So Grieks as wat maar kan kom PDF Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 22 December 2015 11:02
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Oor die jare van my en Metgesel se ‘vreetsame’ kuiers heen, het ons al Cullinan se kuierplekke gereeld besoek: Dié wat bly staan het en ook dié wat vergaan het, maar by een gewilde kuierplek kon ons nooit uitkom nie – of eerder, ‘inkom’ nie.

Dit is nie ons gebruik om vooraf by ‘n plek te bespreek nie, grootliks omdat ons op die ingewing van die oomblik besluit dis nou kuiertyd. En by Cullinan se ‘As Greek as it gets’ moet jy maar liewer bespreek as jy ‘n sitplekkie oor ‘n naweek wil hê.

Op dié betrokke Sondag kuier ons by Cullinan se bedrywige ‘Junction’ toe ek dit noem dat ons nog nooit by die dorpie se Griekse restaurant aangesit het nie. Die trein is hier en die kanse is baie skraal dat ons ‘n plek sal kry, sê ‘n Junction-vriend, maar hy sal gou bel en hoor. Hy bel en berig agterna dat daar jou wrintie vir ons ‘n binnetafeltjie oop is.


Tradisionele lamstjoppies en baie smaaklike beetskywe

“As-Greek-as-it-gets” sit aan die onderpunt van die dorpie se Oaklaan, wat op sy beurt ‘as-Cullinan-as-you-get’ is, kan jy maar sê.

Die voortuin van die ou klipskakelhuisie sit gepak. Op elke denkbare plek sit ‘n kuiergat, sou jy kon sê. Slap links, as jy by die voordeur in is, is ‘n knusse, keurige eetvertrekkie: Net ‘n paar tafeltjies en ons neem plaas by die enigste oop een.

Cullinan se Griekse plek het ‘n lywige spyskaart en die pryse sou deur baie ook nie juis as skraal gesien word nie. Maar so met die kuierslag saam sou ek sien en ervaar dat die geregte nie aan gehalte of gestalte ontbreek nie.

Hulle is groot op ‘Meze’, wat basies ‘n hele rits voorgeregte is wat deur Grieke en ander Mediterreense mense geniet word terwyl daar verwoed gekuier word. Jy kan dit stuk-stuk bestel of as ‘n deelbord saam met vriende eet.

Die meze-keuse is wyd. Slaaie, verskillende pita-brode, slakke, hoenderlewers, allerlei doopsouse en dan ‘n keuse van tien vegetariese meze-disse. Hieronder tel artisjok in ‘n lemoenjogurtsous, haloumi (gerooster of gebraai) met pepadew en geroosterde of diepgebraaide melitsana, (die Grieke is groot op eiervrug) teen R55.

Die vleis-meze bestaan uit souvlaki (sosatie) van hoender of bees, hoender-boureki (‘n eiesoortige Griekse pastei), of keftedes, wat ‘n Griekse frikkadel van soort is. Die pryse wissel tussen R69 en R90.
Meze-seekos is twee verbuigings van calamari (inkvis), mossels met knoffelsous en sardyne en kos tussen R59 en R90.

Jy kan ‘n meze-deelbord met allerlei en spanakorizo (rysgereg) bestel teen R160 per kop en een van seekos met onder meer garnale by, teen R295 vir twee mense.


Metgesel se calamari en dekadente tsatziki

Vier soorte voorgereg-deelborde vir vier of ses mense kan teen tussen R220 en R790 aangekoop word. ‘n Groot Griekse slaai vir ses mense kos R79 en een vir agt R89. Ek het ander mense se deelborde gesien. Dis mooi en ruim en gemeet aan die geesdrif waarmee ‘ander mense’ daaraan gesmul het, is dit lekker.

Vleisgeregte bestaan uit een van varktjops, vier van hoender en sewe van biefstuk (beeshaas (fillet) en T-been). Die pryse strek van R120 tot R195.

Die lam is ingedeel onder tradisionele Griekse geregte. En omdat ek weet die Grieke is ook groot op lamsgeregte, is dit waarop ek my aandag vestig. Later sou ek in my noppies wees met my keuse.

Seekosse bestaan uit ‘n verbeeldingryke keuse van calamari, stokvis of koningklip en garnale as dit beskikbaar is. Die pryse weeg in vanaf R130 tot R195. Jy kan ook ‘n seekos-deelbord vir twee teen R450 kry.

Metgesel besluit op die gebraaide calamari met aartappelskywe (glo my dis nie skyfies nie), slaai en tzatziki. Later bieg sy dat die tzatziki haar veral aangetrek het. Dis kwaai geknoffel, soos dit hoort, en ek belowe om ook daarvan te eet, sodat ons ewewigtige asems agterna kan hê.

Dit is koppies en dunkant-buise van die tjokka (calamari) en volgens Metgesel geurig en sag, selfs toe dit al effe koud geword het. Die porsies is ruim.

My drie lamstjoppe (ek onthou hoe hulle ons op skool probeer vertel het dis eintlik kotelette) van die tradisionele spyskaart af is lekker dik gesny. Ek kan onomwonde verklaar dat ek nie kan onthou dat ek al geuriger, smaakliker en sagter as dié ervaar het nie. Die beetskywe wat daarmee saamkom is ook iets om te wil ervaar.


Knus in die klein eetvertrekkie met ‘n volgepakte voortuin buite

Ek kry net so ‘n groot Griekse slaai soos Metgesel, met baie blare daarby. Anders as Metgesel los ek die meeste blare op die bord. My naam is immers Vreethans en nie Vreethaas nie.

Plek ontbreek, maar ek kan meld dat die nageregspyskaart ruim is en die wynlys uiteenlopend en goed gebalanseerd is. Goeie wyn is dit, nie goedkoop nie.

Ons het lekker gekuier en goed geëet by die Griekse plek op Cullinan, maar iets het gepla: Die eerste keer toe die eienaar in die voordeur kom staan en iets op ‘n kelner in die kombuis gil, het ek my byna in ‘n stuipe in geskrik. Daarna het dit gereeld en met wisselende venyn gebeur, maar altyd baie luid.

Jare gelede het ek dit in Griekeland ervaar dat Griekse eetplekke nogal hoog op die desibeltelling loop, maar ook gemoedelik daarmee saam is. Vriende wat die plek gereeld besoek, sê later dis maar soos dit daar werk en die kelners en gereelde klante raak – soos die kreef – gewoond daaraan.

Soos vroeër vermeld, bel eers om te bespreek as jy oor ‘n naweek wil gaan: 083-632-5364.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online