Pratende besoekers by jou voëlvoerder PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 22 February 2016 18:47
Untitled Document

Van die beste praters onder kouvoëls is deesdae besoekers by voëlvoerders in tuine. Moet ‘n mens dié voëls probeer vang om hulle te red of kan jy staatmaak daarop dat budjies en ringnek parkiete as wilde voëls kan oorleef?

Vir baie dekades reeds is daar groot kolonies ringnek parkiete in Johannesburg en Durban, en kolonies het onlangs in Centurion en Irene begin vestig. Meer gevalle van ‘wilde’ budjies wat saam met swerms vinke lewe word ook in ons kontrei opgeteken.

Is dit moontlik vir ontsnapte kouvoëls om soos posduiwe weer hulle pad terug huis toe te kry? Dit lyk nie so nie, alhoewel ‘n verstommende verhaal in 1999 in Pretoria afgespeel het.


Dié wilde budjie gaan drink in die oop voëlhok water – tot die duif se groot verstommenis

‘n Troetel-ringnek parkiet het in die middel van Desember uit sy kou in Waterkloofrif ontsnap en het teen die einde van Januarie by sy eienaar, die agtjarige Louis van Niekerk, se skool aangekom. Die skool is kilometers weg van die huis, maar die plankdun parkiet het reguit na Louis toe gevlieg en op sy skouer gaan sit. Die kenners sê dat alhoewel ringnekke baie geheg raak aan hulle mense, hulle bykans nooit terugkom as hulle ontsnap het nie.

‘n Ontsnapte parkiet of budjie kan glo net oorleef as hulle by ’n wilde kolonie aansluit. In Bronbergwêreld is daar te min ontsnapte budjies om swerms te vorm, maar hulle doen heel goed saam met die vinke.

Wanneer hokbudjies aanvanklik ontsnap kyk hulle alles af wat die vinke doen – wanneer hulle opvlieg as daar gevaar is en watter voëlvoerders hulle by huise besoek. ‘n Budjie wat nie by só ‘n swerm aansluit nie se kanse op oorlewing is glo maar skraal. As deel van die swerm word die budjie egter gou ‘n boelie en maak seker hy kry eerste toegang tot voëlvoerders, al is hy eintlik ‘n grondvoerder in die natuur. Budjies vreet grootliks sade en plantmateriaal.


Blou en geel wilde budjies voer saam in ‘n tuin
Foto: Jacques Conradie

Budjie
Die budjie, Melopsittacus undulatus, leer maklik woorde, frases en deuntjies aan. Budjies en ringnek parkiete val altwee in die top-vyf-praters-kategorie. Puck, ‘n budjie-mannetjie wat aan Amerikaner Camille Jordan behoort, hou teen 1 728 woorde, die wêreldrekord vir die voël met die grootste woordeskat.

Budjies kom van Australië af, waar hulle steeds die grasvelde in groot swerms domineer. Die spesie is vir die eerste keer in 1805 aangeteken en is vandag die derde gewildste troeteldier in die wêreld, ná honde en katte.

Die wilde budjie is soortgelyk aan dié wat ons vandag in troeteldierwinkels sien, maar hulle is kleiner en almal se kleur is groen met ‘n geel gesig. Die eerste budjies is in die 1850’s in die Antwerpse dieretuin in België uitgestal en mense het knap daarna met budjies begin teël.

Die Australiërs het in 1894 ‘n uitvoerverbod op budjies ingestel en van toe af het Europeërs met die voëls wat hulle reeds gehad het, aanhou teel. Vandag is die ‘Engelse’ of ‘skou’ budjie amper twee keer groter as die wilde budjie en hulle kan verskillende skakerings van blou, groen, geel, ligpers, wit, bont en grys wees.

Wanneer budjies ses tot agt maande oud is, kan jy die verskil tussen mannetjies en wyfies duidelik sien. Die deel bokant die mannetjies se snawels is blou, terwyl dit pienk of bruin is by die wyfies.


‘n Wilde ringnek parkiet by ‘n voëlvoerder

Parkiete
Die ringnek parkiet, Psittacula krameri, is ’n groen voël met turkoois stertvere en kry sy naam van die ring rondom die mannetjies se nekke.

Hulle is nie inheems aan Suid-Afrika nie, maar is baie aanpasbaar en het al ‘n subspesie in Afrika gevorm wat ‘n bietjie kleiner as die Indiese weergawe is.

Die antieke Grieke het die Indiese subspesie, P. krameri manillensis, vertroetel en die antieke Romeine die Afrika subspesie, P. krameri krameri.

As ‘n gewilde, pratende troeteldier word dié voëls dwarsoor die wêreld aangehou en het ook al in bykans elke land van die wêreld ontsnap, waar hulle dan in swerms as wilde voëls leef.


Die wilde budjie wat elke dag ’n Cullinanse voëlvoerder besoek

As jy so ‘n ringnek in jou tuin gewaar, kan jy dit aan die ringnek parkiet projek rapporteer en foto’s stuur na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . Hulle versamel inligting oor die populasie-grootte en verspreiding van dié indringers in Suid-Afrika.

In 2010 is daar geskat dat daar 10 000 wilde ringnekke in Nederland se stedelike gebiede is, omtrent dubbel soveel as in 2004. In Brussels is daar 5 000 pare wilde ringnekke en daar is soveel populasies in London, dat ‘n kolonie van duisende voëls suid-wes van London as die Kingston parkiete bekend staan.

Hulle vreet sade, neute, vrugte en bessies en in sommige lande is hulle as landboupes verklaar. Alhoewel populasies wilde ringnekke aanhou toeneem in Europa, Japan en Amerika, het hulle getalle in suidelike Asië, waar hulle vandaan kom, drasties gedaal omdat hulle daar gevang word om as kouvoëls verkoop te word.


Huismossies word gou mak

Myna
Die Indiese spreeu (alom bekend as Indiese myna) is ook inheems aan suidelike en suidoos Asië, en dié na-apers kan ‘n verstommende woordeskat opbou. Hulle kom regoor die wêreld voor en is in verskeie lande as pes verklaar. 

Die eerste Indiese spreeus, Acridotheres tristis, in Suid-Afrika dateer terug na 1902 toe voëls uit aanhouding ontsnap het. In die jare daarna is meer van hulle doelbewus vrygelaat om met die bestryding van insekte soos sprinkane en kewers te help. 

Die bevolking en verspreiding van die voëls het teen ‘n geweldige spoed toegeneem ná verskeie voëls in die noord-ooste van die land uit aanhouding ontsnap het.

Daar is bewyse dat ‘n myna 330 km en meer binne ‘n jaar kan aflê. Dié eienskap het veroorsaak dat hulle teen 1987 feitlik die hele noordelike en noord-ooste van Suid-Afrika en selfs die suid-weste van Botswana beset het. Hulle is steeds besig om eksponensieel te vermeerder en vinnig te versprei.

Indiese spreeus is waarskynlik een van die beste aangepaste uitheemse voëls in Suid-Afrika. ‘n Myna is ‘n omnivoor en vreet insekte, spinnekoppe, skaaldiere, reptiele, sade, vrugte en bykans enige oorskietkos wat mense uitsit. In die natuur voer hulle op die gras, waar hulle meestal sprinkane vreet.

Dit is dan ook waar die generiese naam ‘Acridotheres’, wat ‘sprinkaanjagter’ beteken, vandaan kom.


‘n Myna maak graag in huise se dakke nes
Foto: Lim Jun Ying

Ander
Daar word gesê dat tien van die 19 uitheemse voëlspesies wat doelbewus die land
ingevoer is, suksesvol gevestig is. Die pou en rooiwoudhoender is plaasspesies, wat hulle beperkte sukses te danke het aan hulle verblyf naby plaasopstalle. Die makduif en huismossie het ook ’n noue verband met geboue.

Die huismossie, of Europese mossie, Passer domesticus, is ‘n indringer uit Europa en Asië wat in die 1890’s in Durban en rondom 1930 in Oos-London losgelaat is. Hulle het vinnig dwarsoor die hele land versprei en is vandag al selfs in Malawi te siene. Ons inheemse gewone of Kaapse mossie, Passer melanurus, word deur die huismossie verdring.

Mossies is saadvreters, wat hulle dieet met wurms en insekte aanvul. Hulle word redelik mak en sal by jou kombuisdeur kom bedel vir krummels.


Budjies is grondvreters

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online