Dolores en kie maak gereed vir Via Dolorosa PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 22 February 2016 20:36
Untitled Document

Op Vrydag 11 Maart bied die mense van Cullinan en Rayton weer die Paastoneel, Via Dolorosa (Die lydingspad), in die saal van Cullinan se Hervormde Kerk aan. Predikantsvrou, Yvette Otto, het dié pittige storie daaroor vir die Bronnie geskryf.

Yvette Otto

Haar naam is Dolores. Byna drie jaar gelede het sy haar debuut as rasegte donkie-esel met die opvoering van Via Dolorosa voor ‘n gehoor gemaak. En hulle was gek na haar. Maar die pad na sterstatus was weliswaar nie sonder dubbeltjies nie. Inteendeel.

Soos enige ware fynbesnaarde kunstenaar, het haar fladderhart voor haar eerste optrede met haar op loop gesit en het sy die pad gevat. Skoonveld. Mielieveld, om presies te wees – so sou ons later agterkom.


Lede van die gemeenskap tree as akteurs op

Ja, Dolores het die koers willens en wetend byster geraak. Kruis en dwars tussen die twee dorpe, Rayton en Cullinan, is ‘n soektog na ons gekruisde donkie (merk op haar skouerblad) geloods. Tot die elektroniese media is ingespan.

Soos so dikwels gebeur wanneer iemand die pad byster raak, het ons haar by die gevangenis opgespoor. Dankbaar. (Dis nou ons en die mense wat haar veilig bewaar het.) Uitbundig het sy die smal weg terug pastorie toe aangepak, pootstoots, al mielie-herkouend en steeds hunkerend na die breë weg.

Agentloos, het Dolores vir haarself naam gemaak. Sedertdien is sy een van die groot aantrekkingskragte van die Paasspel; al is sy net vir ‘n paar minute deel van die toneel.

Moet dan tog net nie van Dawid, die ongeslagte (en so gaan dit bly . . .) Paaslam vergeet nie. Hy het die beste rol. Dawid wat op 24-uurse ouderdom by ons opgedaag het nadat sy ma hom weggegooi het (hy het sekerlik te veel gedrink!) lê permanent à la “bones in da light” in kinderarms met sy verskyning.


Gewilde aktrise, Dolores, sal vanjaar weer ‘n rol vertolk

Hierdie jaar sal ons moet kyk vir iemand met Kalahari-spiere om hom te dra, spykerbene ten spyt, want Dawid het gegroei tot ‘n lam in skaapsklere.

In sewe tonele vertel toegewyde, geesdriftige amateur-akteurs die Paasverhaal. Van die uitdagings wat die Passiespel bied, is onder andere die min tyd wat aan oefeninge spandeer word, asook die feit dat daar ‘n besluit geneem is om Jesus nooit fisies uit te beeld nie.

Die gemeenskap-span wat dit aanbied, lewer ‘n produk ver bo enige verwagting. Almal wat tevore deelgeneem het en almal wat die aanbieding bygewoon het, is dit eens: dis treffend.

Die toneelspel, sang, koorsang, klank en finale produk is van hoogstaande gehalte. Die boodskap van Paasfees word doeltreffend op ‘n nie-prekerige manier oorgedra.


Kindertjies het spontaan ingespring om te help dra aan die kruis

Waar Kersfees oor die geboorte van Jesus Christus gaan, gaan Paasfees oor die opstanding. Die kruis beteken alles is betaal. Opvallend was met ‘n vorige toneel van Simon van Cirene wat Jesus se kruis dra, die swetterjoel kinders wat instinkmatig saamgebondel het om te help om die swaar kruis te dra. Dit was kosbaar.

Weet ons kinders en kleinkinders waaroor Paasfees gaan, of soek hulle so naarstigtelik paaseiers wat die paashaas in die tuin weggesteek het dat die grootste fees hulle verbygaan?

Bring u kinders en vriende en kom ons gryp as gemeenskap hierdie geleentheid aan om mekaar beter te leer ken en in die proses saam eer aan die Here gee. Datum: Vrydag, 11 Maart om 7 nm. Toegang: Volwassenes R50, kinders R20. Navrae en oudisies: Yvette, 072-223-7522. Kaartjies: Alta, 082-682-1252.
 

© 2019 Die/The Bronberger