Die taal wat ons praat PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Monday, 25 January 2016 20:17
Untitled Document

Welkom by 2016 se eerste Bronnie. Ook in hierdie nuwe jaar, ons 14e bestaansjaar, sal ons jou eie gemeenskapstydskrif na die heel beste van ons vermoë maandeliks aan jou bring. Dit, kan jy maar sê, is ons nuwejaarsvoorneme en ons -belofte.

Ons nuwejaarswens is dat ons, saam met ons adverteerders en lesers, voorspoedig sal voortgroei en ‘n positiewe verskil sal maak in die jaar wat voorlê.

Die Bronberger probeer sedert sy ontstaan in September 2002 om met en oor die mense van sy verspreidingsgebied te praat. Dié gebied dek veral die oostelike voorstede van Pretoria, van waar die Bronberg begin, en die landelike gebied en dorpies wat ten ooste daarvan lê.

Ons fokus sal in dié jaar bly op die landelike leefwyse en op die doen en late van die gemeenskap van ons kontrei. Ons bly verbind tot die bewaring van die ryk natuurskat in ons omgewing en tot die veiligheid en voorspoed van ons mense.

Partypolitiek, pornografie, haatspraak en ander ongewenste goggas sal nie in die nuwe jaar of ooit ‘n vastrapplek in die Bronnie gegun word nie. Nie terwyl ons die voorreg het om die uitgewers te wees nie.

Ons ontvang dikwels versoeke om meer Engels te gebruik en soms bitsige klagtes oor die Bronnie se voertaal grootliks Afrikaans is. As dit haalbaar was, sou ons graag ‘n afsonderlike tydskrif wou uitgee vir diegene wat net Engels kan lees, maar dit is nie.

As onafhanklike publikasie kon ons die besluit neem om grotendeels die taal van die (baie groot) meerderheid van ons lesers te gebruik. Ons kon besluit wie ons teikenmark sou wees, en ons hou daarby. In die proses is ons trots om te kan bydra om hierdie mooi taal in die land van sy oorsprong te help lewendig hou.

Ons is ook trots en dankbaar om nog ‘n jaar binne te kan gaan saam met die baie uitsonderlike groep mense wat ons bevoorreg is om ons adverteerders en lesers te kan noem. Mag die jaar vir ons almal vol seën wees.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online