Rus ‘n vloek op die Cullinan-diamant? PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 22 February 2016 18:47
Untitled Document

Rus daar regtig ‘n vloek op die Cullinan-diamant? Boris Gorelik het met die enigste oorlewende kleindogter van Frederick Wells, die man wat dié reuse diamant gevind het, gaan praat. Sy het hom vertel wat met die Wells-gesin gebeur het ná Fred die diamant met sy knipmes uitgegrou het.

Die reuse Cullinan-diamant, wat later deel van die Britse kroonjuwele geword het, is op 26 Januarie 1905 gevind. Dié diamant van 3 106.75 karaat is in verskeie stene gesny, waarvan die grootste die Cullinan I of Groot Ster van Afrika genoem word en teen 530.4 karaat die grootste geslypte wit diamant ter wêreld is.

Fred Wells, die destydse bogrondse bestuurder van die Premiermyn, se jongste en enigste oorlewende kleinkind, Emma van Heerden, vertel dat Fred deur ‘n mynwerker gewaarsku is om nie aan die reuse blink klip te vat nie.


Die Groot Ster van Afrika,
Cullinan I, is die toppunt van die Britse koninklike septer

Die Tweede Ster van Afrika, Cullinan II, is in die Britse koninklike staatskroon gemonteer
.

Storie
Emma sê dat ’n swart mynwerker teen die einde van ‘n lang skof na haar oupa toe gegaan het en hom vertel het van ’n uitsonderlike blink klip wat hy teen die kant van die myn se oop put raakgesien het.
Die werker het gewaarsku dat Fred baie jammer gaan wees as hy daardie klip optel, omdat hy net teëspoed gaan bring. “Jy moet hom net daar los tot môre, sodat iemand anders hom kan optel,” het die werker gesê.

Fred het die waarskuwing geïgnoreer en na die plek toe geloop waar die klip, vyf meter onder grondvlak, halfpad uitgesteek het. Hy het die klip met sy knipmes probeer uithaal en so hard gedruk dat die lem naby die handvatsel afgebreek het.

In daardie stadium het Fred glo getwyfel of dit regtig ‘n diamant kan wees. Dit kon ‘n groot stuk glas gewees het wat ‘n platjie daar geplant het om ‘n gek van iemand te maak. Toe die klip, so groot soos ‘n man se vuis, uiteindelik uit is en geweeg is, was hy drie keer swaarder as die grootste diamant wat nog gevind is.

Daardie aand het die Wells-gesin se huis tot op die grond afgebrand. Emma, wat haar lewe lank in Warmbad bly, vertel dat haar pa, ooms en tannies almal letsels op hulle hande en gesigte oorgehou het. Die brand het glo begin terwyl die gesin geslaap het. Hulle het betyds uitgekom, maar al hulle besittings was daarmee heen.

Die myn het Fred met ’n £2 000 ­bonus beloon en al wat Fred oorgehad het, was daardie £2 000. Emma sê dat Fred die dag van sy dood ook nie veel meer as £2 000 op sy naam gehad het nie.


Die plek waar die groot Cullinan-diamant in die Premiermyn gevind is
Foto: De Beers-argief

London
Die reuse diamant is Londen toe gestuur, waar dit twee jaar lank in ’n bankkluis op ’n koper gewag het. Louis Botha het die Transvaalse regering oortuig om die diamant met staatsgeld te koop, om dit aan koning Edward VII te skenk.

Dokumente in die Nasionale Argief in Pretoria wys dat die Transvaalse regering die Cullinandiamant teen £58 350 gekoop het. Dit is gelykstaande aan R85 miljoen in vandag se geld.

Die diamant is in verskeie edelstene verdeel. Die Groot Ster van Afrika is die toppunt van die koninklike septer. Die Tweede Ster van Afrika (317 karaat) is in die koninklike staatskroon gemonteer. Ander stukke wat uit die oorspronklike Cullinandiamant gesny is, is deel van die koningin se persoonlike juweliersware, wat in die Buckinghampaleis gebêre word.


Fred Wells met die diamant
Foto: De Beers-argief

Skerwe
Ná die klip in Europa gesny is, het daar tien karaat se ongeslypte skerwe oorgebly. Boris Gorelik skryf dat generaal Botha wou verhoed dat dit in private besit beland. Hy het opdrag gegee dat die Transvaalse regering die skerwe by die slypery koop.

Die ivoordosie met die skerwe is in ’n kartondoos gesit en dié is binne-in ’n sigaretdosie na Suid-Afrika gepos.

Die hoof van die Transvaalse Museum het die stukkies in 1910 in ontvangs geneem. In ’n amptelike skrywe het hy belowe dat die regering dit saam met ’n model van die oorspronklike diamant sal uitstal.
Jy sal egter tevergeefs daarna soek in die Nasionale Natuurhistoriese Museum in Pretoria.


Die myn se hoofbestuurder, William McHardy, links, en Frederick Wells, bogrondse bestuurder,
met die diamant
Foto: De Beers-argief

Vloek
Daar is vele verhale van ‘n vloek op ‘n diamant en die bekendste is waarskynlik dié van die Hope Diamant. Dié diamant was oorspronklik deel van ‘n baie groter blou diamant wat in die 1600’s in Indië gevind is. Die Franse handelaar Jean-Baptiste Tavernier het dit glo gesteel – die diamant het die oog van ‘n Hindu-standbeeld gevorm.

Hy het dit aan Louis XIV, die koning van Frankryk, verkoop. Knap daarna is Jean-Baptiste glo aan koors dood en wolwe het sy lyk verorber. Louis XIV is aan gangreen dood en al sy wettige afstammelinge behalwe een, is as kinders dood.

Nicholas Fouquet, wat vir koning Louis XIV gewerk het, het die diamant glo een keer gedra. Kort daarna is hy uit Frankryk verban en Louis het sy vonnis na lewenslange tronkstraf verander. Sekere bronne sê dat hy die oorspronklike ‘Man in die ystermasker’ was.


Henry Philip Hope
Bron: The French Blue

Evelyn Walsh McLean met die Hope Diamant in ‘n halssnoer
Foto: pbs.org

Onthoof
Na Louis XIV se dood het die diamant aan die volgende koning, wat met Marie Antoinette getroud was, gegaan. Hulle is in die Franse Rewolusie onthoof.

Die diamant het in die Franse Rewolusie verdwyn en het eers weer in 1812 onder geheimsinnige omstandighede in Engeland opgeduik, waar dit deur Henry Philip Hope aangekoop is. Dié ryk bankier, na wie die diamant vernoem is, het glo al sy geld verloor en het as ‘n hulpbehoewende gesterf.

Die Hope diamant is deur ‘n Hollandse juwelier, Wilhelm Fals, herslyp. Wilhelm is daarna deur sy seun vermoor en die seun het selfmoord gepleeg. ’n Griekse handelaar, Simon Maoncharides, het die diamant besit en hy, sy vrou en kind is dood toe hulle voertuig by ‘n afgrond afgetuimel het.

Simon Frankel, ‘n diamanthandelaar van New York, het die diamant in 1901 gekoop en daarna finansieel begin swaarkry. Die volgende eienaar, Jacques Colot, is waansinnig verklaar en het selfmoord gepleeg. Prins Ivan Kanitovski was daarna aan die beurt – hy is deur Russiese rewolusionêre magte vermoor en sy minnares, Lorens Ladue, is ook vermoor.


Frederick Wells se agterkleindogter, Antoinette McKechnie, links, saam met Frederick se agteragterkleinseun, Adam, en Frederick se kleindogter, Emma van Heerden
Foto: Boris Gorelik

Weduwee
Die weduwee Evelyn Walsh McLean het die diamant in 1912 gekoop. Eers is haar skoonma dood, toe haar negejarige seun, haar man het haar vir ‘n ander vrou verlaat en is later in ‘n malhuis dood, haar 25-jarige dogter is aan ‘n dwelm-oordosis dood en Evelyn moes haar koerant, ‘The Washington Post’ verkoop en is as hulpbehoewende dood.

Na haar dood het die New Yorkse diamanthandelaar, Harry Winston die diamant gekoop, en omdat hy hom nooit weer verkoop kon kry nie, het hy die Hope Diamant aan die Smithsonian Museum geskenk.
Die posbode, James Todd, wat die diamant by die Smithsonian afgelewer het, se been is kort daarna deur ‘n vragmotor vergruis, sy vrou is dood en . . . sy huis het afgebrand.

Ander diamante wat deur soortgelyke stories van vervloeking omring word is die Swart Orlov en die Koh-i-Noor.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online