Nuwejaar soos voorsate gevier dat dit klap PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 25 January 2016 22:29
Untitled Document

‘n Tradisionele Nuwejaarsfees met aktiwiteite vir jonk en oud is op 1 Januarie by die Pioniersmuseum in Silverton gehou. Caroline Griessel, gids by dié museum, vertel hoe die fees afgeloop het.

Caroline Griessel

Daar was ‘n effense benoudheid met die reëlings vir die 2016 Nuwejaarsfees. Verlede jaar se fees het uitgereën, maar wie sou nou die reën, wat al van Oktober af getalm het, vanjaar wou wegwens.

Ons stoutste verwagtings is egter oortref en ons kon die nuwe jaar soos ons voorsate ingaan. Die gewoonte het jare gelede ontstaan toe vriende en families op Nuwejaarsdag saam gekuier en aan sport en pretkompetisies deelgeneem het.


Oupa Eddie Jansen ontvang ‘n prys van Maxie Potgieter van die ATKV Jakaranda-tak

By die Pioniersmuseum word die Nuwejaarsfees sedert 1977 gevier en vanaf 1999 word ons deur ‘n paar ATKV takke bygestaan. Ons sou nie die fees sonder lede van die Jakaranda- en Aksie en Woordvreugde-takke kon aanbied nie.

Voor 6 uur het die mense al hulle kraampies begin staanmaak. Net na 7 uur het ons eerste besoekers hulle verskyning begin maak met gazebo’s, piekniekmandjies en braaigoed. Die musiek het net na 8 uur begin.


Dié sweep is so vinnig geklap dat dit moeilik was om hom op kamera vas te vang

Boeresportaktiwiteite is deur ATKV lede aangebied. Die paddaspringkompetisie was eerste aan die beurt en jonk en oud het tougestaan om Roelf se houtpaddas aan ‘n tou te laat spring.

Daarna was dit ballongooi, wat eintlik die moderne weergawe van eiergooi is. Ons hou mos nie daarvan om met kos te mors nie. Die sakresies en toutrek is goed ondersteun.


Tuisgebakte brood word uit die tradisionele bakoond gehaal

Medaljes, waarop veral die kinders baie trots was, is aan die wenners van die eerste drie plekke oorhandig. Daar was ook pretkompetisies met pryse: Die jongste baba, oudste ouma, Nellie Wessels, en oupa, Eddie Jansen. Oom Frik Ackermann, die sweepvlegter, is ver in sy tagtigs maar het ewe ordentlik uit die kompetisie gebly. 

Die grootste familie was die Van Stadens met 24 familielede wat die Nuwejaarsfees bygewoon het. Die naaswenners was die Koekemoers met 18 familielede en die derde plek is gedeel deur drie families van 15 – die Esterhuysens, Buyse en Du Plessis.


Die Nuwejaarsfees se paddaspringkompetisie

Dan was daar ook vrae gevra en mense moes die antwoorde by gidse geklee in drag uit die 1840’s gaan kry:
Wat beteken die woord ‘Ditsong’? Dit is die Setswana woord vir kultuur en erfenis.
Wanneer is die Pioniershuisie aan die Stadsraad van Silverton geskenk? Dit was in 1961.
Deur wie is die huisie geskenk? Deur Johanna Louisa Mundt.
Wat was die naam van die Moreletaspruit voorheen gewees? Die antwoord is die Rademeyerrivier.


Die Nuwejaarsfees se paddaspringkompetisie

By die nuut gerestoureerde Pioniershuisie moes die gidse behoorlik bontstaan om skaapwagtersnye te sny sodat die kopers dit self met botter en konfyt kon plak. Toe die volgende baksel warm brood uit die tradisionele buite-bakoond verskyn het, is heel brode sommer opgeraap om saam met braaivleis te eet.

By die pap en kaiings-kraampie het ‘n span saamgewerk om die ongeduldige publiek te bedien.


Die 31-jarige Francois Benade is die wenner van die wisseltrofee vir sweepklap

Die sweepklap-kompetisie was weer ‘n hoogtepunt. Om die struwelinge van die verlede te vermy, het die museum ‘n paar jaar gelede ‘n desibel-meter aangeskaf wat op ‘n driepoot gemonteer is. Die telling is geneem sonder dat die mense kon kla dat die beoordelaars iemand voortrek, en wenners is aangewys.

Daar is wel onderskeid gemaak tussen die moderne nylontoue en die tradisionele voorslae wat sorgvuldig voorberei en gestryk is. Vanjaar se wisseltrofee-wenner was Francois Benade wat die klankmeter met sy leervoorslag by 109.6 laat draai het.

Kyk gerus na die gesigsuitdrukkings op die foto’s. Ek besef net ons kan dankbaar wees dat niemand ‘n tong afgebyt het nie.


Vroue het ook aan die sweepklap-kompetisie deelgeneem

.

.
.

Sweepklap met ‘n groen tou terwyl die mense toeskou

Dis duidelik uit dié sweepswaaiers se gesigsuitdrukkings te lees dat jy moet konsentreer dat dit klap

 

© 2019 Die/The Bronberger