Kontrei se mense maak harte oop met droogtehulp PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 22 February 2016 18:49
Untitled Document

Ons kontrei se mense maak hulle harte oop vir boere in droogtenood. Verskeie droogtehulp-projekte is sedert die begin van die jaar geloods en vragmotors gevul met grasbale, water en soutblokke vertrek gereeld na die Vrystaat, Noord-wes en Noord-Kaap.

TLU SA se hoofbestuurder, Bennie van Zyl, sê dat sommige gebiede se reën so laat in die seisoen gekom het dat byna onherstelbare skade reeds gedoen is, en die uitwerking hiervan nog tot na die winter gevoel sal word.
Volgens TLU SA strek die invloed van die droogte vanaf waterprobleme, kritieke voertekorte en kontantvloeiprobleme. Die omvang van insetkoste wat nie ’n opbrengs gaan lewer nie, is groot.


SA Crisis Support se mense laai water

Plaaslike droogtehulp-pogings het begin nadat vakansiegangers uit die Bronberg-gebied in Desember gesien het hoe mense en diere in ander dele van die land swaarkry.

Veearts Gerhard Potgieter vertel dat ‘n brandmaer koei vir hom en Karen Schwendtke so geraak het, dat hulle in Desember volspoed begin werk het. “Ek sien elke dag van my lewe siek diere. Hierdie koei het van honger gestruikel en nie omdat sy siek was nie,” het hy gesê.

SA Crisis Support is gestig en word deur Karen Schwendtke bedryf om water en kos vir mens en dier in nood in te samel.


Sout-en proteïenlekke word met sorg by KWD opgelaai
Foto: Elsabé Maré

Hulp
Vroeg in Januarie het Gerhard Potgieter gratis hondsdolheidinspuitings by die Cullinanse Premier Hotel gegee en mense gevra om 1,5 liter waterbottels saam te neem vir ‘n vragmotor wat op Vrydae Winburg toe ry met water.

Voer, grasbale en soutblokke is op 21 Januarie daar versamel om boere te help en die geskatte waarde wat dié dag ingesamel is het R13 000 beloop. Daar is 60 lekblokke van 20 kg elk afgegee deur boere uit die omgewing.

In die tweede week van Februarie het dié groep reeds honderd-duisend liter water bymekaargemaak en afgelewer. Teen Die Bronberger se saktyd is nog 400 tef-bale van 120 kg elk, geborg deur Cassie Coetzee, opgelaai. Marti Victor het vervoer gereël om die bale in Bloemfontein, Griekwastad, Virginia, Weppener en Koppies af te lewer.

Van die fondsinsamelaars is: Touching Souls, Caring Daisies, Digipix, Bernadine de La Porte, Vasti Kirchner, Belinde Schreuder, Collin van Onselen, Ronel Schutte, Nerine Schutte (Out of Africa koningin), Maudie Smit (Out of Africa koningin), Carla Hoffmann (Out of Africa koningin), Mnr SA, Armand Du Plessis, Marti Victor van Supreme Pet, en Alzu Voere.

Om aan dié projekte deel te neem, bel Karen Schwendtke by 071-157-7608 of Gerhard Potgieter by 082-925-4048.


Bale word by KWD gelaai vir die langpad na Bultfontein
Foto: Elsabé Maré

Bultfontein
Boere se nood het Henriëtte Engelbrecht van Zonkolol buite Rayton ook aangespoor om ‘n droogtehulp-projek aan te pak. Op Donderdag 28 Januarie het ‘n vragmotor van die Cullinanse KWD Voere met 18 grasbale vertrek.

“Daar is nog 37 om te gaan,” het Gerhard Steenkamp van KWD gesê. Droogtemeel, soutblokke, proteïenlekke en water kom ook by. Gerhard sê dat altesame 15 ton na die Bultfontein-omgewing in die Vrystaat gestuur word.

Die insameling van voer is ‘n deurlopende proses en die beplanning vir die volgende vragte is reeds aan die gang.

Mense wat ‘n bydrae wil maak, kan bale koop of ‘n geldelike bydrae maak by KWD-Voere in Cullinan op die R513 net verby die vierrigtingstop, of by KWD-Voere agter die vendusiekrale net buite Bronkhorstspruit op die pad na Cullinan/Ekangala. Bel Gerhard Steenkamp by 079-879-3500.


Henriëtte Engelbrecht van Zonkolol kyk hoe bale op die vragmotor gelaai word
Foto: Elsabé Maré

Saamstaan
AfriForum, Solidariteit, Helpende Hand en TLU SA het op 21 Januarie aangekondig dat hulle ‘n gesaamentlike projek loods om boere wat deur die erge droogte geteister word te help.

AfriForum het die samewerkingsooreenkoms afgeskop deur R200 000 aan TLU SA te skenk. Jy kan jou naam na 38312 SMS om ʼn R10-bydrae te maak. AfriForum is bereid om die geld wat so ingesamel word rand-vir-rand te verdubbel.

Helpende Hand het R100 000 se verligtingskoepons wat vir voedselaankope aangewend kan word aan TLU geskenk. Hulle het ook die Rampgebiedstudiefonds geskep waaruit agt studente wie se families deur die droogte geraak is, rentevrye studielenings ontvang het.


Bale word by die Premier Hotel in Cullinan geskenk aan boere in nood

Veiling
Solidariteit het by die droogtekrisis betrokke geraak deur vier fotograwe aan te stel wat die droogte in verskillende dele van die land dokumenteer. Die fotoreeks is op 28 Januarie bekendgestel. Die foto’s word opgeveil en die opbrengs word vir die verligting van armoede geskenk.

Die TLU is selfs deur een van die groot kommunikasie-netwerke genader, wat ‘n tenkwa vol water gestuur het om boere se nood te help verlig. ’n Bekende vervoermaatskappy het hulp aangebied om logistiek te koördineer waar daar voer of selfs beeste verskuif moet word.

Bel Bennie van Zyl van TLU SA by 082-466-4470; Henk Maree van AfriForum by 083-280-2470; Ernst Vorster van Helpende Hand by 082-794-3158; en Dirk Hermann van Solidariteit by 082-461-8485.


‘Boere in Nood’ lees die banier op een van die vragmotors van SA Crisis Support op pad na Griekwastad in Januarie

Konsert
Die sanger Adam Tas het ‘n konsert, ‘Manna vir die Boere’, gereël wat op Saterdag 20 Februarie vanaf 3 nm tot 6 nm in die Voortrekkermonument se Amfiteater gehou word. Die totale opbrengs word vir droogtehulp gegee.

Van die kunstenaars wat gratis saam met Adam Tas optree is Laurika Rauch, Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Kurt Darren, Corlea Botha, Jak de Priester, Jannie Moolman en André Venter.
Die kaartjies is by Computicket beskikbaar en kos R200 per persoon, skoolkinders betaal R100 en voorskoolse kinders geniet gratis toegang.

Adam werk saam met Caring Daisies, ‘n fondsinsamelingsorganisasie wat ook ingespring het om in die droogtetyd te help. Caring Daisies het reeds amper 2 000 bale voer na boere in Noord-Wes, die Vrystaat en Noord-Kaap vervoer. Caring Daisies is in Erasmuskloof. Skakel 086-155-3333.


Jan de Jager, Henriëtte Engelbrecht, Stephen Moyak (drywer) en Gerhard Steenkamp
Foto: Elsabé Maré

Skoonheid
Selfs plaaslike skoonheidskompetisies word gehou om geld deur SA Crisis Support in te samel vir die boere. Mense word aangemoedig om vir die ‘delicious’ skoonheidskompetisies in te skryf. Die kategorieë strek van mejuffrou, vroue met rokgrootte 38+, getroude, geskeide of enkellopende vroue of ‘delicious dads’. Fondse wat só ingesamel word, gaan via SA Crisis Support na die boere.
Bel Karen Schwendtke by 071-157-7608.


Die mense van Rayton en Cullinan het derduisende liters drinkwater ingesamel as deel van ’n radiostasie se droogtehulp-poging. Die water is na ’n sentrale punt, Kakiebos Restaurant op Kaalfontein, gevat vanwaar dit per vragmotor verder geneem is. Hier help ’n menseketting om die kosbare vrag op te laai

Facebook
Die ‘Boere in Nood’-Facebook-groep is op 3 November verlede jaar gestig met die doel om die lyding wat boere en hulle diere in die droogte ondervind, te verlig.

Die groep is deur NC Schoombee, ‘n sakeman van NJS Agri, en Nico Gerber, ‘n boer van Hoekville, gestig.

Dié groep het tot dusver R1,6 miljoen ingesamel en 400 boere gehelp. Daar is 41 500 lede op die Facebook-groep en enige een is welkom om aan te sluit.


Voer is ook in die Bronbergse hoewegebied bymekaargemaak in ‘n proses gedryf deur
SA Crisis Support

Styging
Die droogte gaan ‘n drastiese styging in voedselpryse veroorsaak en Paula Barnard, woordvoerder van World Vision, verwag dat pryse al in Maart en April gaan styg.

Die mielieprys het met 150% tot R5 000 per ton gestyg, sê FoodBank SA. Verlede jaar is mielies teen R2 017 per ton verkoop.

Die stygende mielieprys het ’n groot invloed op ander voedselsoorte se pryse. Vleis se prys gaan na verwagting binnekort verdubbel, sê Frans van der Bergh, ’n boer en voorsitter van Agri-Gauteng.

Die Oesskattingskomitee sê dat sowat 25% minder mielies as in vorige jare geplant is. Hulle sê die voorlopige oppervlakte- en produksieskatting is gegrond op ‘n opname deur die direktoraat van statistiek en ekonomiese analise van die departement van landbou, bosbou en visserye en weerspieël die stand van sake in die derde week van Januarie.

Die hersiene aangeplante oppervlakte en produksiesyfers sal op 25 Februarie vrygestel word.

Die voorlopige skatting van die oppervlakte onder kommersiële mielies beloop 1,995 miljoen ha, wat 24,79% of 657 700 ha minder is as die 2,653 miljoen ha wat verlede seisoen aangeplant is. Die voorlopige geskatte grootte van die kommersiële mielie-oes is 7,438 miljoen ton wat 25,18% of 2,503 miljoen ton minder is as die 9,942 miljoen ton van die vorige seisoen, met ‘n verwagte opbrengs van 3,73 t/ha.


Die groep van SA Crisis Support laai voer in Faerie Glen in die middel van Januarie

Skatting
Die voorlopige produksieskatting vir sonneblomsaad is 622 000 ton, wat 5,89% of 38 900 ton minder is as die 660 900 ton van die vorige seisoen.

Die verwagte grondbone-oes is 29 600 ton, wat 47,77% of 27 075 ton minder is as die 56 675 ton van die vorige seisoen.

Die produksieskatting vir sojabone is 768 560 ton, wat 27,48% of 291 290 ton minder is as die 1,060 miljoen ton van die vorige seisoen. 

Vir droëbone is die produksieskatting 35 150 ton, wat 52,11% of 38 240 ton minder is as die 73 390 ton van die vorige seisoen. 

Die oppervlakteskatting vir sorghum het afgeneem, maar die produksieskatting is 119 400 ton, wat 2,49% of 2 900 ton meer is as die 116 500 ton van die vorige seisoen.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online