Kaaplandse draai saam met Vreethans en Metgesel PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 25 January 2016 20:38
Untitled Document

As ek en Metgesel die vakansiepad vat, is dit nie ‘n dolle en uitmergelende gejaag eindbestemming toe nie. Trouens, gewoonlik is daar selfs nie ‘n vaste bestemming nie – net die ontdekking en ervaring wat ons reis ‘n rigting in, met hom saambring.

Die afgelope wegbreekslag was dit wel ‘n bepaalde rigting in en dié keer ook, as uitsondering, met die gewone, besige hoofweë langs, Kaapland toe. Maar ons het die pad langsaam geloop. Ons het afgedraai, stilgehou, in dorpies loop draai en ingeval by kuierplekke, kykplekke, koopplekke, lekplekke, oorslaapplekke en eetplekke. Ek deel net enkele van ons Desember-ervarings:


Die vet slagter van Ventersburg se padkospasteie

By ‘n vulstasie op Ventersburg, waar ons die dieselvlak van Metgesel se Moembaai Taxi aanvul, sien ek ‘n yslike kennisgewingbord ‘n entjie weg staan: ‘The Fat Butcher. Moerze lekker biltong,’ sê die bord met ‘n pyl wat in ‘n dwarsstraatjie afwys.

Vannaand wil ons oorslaap op Praalhoek, ‘n plaas tussen Trompsburg en Smithfield, en ek besluit terstond dat ons die braaiplek wat Praalhoek se mense adverteer, gaan benut. Met die intrapslag storm die ‘fat butcher’ op my af. Hy is nie vet nie en hy praat nie Engels nie, maar Afrikaans. Dié praat hy soos ‘n kettingsaag: “Is-dit-die-eerste-keer-wat-jy-hier-kom-waar-het-jy-van-ons-gehoor? Proe-‘n-bietjie-hier, net-geel-vet-biltong-en-hier-is-van-my-droëwors-en-probeer-ons-oxtail-paai-verkoop-amper-beter-as-die-biltong-hoeveel-wil-jy-hê. . ?


‘n Koue groenkoeldrank by Dot se Winkel op Hanover

Nou eet Metgesel mos nie soogdiere nie en ek druk die kousel in die kies en vra vinnig toe die man ‘n slag afskakel vir asem: “Hou jy hoender aan?” Die uitdrukking op die ou se vriendelike bakkies verstar. “Nee,” sê hy. “Net vleis.”

Ek is daar uit met biltong (heel gaaf, maar in ons kontrei kan jy beter kry) en ‘n hemelse beesstertpastei – ek het lankal gewonder hoekom niemand dit maak nie en nou wonder ek eers. Die hoender vir die braai op Praalhoek het ek oorkant die snelweg by die plaaslike Spar loop aankoop.


Fleskoffie op Richmond

Die selfsorg-oorstaning op Praalhoek was aangenaam en heel gerieflik. Verlate en leeg, is dié skaapwêreld en bitter droog, maar oop en mooi op sy eie manier – en stil. Hulle noem die oornagplek ‘Memory Ranch’ en dis jammer dat die mense die pragtige plaasnaam blykbaar gering ag.

Dagbreek kies die koers ons verder suidwaarts. Langsaam, soos ek gemeld het en met heelwat se afdraai en stilhou. Ons swenk regs vir ‘n weerkyk by Hanover in. Ons koop ‘n baie koue groenkoeldrank by Dot se Winkel, geniet dit in die koelte van ‘n ou peperboom dig by Trappieskop en loop ‘n leegmaak- en lafenisdraai by die netjiese ou Hanover Hotel. Vir my is Hanover so Karoodorp as wat jy maar kan kry.


Die uitsig vanaf ons oornagplek op Praalhoek

Op Richmond oorweeg ons dit om ‘n boek of twee aan te koop, maar die boekplekke van die boekedorp blyk toe te wees vir ‘n hittepouse. Trouens, al lewe dié dag in die mooi dorpie, is bo teen die grootpad by die vulstasie. Ons drink fleskoffie onder ‘n koelteboom in die verlate hoofstraat en bewonder die baie mooi en ou geboutjies.

Terug op die N1 wonder ek of al die vragmotors in Suidelike Afrika nog die pad met ons sou deel as die spoorweë van die land gewerk het soos dit behoort te kan werk. Dit is ‘n senutergende deel van ons reis, maar ons beweeg sonder voorval en te veel moeite deur Beaufort-Wes. Ons mik vir Prins Albert.

Op Leeu Gamka ervaar ons vriendelike diens by die vulstasie neffens die grootpad en besluit om die spoor oor te steek die eens roemryke dorpie in. Hier het die langste soldaat in die Britse besettingsleër, ene Schultz (nogal), die laaste Kaapse leeu van die gras afgemaak voor ene Schultz self hier gesneuwel het en begrawe is – karma?


Op die werf van Karoo Khaya

Die plekkie is vervalle en grootliks verlate. Toe die treine nog geloop het, soos hulle behoort te kan, was hier ‘n stasie en dorp van formaat. Metgesel is die enigste winkel in vir iets, terwyl ek bene langs die voertuig rek en verlangend na die ou hotel neffens die winkeltjie kyk. Dis baie warm en Prins Albert is mos nou net ‘n klipgooi naby.

‘n Kêrel kom stadig oor die lappie sukkelgras voor die ou hotel aangestap en groet met ‘n vriendelike bladskud. Hy wil weet wat ons dan hier maak? Waar ons vandaan kom en waarheen is ons op pad? En wat dit is wat ons doen daar waar ons vandaan kom en wat ons gaan doen daar waarheen ons op pad is en hoekom? Ek vertel en ek vra op my beurt. Ons gesels, want hy is duidelik honger daarvoor. Ek vra hom, met vooruitsigte van ‘n yskoue bruisdrankie voor die oë, of hy dalk weet of die kroeg oop is. “Nee dis so toe soos ‘n kleios se watsenaam,” sê die ou. En hy sal weet, sê hy, want hy is die eienaar. Maar dit was nie altyd so nie . . .


Ontbyt met Rosti by Café Photo Albert

Dit is ons eerste besoek aan Prins Albert en ons luier verstom deur die strate op soek na Karoo Khaya, waar ons gaan oorstaan. Dis die skoonheid van die omgewing, die dorpie en sy geboue en die skoon en die netjies van alles, wat ons verstom laat.

Karoo Khaya is op ‘n kleinhoewe aangelê en dis hier waar Megan en haar man, Pete, hulle droom lewe.


Prins Albert se Swartberge

Tien jaar gelede het hulle Kaapstad verlaat en hier kom bly. Hier leef Pete sy liefde vir organiese groente- en vrugteverbouing uit en is in sy vrye tyd die dorp se dokter. Megan leef haar kuns-siel uit in die dekor en atmosfeer wat sy in en om die blyplek geskep het. Dis stylvol, gerieflik en mooi en vriendelik hier. Selfsorgverblyf op sy beste met die opsie om Megan se verbeeldingryke etes te geniet.

Uniek aan Karoo Khaya is dat jy gevra word om asseblief die vars groente, kruie en vrugte in die groot tuine te pluk en te geniet. Ons het aanvaar en op die koop toe heelwat van Megan se voortreflike ingelegde lekkernye aangekoop. Ons besluit om twee nagte hier te vertoef en het ‘n paar Prins Albertse kuierplekke in dié tyd beproef.


‘n Billike burger by Villiersdorp se Kelkiewyn

Ontbyt by Café Photo Albert was ‘n belewenis. Ek wonder hoekom eetplekke in ons gebied nie Rosti op hulle ontbytspyskaarte sit nie. Dié brosgebraaide pannekoek van snipper-aartappel trou perfek met ‘n oordadige Engelse ontbyt, soos die mense van Café Photo Albert wel deeglik weet.

Die dorpie se Lazy Lizard is duidelik ‘n gewilde kuierplek onder inwoners. Gemoedelik sit groepies vriende oral agter koffie of bier om tafeltjies en speel. Ja, speel. Ek het twee wedstryde van krabbel, een van kaarte en twee van skaak getel terwyl ons ligte versnaperinge aldaar geniet het.


Die ou Houhoek Hotel se baie ou bloekomboom

By die dorpie se weeklikse kosmark op die pleintjie langs die museum, word veral behoorlik gekuier. Ek het nêrens waar ons iets ingeneem het op pryse gelet nie, maar by die markie koop ek ‘n billike porsie skaapafval teen ‘n onthoubare prys van net R35 aan. Metgesel koop by ‘n ander kraampie ‘n roosterkoek met hoenderkerrie teen ‘n ei aan. Ja, minder as ‘n appel én ‘n ei, teen net R20.

Ons ‘doen’ die asemberowende Swartbergpas tot op die kruin en terug en pak die 40 km terug N1 toe aan. Ek verstaan baie goed hoekom mense op Prins Albert wil bly. As jy nou weer Kaap se kant toe jaag, draai ‘n slag af, man, en loop kyk self.


Deel van die Botrivier Hotel se binnewerke

Ons kry Laingsburg nes ons hom laas gelos het en doen mee aan ‘n koffie en broodjie in die koelte van die vloedmuseum se bome, voor ons verder trek – bestemming, Botrivier.

Villiersdorp is sprekend van die Kaaplandse dorpe: Dis opvallend skoon en dis netjies op die besoedelde oog van ‘n ‘Gautenger’. Net buite die dorp draai ons af by Kelkiewyn. Slim naam vir ‘n kelderrestaurant, dink ek. ‘n Luggie roer moedig teen die hitte op die plek se stoep. ‘n Hamburger met ‘n baie goeie frikkadel, vir my en ‘n roosterbroodjie vir Metgesel, vriendelike mense en langsame diens.


Die uitsig vanaf ons blyplek op Botrivier

Die selfsorgplekkie op Botrivier wat hulle ‘Pool House’ noem, was vir die volgende tien dae ons basis. Van hier af het ons daagliks op ons verkenningstogte vertrek, meestal na stranddorpe en seeplekke en as die swemlus te erg raak het ons die plekkie se swembad benut. Ek dink soms net kinders en kranksinniges sien kans vir die koue van ‘n Kaaplandse seeswem.

Ons het te veel kuierplekke beproef vir my om oor elkeen iets te probeer kwytraak, maar ek wil tog melding maak van enkeles. Uiteraard het ons besoek afgelê by elke eetplek op Botrivier en het al drie na wense gevind. Die bekoorlike ou Botrivier Hotel se atmosfeer is gesellig, die mense gemoedelik en die kos voortreflik. Die hotel hou verskeie tuisgebroude vatbiere en natuurlik baie plaaslik verboude wyne aan.


Eetvertrek in die Hangklip Hotel

By die dorpie se baie ou stasie is ‘n plek wat hulle ‘The Shuntin Shed’ noem en wat sterk ooreenkom met Cullinan se Oppistasie. Dan spog Botrivier met ‘n Portugese restaurant, voorspelbaar genaamd Manny’s, maar die eienaar se naam is Johan Koens. Die Koense woon donkiejare in dié wêreld, vertel Johan Koens my later.

Waar ons op die stoep van sy plekkie sit, kyk ’n mens af op die hotel se kuierstoep. Johan Koens ken elke ‘local’ wat op daai stoep sit en hy vertel my ‘n ietsie oor almal. Die ou met die wit hoed is ‘n afgetrede magistraat en hy smokkel met alles waaraan jy kan dink. Dis die katvrou wat daar regs voor Piet, dis die ou wat soos Krismisvader lyk, sit. Sy kom gee elke dag die rondloperkatte kos en dan raak sy vreeslik aan’t suip . . .

Johan Koens se Manny’s maak gangbare garnale.


Piet is al weer laat vir die pikkewynvergadering op Bettiesbaai

Die geskiedkundige Houhoek Hotel bedien ‘n baie goeie bord kookkos op Sondae teen R95 en die Houhoek Padstal aan die oorkant van die pad verkoop die heel lekkerste kerrievis denkbaar.

Ons het in verskeie plekke gekuier kuslangs tussen Rooi Els en Franskraal, maar ons moet nou haas die pad huis toe begin vat. Daarom wil ek nog net die voortreflike koningklipvis en calamari en die rustige, ouwêreldse atmosfeer van die Hangklip Hotel noem. Sterk aan te bevele.


Dit was baie warm oor etenstyd op Stanford

Die terugtog vat ons deur Caledon op pad na die mooi roete bekend as die R62. Dis na ons mening ‘n baie beter reiskeuse met baie minder verkeer en veral vragmotors, tot op Colesberg.

Montagu is grafstil op ‘n Sondag. Met ons vorige besoek het ons dié mooi dorpie deeglik ‘gedoen’ – saam met ‘n magdom ander besoekers. Sondag, dink ek, is die regte dag om in Montagu te draai vir ’n dagbesoekie, as jy dalk iewers in die Kaap kuier.


Ons koelteboom op Barrydale

Slap regs, Barrydale binne en die rustigheid omvou ons ná ‘n manhaftige, dog vrugtelose poging om by ‘n toeristewip bo langs die grootpad ‘n ietsie te loop eet. Ons verken en ons hou van dit wat ons ontdek. Op die ruim erwe (hoewes) in die dorp word daar behoorlik geboer met wingerd, vrugte en olywe. In die hoofstraat, waar ‘n ossewa gemaklik sou kon omdraai, hou ons in die koelte stil vir ‘n koelsakdrankie.

Die vriendelike Engelsman met die Italiaanse restaurant in die mooi ou gebou neffens die pad waar ons staan, kom knoop ‘n geselsie aan. Hy is besig om reg te maak vir vanaand se oopmaak. Ongelukkig is hy nie nou oop nie, maar ons is welkom om sy geriefie te gebruik, sou ons wou. Ons wou en vat die pad tevrede en verfris verder. Die plan is om op Ladismith ‘n iets vir die innerlike te neem.


Toe net ‘ginger beer’ hier te kry

Iemand in Hermanus het gesê ‘n mens ry nie verby die bekende Ronnies Sex Shop sonder om hulle gemmerbier te koop nie. Die parkeerplek lyk soos ‘n gepakte inryteater van ouds. Ek loop links van die kroegkant na die winkeltoonbank en toe dit eindelik my beurt is, vra ek vir gemmerbier. Die toonbankmens kyk my aan asof ek vir dit gevra het wat in die winkel se naam staan en ek herhaal my versoek – stadig. “Oh, you mean ginger beer?” sê sy. Gemmerbier, ja sê ek en toe sy kortaf antwoord dat ek die ‘bar’ moet ‘try’, maak ek ‘n omkeer en skud die stof van Ronnie se padwinkel van my voete af.

Koffie vir Metgesel en ‘n melkskommel vir my, terwyl ons wag op ons roosterbroodjies by Annie’s op Ladismith. Nog koffie en twee koladrankies later, wag ons nog. Ek dink ons sou dalk nou nog gewag het, as ons nie ná meer as ‘n uur besluit het om maar die aftog te blaas nie. Die bestuurder van die plekkie maak verskoning en sê sy sal die saak met die eienaar opneem . . .


Vogelsang op De Rust se kamerstoep

Uiteindelik eet ons padkos onder ‘n reuse bloekom langs Calitzdorp se kerk. Ons ‘doen’ die port-hoofstad en vat die pad deur ‘n amper verlate Oudtshoorn met die oog op ‘n uitspanning en oorslaap op De Rust.

By Ray’s aan die hoofstraat van De Rust se suidekant, geniet ek die koudste, lekkerste appelbier ooit en ek volg dit op met nog een. Ons vra vir Ray oor oornagplek en hy waarsku dat hoendertande ‘n mooi een is. Almal slaap deesdae op De Rust, sê hy. Ons bel die nommers wat Ray gee, en alle herberge is, soos hy gewaarsku het, vol. Een gawe herbergier gee my ‘n nommer van sy vriend Piet Schoeman, wat moontlik ‘n oop plekkie mag hê.

Ons kry plek by Piet Schoeman se Vogelsang op die plaas aan die noordekant van die hoofstraat. Die pragtige ou opstal se buitegeboue is in oornagplek omskep. Later op die stoep vertel Piet ons die ware geskiedenis van De Rust.


Die aanwysing na die draailoopplek by Scheurfontein naby Beaufort Wes

Kortliks: Altwee sy oupagrootjies se plase, was dit en dis hulle wat die erwe vir die dorp uitgesit het. Die Meiring het vroeër deur die poort aangestap gekom met sy bondeltjie oor sy skouer, by die vorige eienaar begin werk en ná sy dood met sy weduwee, getrou.

Piet en sy broer boer nog op die oorspronklike plaas, De Rust – deesdae grootliks met groentesaad omdat die volstruisbedryf half in sy peetjie gegaan het, vertel hy.

Laatmiddag loop eet ons by Herrie se Plek, ook in die hoofstraat. Buite in die tuin sit ons en ons is die laaste klante vir die dag. Hulle sluit die voordeur en die hek wat na die sypaadjie lei en in die volgende uur of wat pla tientalle verbyganende, honger toeriste ons om oop te maak – asseblief. De Rust het loop rus vir die dag en alle eetplekke blyk toe te wees. Ek geniet my tweede beste koningklipvis vir die vakansie by Herries.


Kennismaking by Drie Susters se padstal

Nou loop die woordtelling ver oor die begroting en ek sal moet afsluit. Ons is deur die asemrowende Meiringspoort, het ‘n uitsonderlike draailoopstop by Scheurpoort se  padstal gedoen en by Drie Susters se baie groot padstal ‘n hemelse Karoolampastei ingewerk en ‘n volstruiswyfie ontmoet. Probeer gerus die pastei as jy weer daar verbybeweeg. Metgesel was ewe tevrede met haar toegedraaide hoendergedoente.

Op Trompsburg het ons by ‘The Fox’s Den’, heel skaflik en skoon, oornag, maar ek kon nie help om te wonder of die mense in dié jakkalswêreld dan nie weet Suid-Afrika het nie vosse nie.
En die volgende dag is ons langsaam en tevrede terug tot in Bronbergland. . .

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online