Moenie ‘n vlieg vlak vat nie, sê Gert Mossie. Hy kyk oor die rand van sy Duitse bruisdrankie hoe Allen Prentjies met sy opgerolde koerant vrugtelose sirkels swaai agter ‘n lastige kroegvlieg in die kuiergat aan.
Jare se bittere ervaring en haarfyn waarneming het hom tot die duidelike gevolgtrekking gebring, sê Gert, dat ‘n vlieg eintlik ‘n soeperslim wese is. En hy kan jou gedagtes lees.
‘n Vlieg weet dinge wat ‘n mens nie sal weet ‘n vlieg kan weet nie en hy weet goed dat jy nie weet hy weet nie, sê Gert. Daarom buit hy dit uit om wraak op sy gasheer, die mens, te neem en om jou geduld te toets en jou siel om elke draai kaal uit te trek.
Kyk nou maar byvoorbeeld, sê Gert Mossie, wat gebeur as ‘n gevegspeloton van die goed soos die Taliban op jou toesak: Jy swaai met jou arms soos ‘n dronk dirigent om hulle te verwilder, maar elke keer kom hulle net weer terug met ‘n volgende verwaande aanval.
En die pelotonleier kom sit soos klokslag mooi netjies op jou neus se punt. Hy kom sit daar want hy weet, as jy klap, is hy lankal weg, hy wen die geveg en hy los jou met ‘n bloedneus of erger. Slim, sê Gert – slim, uitgeslape en aspris.
Maar wat gebeur, vra Gert, as jy net begin om jou hand uit te steek om die vlieëplak of die blik Doem nader te trek? Hulle verdwyn soos beesmis uit ‘n weiveld in ‘n Wes-Transvaalse winter. En jy kan nou maar daar sit en wrede wraak sweer met jou ou blikkie Doem in die vuis totdat Groot Piet eendag dalk sou besluit om ‘n rondte te koop, die vliegspan sal eers weer opdaag as jy gedwing word om daai Doemblik, weens ‘n kramp in die hand, ‘n slag neer te sit. Hulle weet . . .
Die stomme Allen Prentjies staan met sy koerantwapen geen kans teen vlugsersant Van Vlieg nie, sê Gert Mossie. Die vlieg speel met ou Prentjies soos ‘n kat met ‘n muis sou doen. Kyk net hoe wip hy in die koerantwind verby en hoe gaan sit hy daar op die brandewynbottel om sy handjies hier voor sy oge teen mekaar te vryf – so al of hy sy volgende aanval beplan en dit verskriklik geniet.
“Gumff,” sê Groot Piet-in-die-hoek. As daai vlieg dan nou regtig so slim is, sal hy hopelik die stories oor vandag se toedrag van sake in die land, sommer so in die verbyvlieg in Allen Prentjies se koerant lees en dan terstond aan sy einde kom deur aan erge depressie te vrek . . . , sê Piet. |