘n graanboer uit die Vrystaat, ‘n Afrikaanssprekende Skot wat met ʼn plaaslike meisie getrou het. Die Moodie-trekkers het op 5 Mei 1892 op Bethlehem in die Vrystaat bymekaargekom. Daar was tussen 60 en 70 volwassenes, ʼn aantal werkers asook trekosse en 350 stuks grootvee.

Hulle eerste stilhouplek in Rhodesië was Fort Tuli, waar hulle deur kaptein Raaff onthaal is. Vandaar is hulle na Fort Victoria. Die trekkers was ontevrede oor die beoogde gebied van vestiging en Thomas se haas om Gazaland voor die reënseisoen te bereik het verdeeldheid veroorsaak.


Een van die eerste pioniershuise in Salisbury
Foto: www.rhodesia.me.uk

Thomas en sy voorste groep wou ooswaarts trek, maar die res wou hulle eerder op die middellande tussen Fort Victoria en Salisbury, in die gebied van die Van der Byl-trekkers, vestig.

Na meer as agt maande het Thomas en enkele oorlewendes by die grasvelde van Chipinga aangekom. In dié heuwelgebiede is drie watervalle gesien en Thomas het die gebied op 3 Januarie 1892 Waterval gedoop.

Hulle het ‘n dorpie gestig wat na Thomas se voorvaderlike landgoed in Skotland, Melsetter, vernoem is. ʼn Gedenkteken ter ere van die Gazaland-trekkers en Thomas Moodie is later daar opgerig.


Rhodes, links, in Rhodesië in 1896
Bron: www.dailymail.co.uk

Moolman-Webster-trek
Die Moolman-Webster-trek het uit twee gesinne van 19 mense bestaan. Johannes Nicolaas Moolman het in 1893 met sy gesin vanaf Pietersburg na die sentrale gebied van Masjonaland vertrek. Hulle moes egter by Fort Victoria skuiling teen oproerige Matabeles soek.

Joseph Webster, ʼn boer van die Groot-Marico-distrik wat na Salisbury onderweg was, het die Moolman-gesin ontmoet en hulle het besluit om as ʼn gesamentlike trek na Gazaland te verhuis. Hulle het die Moodies op 30 Augustus 1893 by Waterval ontmoet.


Die eerste kamp in Salisbury, September 1890
Foto: William Ellerton Fry

Gifford-Edenburg-trek
Die langste trek was in 1894 vanaf Edenburg in die Suid-Vrystaat. Dit was ook die een waar die meeste ontberings ervaar is. Die trek was onder leiding van Alfred Samuel Gifford en sy gesin en 30 Edenburgers het deelgeneem.

Hulle het op 13 Maart 1894 na afloop van ʼn NG kerkdiens vertrek en het op 9 September 1894 by die Moodies op Waterval aangekom.


Hartley Hill
Foto: Rhodesian Heritage

Mynhardt-Utrecht-trek
Die Mynhardt-trek was ook ʼn gesinstrek waarby belangstellende boere langs die pad aangesluit het. Johannes Tobias Mynhardt was ʼn Vrystaatse veeboer wat later in die Utrecht-distrik in Natal gewoon het.

Die Mynhardts het Utrecht op 24 Maart 1894 verlaat en D Labuschagne, W Odendaal, T de Beer en
L de Klerk en hulle gesinne het langs die pad aangesluit, sodat daar 32 volwassenes en 36 kinders was.
Die trek het probleme met roofdiere en vol riviere ondervind en het in Oktober 1894 op Waterval aangekom.


Die pionierskolon, uit ‘Black and White’, 25 Oktober 1890
Foto: Rhodesiana

Martin-trek
Martinus Jacobus Martin was ʼn bekende Vrystaatse boer en ʼn volksraadslid in Bethlehem. Rhodes het gesê dat Martinus en sy trekkers agt plase in Gazaland sal ontvang as hulle in April 1894 trek.

Die trek het op 19 April 1894 vanaf Fouriesburg in die Oos-Vrystaat vertrek en het uit 104 mense en 24 swaar gelaaide ossewaens bestaan. Hulle het op 14 Oktober 1894 by Buffelsdrif aangekom en het twee dae later ʼn gedenkteken in die vorm van ʼn klipstapel, wat as Ebenhaezer bekend gestaan het, opgerig.


Hope Fountain
Foto: Rhodesian Heritage

Du Plessis-trekke
Die enkelloper, Ernst du Plessis, was ʼn medetrekker in die Moodie-trek. In Gazaland het hy vir hom ʼn plaas, Clear Water, afgepen en was so opgewonde oor die boerderygeleenthede dat hy na Ficksburg teruggekeer het om ʼn trekgeselskap op die been te bring.

Die eerste Du Plessis-trek het uit ʼn klein groepie van 11 mense, insluitende kinders, bestaan. Na ʼn voorspoedige reis het al die trekkers plase ontvang.

Ernst het daarná, dié keer per boot via Beira, na Suid-Afrika teruggekeer. Hy het in Utrecht, Natal, getrou en het weer ʼn groep mense na Gazaland geneem. Die tweede trek het uit 17 mense bestaan – die gesinne Kleyn, Engelbrecht, Stopforth, Breytenbach en Pikster.


Die fort en laer by Mangwe
Foto: Rhodesian Heritage

Kruger-Bekker-trek
Ernst Kruger wou trek oor die grensoorloë met die Xhosas, boerderymislukkings en ontevredenheid as transportryer vir die BSAM. Hy het gehoop dat omtrent 100 mense vanuit Pretoria by sy trek sou aansluit, maar dit het nie gebeur nie.

Ernst het Hendrik Bekker se trek by die Krokodilrivier ontmoet. Hendrik was ook ʼn transportryer vir die BSAM wat deur sy karweiwerk na Salisbury voorafkennis van Rhodesië opgedoen het.

Twee ander Afrikaner-families, Kotze en Visagie, het by die Kruger-Bekker-trek aangesluit en hulle het uit vyf gesinne met 31 kinders bestaan.


Deur die laaste water voor Salisbury, 1895
Foto: OC Rawson

Henry-Steyn-trek
John Henry en JGF Steyn het op ʼn verkenningstog deur die noordoostelike gebiede van Rhodesië gereis en het vol opgewondenheid na Kroonstad teruggekeer.

Hulle is op 8 Mei 1895 oor die Vaalrivier met 104 mense, 16 waens en oor die 5 000 stuks grootvee en 750 stuks kleinvee.

Vanaf Fort Victoria het die trek Gazaland ná groot ontberings bereik. Hulle het op 30 Oktober 1895 by Waterval aangedoen en uitgevind dat die meeste plase in die suidelike gedeeltes van Gazaland reeds base gehad het. Die trekkers moes verder noord, bykans tot by die dorpie Umtali trek om hulle plase te gaan afpen.


Die pionierskolon steek die Lundirivier oor in 1890
Foto: Rhodesian National Archives

Afrikaners
Gustav Hendrich se proefskrif wys dat Afrikaner-boere ʼn groot ontwikkelingsrol in die Rhodesiese landboubedryf en ekonomie vervul het en dat Rhodesië nie net uit Engelssprekendes bestaan het nie.

Kerke en kultuurorganisasies het die mense saamgebind sodat die Afrikaanse kultuur vir baie dekades in dié Engelssprekende land behoue gebly het.


Die pionierskolon steek die Nuanetsirivier oor in 1890
Foto: ORAFs

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online