Só wil vroue die nuwe jaar beter maak PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 25 January 2016 20:25
Untitled Document

(1). Wat is jou wens vir jou en jou gesin vir die nuwe jaar? (2). As jy iets kon doen om die nuwe jaar beter te maak vir jou gebied, jou gemeenskap en die land, wat sou dit wees? Dit is die twee vrae wat ons aan vroue van die Bronberg-gebied gevra het. Hier is van hulle se antwoorde:


Sharon Oberholser van Zwavelpoort wens vir haar gesin liefde, veiligheid en voorspoed in 2016.
As sy iets kon doen om dinge in die land te verbeter in die jaar wat voorlê, sou sy die doodstraf terugbring vir ernstige misdade.

Sharon sê sy wil ook haar werksdienste verbeter en ‘n groter persoonlike bydrae in haar gemeenskap maak in die nuwe jaar.


Wilma Fourie van Kaalfontein bid vir haar gesin, vriende, familie en klante ‘n geseënde jaar vol liefde, vreugde, rykdom en veiligheid toe.

Wilma glo en vertrou dat dit ’n goeie jaar vir die sake-ondernemings waarby sy betrokke is, sal wees.
Haar woord en wens vir 2016 is ‘respek’. Dit loop volgens Wilma hand-aan-hand met alle waardes en kan sake soveel beter maak vir almal.


Anna Goosen van Zwavelpoort se hoop is dat die jaar minder gejaagd sal wees. Haar wens is dat daar in 2016 meer kuiertyd saam met familie en vriende sal wees.

As sy iets kon doen om die nuwe jaar beter te maak vir almal in die land, sou dit wees om meer verdraagsaamheid en mededeelsaamheid onder mense te vestig. Sy sal ook wil sien dat mense meer tyd vir mekaar sal hê.


Rina Willemse van Erasmuskloof se wens vir haar en haar gesin is om veilig en gelukkig in die nuwe jaar te wees. Sy sal sake van belang ook meer positief wil benader en hanteer en wil graag meer hulp en bystand gee aan mense wat dit nodig het, sê Rina.

Daar is volgens haar soveel verwaarloosde oumense en kinders in ons gebied en sy sou graag op enige moontlike manier wou help om hulle lewens gelukkiger te maak, al is dit byvoorbeeld net om eensame bejaardes geselskap te hou, of hulle uit te neem vir koek en tee.

Elke mens het tog iets om te vertel, sê Rina, maar min mense het tyd om te luister.

As dit binne haar vermoë was, sou sy ook graag die mense van die omgewing waar sy woon, geduldiger wou maak agter die stuurwiel van ‘n voertuig.

Om ‘n verskil in haar gemeenskap te maak gaan Rina hierdie jaar betrokke raak deur die stadsraad in te lig oor goed soos slaggate in die paaie, gebreekte verkeersligte en lekkende of stukkende waterpype. Sy het reeds met ‘ene Sakkie’ van die stadsraad gepraat en hy het haar gesê dit sal baie help as die gemeenskap op dié manier betrokke raak.


Alet Beukes van Cullinan se wens vir haar en haar gesin in die nuwe jaar is seën, voorspoed, genade en beskerming uit God se hand.

Op die vraag oor wat sy sal doen om die jaar beter te maak vir haar gebied, gemeenskap en die land sê Alet: “Wel, twee koppe is beter as een. Ek as mens kan nie veel doen alleen op my eie nie, maar kan wel baie vermag deur God wat in my is.”

Gebed, wat kragtig is, het ons almal tot ons beskikking, sê Alet. “Ek sê altyd: Met geloof in jou hart en hoop op jou knieë, is liefde die grootste geskenk wat ons vir mekaar kan gee. Gebed en liefde . . . dit is wat ek graag wil gee aan elkeen in ons land.”


Kleintjie Burger van Rayton sê sy en haar man se grootste wens vir hulle gesin in die nuwe jaar, is dat haar man vanjaar in ‘n vaste betrekking aangestel sal word. Dit sal groot gemoedsrus vir hulle bring.

Intussen wil hulle in 2016 voortgaan om by te dra tot ‘n beter en veiliger gemeenskap, deur mense wat in nood verkeer te help.

Kleintjie en haar man is nou betrokke by hulle gebied se buurtwag en met opheffings- en welsynwerk in die omgewing – Red.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online