Oor hoenderdiewe en die ouderdom PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 22 February 2016 18:40
Untitled Document

Die bosveld se somernagte kan hetig warm word. Dis daarom nie vreemd dat oom Jan Kokkedêris van Dwaalboom se geweste verkies het om snags in sy Adamsgewaad te slaap nie. Hulle vertel (vir die waarheid) dat dit op só ‘n snikhete somernag was dat oom Jan wakker geskrik het van ‘n vreeslike geraas buite by die hoenderhok.

Duidelik was ‘n gedierte of ‘n gedoente met onedele motiewe besig om oom Jan se leghorns op hol te jaag en die ou vloog uit die bed uit om te loop ondersoek instel. Hy gryp in die verbygaan sy dubbelloop haelgeweer, stoot die kombuisdeur stadig oop en beweeg versigtig tot by die hoenderhok. Vannag speel hy klaar met die vreksel wat sy leghorns steel.

Hulle vertel dat oom Jan kwaai paraat was. Hy haal skaars asem en met sy vinger op altwee die snellers, tuur hy teen die donker in om die hoenderdief onder skoot te kry. Dis net toe dat die plaas se werfhond, so ‘n ou groot, bruin boelhond met ‘n lekker breë tong, ongesiens van agter af kom en oom Jan ‘n vet, vriendelike verwelkomingslek op die kaal agterstewe gee.

Oom Jan, sy vrou, sy kinders en dié se span kinders het daardie nag tot ná ligdag toe gesit en hoenders pluk, vertel hulle.

Hy kom tot die besef, sê ou Peterjasie, dat hy nou ‘n siener is. Nie soos oorle oom Van Rensburg van lankal, ‘n siener was nie, maar in dié sin dat hy nou ‘n senior tienderjarige geword het. Nie ‘n tiener nie, ‘n senior tiener; ‘n Siener, sê Peterjasie.

Alles waarvoor hy as tiener gewens het, dié het hy nou, al moes hy ‘n hele klompie dekades lank daarvoor wag: Hy hoef nie skool toe, of werk toe te gaan nie; Hy kry elke maand sakgeld; Hy het sy eie blyplek; Hy kan so laat uitbly as wat hy wil; Hy het ‘n bestuurderslisensie en ‘n kar – alles dinge waarna hy as tiener gesmag het, sê ou Peterjasie. En op die koop toe, het hy as siener, nie puisies nie.

Die soepelheid van sy jongdae, sê oom Buks anderdag op sy beurt, is nou nog net ‘n herinnering. Oor ‘n paar jaar gaan die verskil tussen loop, draf en hardloop vir hom net die gesigsuitdrukking wees, sê hy.

Dis ook oom Buks wat vertel dat Heinie die soort vriend is waarop ‘n mens kan reken – hy sal altyd daar wees wanneer hy jou nodig het.

Dawie moet ‘n kongres bywoon en woon in ‘n duur hotel, vertel oom Buks ook. Die tweede oggend aan ontbyttafel sê hy vir die kelner: “Ek wil asseblief hawermoutpap met melk hê, maar die pap moet baie klonte in hê en die melk moet half suur wees.

“Daarna twee snye roosterbrood. Die een moet aan die een kant net effens gerooster wees en aan die ander kant heeltemal verbrand, en die ander een aan die een kant net reg gerooster, maar aan die ander kant glad nie gerooster nie.

“Dan twee gekookte hoendereiers. Een moet net twee minute gekook wees en die ander een minstens twintig minute.

“Laastens ‘n koppie flou, blou, lou koffie waarvan die helfte in die koppie en die ander helfte in die piering is.”

Kelner: “Dit spyt my Meneer, maar die kombuis is baie besig want hulle moet ontbyt maak vir vierhonderd mense. Dit sal nogal moeilik wees om so ‘n bestelling presies uit te voer.”

Dawie: “Hoekom sal dit ewe skielik moeilik wees? Gister het julle dit presies so gedoen sonder dat ek eers daarvoor gevra het.”

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online