Jy kan op hulle knoppie druk Print E-mail
News - Rubrieke
Tuesday, 11 November 2008 08:10
Untitled Document

Breytie Breytenbach

Die afgelope drie maande het Boschkop se span reserviste saam met gemeenskapslede en sekuriteitsmaatskappye deel gehad aan meer as 200 arrestasies. Hoe meer reserviste daar is, hoe meer effektief kan ons pogings wees om ’n veilige gemeenskap te vorm. Die SAPD kan net werklik suksesvol wees as die gemeenskap ten volle saamwerk. In ’n misdaadseisoen soos dié tyd van die jaar, is gesamentlike pogings van onskatbare waarde.

As jy dit oorweeg om aan te sluit by die reserwemag van die polisie, kan jy gereed maak vir ’n tyd van opleiding. Sewe Saterdae en Sondae in ’n ry sal dit van jou vra vir die eerste fase teoretiese opleiding. Maak voorsiening dat daar ook onaangename ervarings wag, soos pepersproei in jou oë.

Na die teoretiese opleiding sal jy onder die uiters bekwame leiding van Insp. Francois Nolte en ander lede van Boschkop SAPD se Misdaadvoorkomingseenheid leer hoe om op ’n gedissiplineerde en doelgerigte wyse die ongelukkige kant van die lewe te verstaan, te bestuur en te versag vir hulle wat daarin vasgeloop het. Insp. Nolte se aansteeklike passie om te dien en sy respek vir bevelvoerders sowel as die publiek word vinnig deel van ’n nuwe reservis se mondering. As jy wil fokus op die beskerming van jou eie woonbuurt, word jy ’n Kategorie D reservis. As jy by meer as dit betrokke wil wees, kan jy ’n Kategorie A reservis word met volle status van ’n polisiebeampte.

Met tyd sal jy ontdek hoeveel daar vir jou is om te doen. Die impak wat jy maak, kan die lewe van individue verander. Jy kan ook gemeenskapspatrollies help om ’n sterker boodskap na die kriminele te stuur. Die mag om mense in hegtenis te neem en te verwyder, maak van jou ’n toevlug vir jou eie mense en bemagtig hulle om nie soos uitgelewerde slagoffers te voel nie. Jy is naby genoeg aan hulle om beskerming te verleen met die mandaat van die land se polisiemag.

Hier in jou eie woongebied is daar geleentheid om mense by te staan in hulle oomblikke van verskrikking, soos ’n vrou se ontdekking van haar man se lyk in sy verfrommelde motor. Of jy kan help om mense te red van hulle eie sotheid, soos om ’n dronk man te verbied om verder te bestuur.

Jy kan na die skadukant van sogenaamde vermaaklikheid gaan soek en dit na die lig bring, of jy kan die bedreigings wat in die nag rondsluip gaan opspoor en elimineer. Dalk het jy eerder ’n passie om mense by te staan wat onregverdiglik vergeet word, soos slagoffers van geweld wat nie antwoorde kry op hulle baie vrae nie.

By watter aspek van die gemeenskap se nood jy ookal wil betrokke raak, die geleentheid bestaan en is voortdurend beskikbaar. Jy hoef nie oorhaastig besluite te neem oor ’n eenmalige aanbod nie. Neem jou tyd en dink goed na oor wie jy graag wil wees en oor watter dinge vir jou werklike betekenis het. Ondersoek alles waaraan jy jou vrye tyd bestee om uit te vind hoeveel innerlike bevrediging dit jou gee en watter soort mens dit jou laat word.

Om aan te sluit by SAPD Boschkop se wenspan reserviste, kontak Leon Poolman by 083-307-5252.

Vir meer inligting, kontak Breytie Breytenbach by 012-802-1532.

 

© 2024 Die/The Bronberger