Die hartseer en liefdes van Jakkalsdans se mense Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 25 January 2016 22:39
Untitled Document

Angie Kleijn

Die familie het vir 102 jaar lank nie geweet waar Hendrik Frederik Cornelis (Damara) Prinsloo van Jakkalsdans se graf was nie. Damara, wat in die Engelse oorlog gesneuwel het, se kleinseuns, Piet en Jan van der Walt, het dié graf in Julie 2002 eers gevind.

Piet vertel vir ons die verhaal wat dié soektog vooraf gegaan het, van die weduwees en wese wat ná die oorlog noord van Cullinan agtergelaat is en verduidelik hoe Brandbach, Jakkalsdans, Papkuilfontein en Rietfontein se mense soveel kere onder mekaar getrou het dat sy oupa se skoonpa ook sy swaer was en sy ouma se stiefma haar skoonsuster geword het.


Martha Louisa (gebore Prinsloo, néé Malan) Jordaan in 1926. Sy was Damara Prinsloo se suster en Miemie se skoonsuster en later stiefma
Foto’s: Piet van der Walt-versameling

In November verlede jaar het ons geskryf oor die vele verhale agter die plaas Brandbach se naam. Ons het vertel dat die Voortrekker Daniël Malan hom in 1849 op die plaas gevestig het.

Daniël Malan is in 1799 in Kaapstad gebore. Hy was die seun van Jacob Malan en Cornelia, ‘n nooi Mostert. Daniël is met Margaretha Johanna Susanna van Niekerk getroud.


Miemie se ouers, Daniël Cornelis Malan en Maria Johanna, ‘n nooi Steenkamp. Ná Maria se dood het Daniël met Martha Louisa Prinsloo, die suster van sy dogter Miemie se man, Damara Prinsloo, getrou. Dié foto is in 1894 in Pretoria deur J Perrin van Barberton geneem

Ná Damara se dood is Miemie met Paul Stephanus Duvenage getroud
.
.
.
.
.
.


Piet se ma, Kotie Prinsloo, Bethal, 1918
.
.
.
.
.
.
.

Brandbach
Daniël en Margaretha het in 1838 met die Groot Trek vanaf Swellendam getrek en het ongeveer in 1850 op Brandbach begin boer. Ons verhaal gaan oor een van hulle seuns, Daniël Cornelis, se afstammelinge.

Daniël Cornelis Malan, Piet se oupagrootjie, is op 18 Julie 1835 in Swellendam gebore en het in 1860 met Maria Johanna Steenkamp getrou en agt kinders, twee seuns en ses dogters, saam met haar gehad. Hulle het vanaf 1868 op die plaas Rietfontein, 2 522 morge groot, aangrensend aan sy pa se plaas Brandbach gewoon.


Piet se pa, Loe van der Walt, Yzervarkfontein, Bethal, 1915

Maria is in 1875 oorlede en Daniël het in 1877 ‘n tweede keer getrou, dié keer met Martha Louisa Prinsloo. Hulle het 11 kinders gehad, drie seuns en agt dogters.

Martha Louisa was Damara Prinsloo, se ouer suster. Die Prinsloos het op Jakkalsdans, noord van Onverwacht en De Tweede Spruit, tussen De Wagensdrift en Sybrandskraal, gewoon.


Grafkelder met oorskot van Boerekrygers

Dorslandtrek
Dit is dié Prinsloos wat aan die Dorslandtrek deelgeneem het. Hulle het Jakkalsdans in 1876 aan ‘n Van Rensburg verkoop om hulle Dorslandtrek te begin. Piet vertel dat sy oupagrootjie Malan ná so drie dae ingespan het en vir Martha Louisa Prinsloo gaan haal en terug gebring het.

Hulle is getroud en het op Rietfontein gebly waar Martha Louisa na 19 kinders omgesien het: haar elf eie kinders en agt stiefkinders. Toe oupagrootjie Malan oorlede is, het Martha Louisa weer met Ezaias Engelbertus Jordaan getrou.

Piet se ouma was een van Martha Louisa se stiefkinders, Maria Johanna (Miemie) Malan. Miemie is op 13 Oktober 1866 gebore en was die vyfde kind uit Daniël Cornelis Malan se huwelik met Maria Johanna Steenkamp.

As kind reeds het sy vir Damara Prinsloo op die buurplaas Jakkalsdans geken. Damara is egter as sestienjarige saam met sy gesin op die Dorslandtrek weg.


‘n Ouer Loe in 1966 by een van sy boormasjiene

Tragies
Vir dié Prinsloo-gesin was dit ‘n tragiese trek. Damara se pa, Hendrik Frederik Prinsloo, en sy ouer suster, Hendrika Frederika, se man Barend Jacobus, ook ‘n Prinsloo, is op die trek oorlede en die Prinsloos het besluit om na die Pretoria-distrik terug te keer.

Met hulle terugkeer het Miemie se pa besluit om sy skoonma, Maria Sibella, en sy skoonsuster, Hendrika Frederika, te gaan haal. Hulle het op Rietfontein op die wal van die Malanspruit gaan woon.
So het Damara en Miemie weer ontmoet. Hulle is in 1884 getroud en het op die aangrensende plaas, Papkuilfontein 575 (800 morge groot), gewoon. Hulle is geseënd met ses kinders, waarvan een Piet se ma, Jacoba Margaretha (Kotie) Prinsloo, was. Kotie is op 28 Julie 1892 gebore.


Een van Loe se boorgatpamflette, 1934

Damara se troue met Miemie het beteken dat sy skoonpa, Daniël Cornelis Malan, ook sy swaer geword het, weens Daniël se tweede huwelik met Damara se suster, Martha Louisa Prinsloo.

Miemie se stiefma was nou ook haar skoonsuster. Kinders uit Daniël Cornelis se tweede huwelik was nou ook ooms, tantes en niggies van Miemie se kinders en dit was moeilik om kop te hou met al dié verbintenisse.


Piet se pa, Loe van der Walt, het Brandbach se eerste boorgat met so ‘n ou ysterwiel-stoommasjien gesink

Oorlog
Die Engelse Oorlog het in Oktober 1899 uitgebreek en Damara het by die Pretoriase kommando aangesluit. Hy is op 24 Januarie 1900 by die Slag van Spioenkop gewond en het op 26 Januarie 1900 in die Clydesdale veldhospitaal gesterf.

Miemie het nooit die voorreg gehad om Damara se graf te besoek nie. Die plek van sy graf was vir meer as ‘n eeu aan sy familie onbekend tot sy kleinseuns Jan en Piet die graf in 2002 naby Spioenkop gevind het. Sy stoflike oorskot is in 1979 in die gesamentlike grafkelder van die Burgergedenkteken op Platrand, Ladysmith, herbegrawe. Sy naam verskyn op die ererol wat in die kluis weggesluit is, asook op een van die gedenknaalde.


Piet se ouma Maria Johanna (Miemie) Prinsloo, gebore Malan

Konsentrasiekamp
As 35-jarige weduwee is Miemie en haar ses kinders, tussen die ouderdomme van vier en 16 jaar, op 10 Junie 1901 in die Irene konsentrasiekamp opgeneem en Papkuilfontein is afgebrand.

Miemie het binne die bestek van twee weke in Julie 1901 drie van haar kinders verloor. Maria Johanna (16 jaar), Hendrik Frederik (11 jaar) en Magrieta Maria (vier jaar) is in die kampkerkhof op Irene begrawe.

Miemie het vir elke kind se graffie ‘n handgekerfde blouleiklip grafsteentjie laat maak. Dié drie grafsteentjies is in 1958, toe die kerkhof heruitgelê is, saam met die ander grafstene aan die mure vasgeheg. Die kinders se name en sterfdatums verskyn ook op die granietnaamrol en op twee van die gedenkstene.


Jan Louis (Loe) van der Walt, regs agter, ontmoet aanstaande skoonfamilie voor sy 1919 troue met Kotie Prinsloo
.
.
.
.

Miemie en Damara se drie oorlewende kinders: Johanna, 13, Kotie, 15, en Meraai, 19, by Miemie se stiefkinders, die Duvenages: Jan George, 15, Maryna Catharina Johanna, 13, en Anna Jacomina. Die baba Maria Johanna (Malie) Duvenhage, twee jaar oud, is Miemie se kind uit haar tweede huwelik
Foto: SA Newman, 1907

Kroniek
Tien briewe wat Miemie tussen September en Desember 1901 uit dié kamp geskryf het, is vir meer as 106 jaar lank bewaar en aan die Voortrekkermonument se argief geskenk. Dié briewe en Piet se navorsing is deur Piet se skoonsuster, Marie van der Walt (sy broer Jan se vrou), in 2008 in ‘n kroniek saamgestel – ‘Irene Konsentrasiekamp, 1901–1902, Die verhaal van Maria Johanna Prinsloo (gebore Malan)’. Dié dokument is aan die Erfenisstigting oorgedra.

Miemie en haar drie oorlewende kinders, Maria Isabella (Meraai), 19, Jacoba Margaretha (Kotie), 15, en Johanna Petronella, 13, is op 12 November 1902 uit die Irene Konsentrasiekamp ontslaan.


Loe van der Walt, links, met sy seuns, Bokkie, Baas, Boel, Daantjie en Piet in die 1960’s

Papkuilfontein
Hulle is terug Papkuilfontein toe en Miemie is in 1903 ‘n tweede keer getroud, die keer met Paul Stefanus Duvenage. Miemie en Paul het nou sewe kinders gehad: Miemie se drie oorlewende kinders; haar Duvenage stiefkinders: Jan George, 15, Maryna Catharina Johanna, 13, en Anna Jacomina; en die nuwe baba, Maria Johanna (Malie) Duvenhage, wat uit Miemie en Paul se huwelik gebore is.

Tragedie het weereens in Miemie se lewe toegeslaan. In Oktober 2015 het ons geskryf dat die 15-jarige Jan George en die 13-jarige Cathrina Johanna Duvenage in 1907 deur weerlig doodgeslaan is op die plaas Papkuilfontein. Miemie en Paul het nog tot in 1910 daar gebly, toe hulle die plaas vir 650 pond aan William Macaulay verkoop het.


Kotie en Loe van der Walt in 1966 by ’n boormasjien in Pretoria

Kotie
Miemie se dogter Johanna is met AJJ Brandt getroud, Meraai is met SA Newman getroud, en Kotie, Piet se ma, is op 22 April 1919 op Bethal met die 26-jarige, vrolike en aantreklike Jan Louis (Loe) van der Walt getroud.

Loe was sedert 1911 ’n waterboorkontrakteur wat waarskynlik in 1918 die eerste boorgat op Brandbach gesink het.

Loe is op 1 Januarie 1893 op Petrusville gebore as die seun van Jan Hendrik van der Walt en Johanna Maria Sophia (Hannie) du Plessis. Loe en Kotie het vyf kinders gehad: Jan Hendrik Prinsloo (Ouboet/Bokkie), Hendrik Frederik Prinsloo (Baas), Jan Louis (Boel), Daniël Cornelius (Daantjie) en Petrus Albertus (Piet).


Piet van der Walt wys na sy oupa Damara se naam op die Burgergedenkteken by Platrand, Ladysmith

 

© 2024 Die/The Bronberger