Beesstert en pastei op Boma se kuierstoep PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 22 February 2016 18:48
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Ons sien ‘n lesersbrief en advertensie in die Bronnie oor ‘n nuwe kuierplek, genaamd Café Boma by die Moreleta Plaza en op ‘n mooi Saterdag sit ons af soontoe.

Ek het al vergeet hoe besig die groot dorp op ‘n Saterdag kan wees. Die verkeer knoop behoorlik in en om Garstfonteinweg en ek doen sporadies dieselfde agter die dieselwa se stuurwiel. Gelukkig sit Boma op die noord-oostelike hoek van die bedrywige koopsentrum. Hier is genoeg oop parkeerplek en ons hou jou werklikwaar vlak by die kuierplek onder ‘n koelteboom stil.

Dié plek het ‘n ruim kuierstoep, waar ons deur ‘n vriendelike kelner na ‘n netjiese tafeltjie vergesel word. Die kelner is ewe netjies uitgedos. Die binnewerke van die plek is smaakvol ingerig, met ‘n mooi kroegie, nog kuiertafels en ‘n biltong- en vleisdelikatesse.


Lekker op Boma se kuierstoep

‘n Wakker briesie werk met die hitte se gal. Hier op die hoekstoep is jy die erge gewoel van koorsagtige koopgieriges gespaar. Buite druis die verkeer met Garstfonteinweg verby. Met ‘n bietjie verbeelding en hulp van ‘n glas of wat rooies, kan jy jou wysmaak dis die see wat jy hoor.

Koffie vir Metgesel (baie lekker, sê sy) en ‘n lang lemmetjiesap met sodawater teen die voordors, vir my. Hoekom kan die wêreld se skinkers nie leer dat ‘n mens eers die sodawater moet ingooi en dan die lemmetjiesap (lime) nie? Anders bly lê die sappie soos ‘n loodpil onder in die glas.

Ek is bly toe ek die twee plat TV-skerms sien wat strategies hoog gemonteer sit, want dis ‘n krieketdag, maar helaas . . . Dié skerms wys net voorskoue van komende programme, vertel vriendelike kelner my. Dis seker iets wat vorentoe reggestel kan word, dink ek en bepaal my aandag op die lywige spyskaart.

Wonderlik is dit om weer ‘n goeie tweetalige spyskaart raak te loop. Duidelik weet die eienaars van Café Boma wie die meerderheid uiteters van die gebied is.

Die basiese Boma ontbyt bestaan uit eiers, spek, gebraaide tamaties en roosterbrood en dit kos R30.


Beesstert met ‘n hemelse bruinsous

Die verrassing lê in die keuses van “’n ietsie ekstra” wat jy daarby kan toevoeg. Onder die twaalf keuses tel skilpadjies, biefstuk, boerewors, skaapwors, kaaswors, varkwors, pap en kaiings, boontjies in tamatiesous en pap en sheba. Alles teen ‘n baie billike ietsie ekstra. Jy kan ook roereiers met biltong teen R35 of ‘n gesondheidsontbyt bestel.

Toebroodjies, oop broodjies, quiches (ek wonder nog altyd wat die verskil tussen ‘n quiche en ‘n souttert is), slaaie, burgers en mandjies lê volgende in gelid teen die spyskaart af. Die verskeidenheid is wyd en biltong is amper oral ingewerk. Die biltongmandjie kos R75 en die Boma burger weeg in teen R62.

Die kuierplek het ontspring uit die bekende Boma Slaghuis daar naby. Dié slaghuis wen amper met eentonige reëlmaat jaarliks ‘n hakmes-toekenning (Cleaver Award) vir uitnemendheid. Hulle is ernstig oor vleis en die volgende afdeling op die spyskaart staan onder die Engelse hofie van “serious meat”. Die Afrikaans sê net ‘vleis’ en ek verstaan dat ‘ernstige vleis’ dalk die verkeerde beeld voor die geestesoog kan oproep . . . ‘n Stuk beeshaas met ‘n frons onder ‘n hoed, met ‘n bril en weglê-snor?

Kruisskyf (R60 tot R115), lendeskyf, beesfilet (beeshaas), T-been, lamstjops, varktjops en beesrib (R55) is die keuses. Daarby kan jy ‘ietsies ekstra’ soos groente, slaai, pap en sheba, skyfies, pampoenkoekies en verskillende souse bestel. 

Onder ‘huiskos’ is bobotie en rys (R80), hoenderpastei (R75), lamskerrie met rys en ‘sambals’ (R110), beesstert en kapokaartappels (R125) en hoenderschnitzel en skyfies teen R65. Die huiskosse kom saam met die groente van die dag. Dis hoenderpastei vir Metgesel en beesstert vir my, met pampoenkoekies as ‘n ietsie ekstra.


Binnetafels en biltongdeli

Ek is baie partydig vir ‘n goedgedoende beesstert en ‘n mens kan my seker teen hierdie tyd al ‘n kenner van soort noem. Boma se beesstert is sonder twyfel een van die heel bestes wat ek in my lang sterteetloopbaan teëgekom het.

Dit is in ‘n geurige bruinsous getoor tot die perfekte tekstuur, sagtheidsgraad en smaak. Ek sou omkoopgeld betaal vir die resep van daai sous. Die porsie is ruimhartig en die aartappels is gekapok soos dit moet. Groente van die dag is soetpatats en groenbone. Die patats geval my en die groenbone is vir Metgesel perfek, maar vir my is dit te rou. Die drie pampoenkoekies is groot en smaaklik.

Metgesel se hoenderpastei is van die aard wat jou ouma sou gemaak het. Sy geniet en merk op dat dit net mooi genoeg is vir twee mense.

Ons wou nog malvapoeding (R35) of warm sjokoladepoeding, die Engelse sê ‘hot mud pudding’ (R45) bestel het, maar te veel was klaar genoeg. Rooiwyn per glas, kos R20.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online