Hartverwarmend PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Monday, 22 February 2016 18:31
Untitled Document

Die wyse waarop die mense van die Bronberg-gebied saamspan om verligting te bring in dele van die land waar erge droogtenood ervaar word, is hartverwarmend.

Dorpenaars, stedelinge, hoewebewoners en boere van ons kontrei maak hulle harte oop om te help en vragte water en veevoer vind die weg na die mense en diere van die geknelde gebiede. Dit maak ‘n mens trots om ‘n Bronberger te wees.

Droogtehulppogings het in erns en met geesdrif begin nadat mense op reis in die Desember-vakansie, eerstehands kennis geneem het van die ramp se omvang.

Die dringende behoefte aan water en veevoer is duidelik sigbaar, maar baie boere staar ook moontlike rampspoedige kontantvloeiprobleme in die gesig. Ons praat nie van kleingeld as ons oor die koste van ‘n oes insit, praat nie en om dan weens die droogte niks daarvoor terug te kry nie, kan ‘n finale nekslag tot gevolg hê.

In Kontrei se mense maak harte oop met droogtehulp kan jy meer lees oor die ruimskaalse droogtehulp-poging waarmee verskillende ruimhartiges in ons midde besig is. Jy kan ook uitvind hoe en waar jy hiermee kan help.

Ander ramp
‘n Ramp van ‘n heel ander aard is besig om stadig, maar seker reg onder ons neuse te ontwikkel.

Ons praat van die groeiende gevaar wat die pom-pom onkruid met sy pers blommetjies vir die omgewing inhou. ‘n Mens het net nodig om met die hoofare van die kontrei langs te ry, om te besef hoe dié verpesting besig is om in te val en oor te vat.

Ongehinderd sal die pom-pom voor lank klaarspeel met die natuurlike veld en weiding van die Bronberg-gebied.

Die meeste grondeienaars doen hulle uiterste om die onkruid uit te roei en hulle word ook wetlik verplig om dit te doen.

Ongelukkig lê die grootste teelaarde van die pom-pom in padreserwes en op ander grond wat onder beheer van die owerheid staan. Blykbaar geld die wet hulle nie.

‘n Oplossing kan lê in die groot getalle werkspanne wat ons gereeld (en meestal ledig) langs die paaie van die gebied sien. Eerder as om dagdeur dun strokies kweekgras langs die padskouer skoon te skoffel, soos wat spanne van tot 50 sterk gereeld doen, kan hulle ingespan word teen die pom-pom-gevaar wat in pers golwe reg langs hulle groei.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online