Nie alle mense is sleg nie Print E-mail
News - Briewe
Monday, 22 February 2016 20:28
Untitled Document

Katie Delport van Bronkhorstspruit skryf:
Ek het platgeslaan gevoel toe my beursie met my hele pensioengeld en my goed in ’n winkel hier gesteel is. Helder oordag het hulle my aandag afgetrek en dit uit my handsak uit gesteel.

Maar wat later gebeur het, was vir my ’n riem onder die hart en ek wil dit deel. Daar is nog mense, wit en swart, wat omgee vir hulle medemens.

Ek is toe saam met my dogter na die bank om my gesteelde bankkaartjie te gaan stop. Terwyl ek my nare ondervinding vir die bankteller vertel, stop ’n wildvreemde vrou ’n handvol note in my dogter se hand en sê sy moet dit vir my gee. Ek het eers later daarvan gehoor en sal die vreemdeling ewig dankbaar bly.

Ons is toe na ’n kettingwinkel om my winkelkaart te kanselleer en toe ’n middeljarige swart vrou my storie hoor, sê sy, “toemaar tannie” en gee my ’n drukkie. Die vrou haal toe ’n R100 noot uit en gee dit vir my met die woorde; “Tannie het dit meer nodig as ek.”

Dit klink nie na baie nie, maar vir my het dit die wêreld beteken en het my laat besef dat nie alle mense sleg en gevoelloos is nie.

 

© 2020 Die/The Bronberger