Lesers praat oor Kerskosse van vandag en gister PDF Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 22 December 2015 10:40
Untitled Document

Skaapboud, hoenderpastei en gerookte varkstuk (gammon) tel onder die smulgeregte waarna Bronnie-lesers met vanjaar se Kersete uitsien. Koekstruif en malvapoeding met muntstukke in is van die Kerskos uit die verlede waarna verlang word. Ons het drie vrae vir vanjaar se Kersopname onder ons lesers gevra: 1. Wat eet julle vanjaar op Kersdag? 2. Wat is jou gunsteling-Kersgereg? 3. Hoe onthou jy Kersetes uit jou kinderdae?


Marie Hattingh van Rayton sê vanjaar is dit net sy en haar man. Hulle moet ‘n diabetiese probleem in ag neem, maar ‘n skaapboudjie, romerige stroganoffie en hoenderpastei met groente, rys en slaai word oorweeg. Met nagereg gaan sy seker ‘oortree’ en ‘n koekstruif aandurf.

“So, niks besonders vanjaar nie, maar die geluk en liefde van ons twee bymekaar maak op vir al dit wat ons hierdie jaar nie het nie. Ons sal seker, DV, volgende jaar weer volledig op 'n ‘sprie’ gaan saam met al die kinders en kleinkinders,” sê Marie.

In haar familie bestaan daar een gereg wat sy male sonder tal maar weer en
weer kan maak en gevra word om te maak: Hoenderpastei.

Marie sê Kersete in haar kinderdae was ‘n ‘allemintige groot fees.’ Sowat ‘n 60 stuks familielede en vriende het by haar ouma Annie se huis by Marikana saamgetrek. Weke voor die tyd is die gebak reeds begin en sy onthou haar ouma se konfyt-tertjies wat in die koolstoofoond gebak is, sonder dat ‘n druppel konfyt ooit uitgeloop het.

Die Kersete was ampers in oorvloed, sê Marie. Koue vleise en slaaie dat die tafels kreun, maar niks ‘winkelkos’ nie – alles self en met sorg voorberei: Tuisgebraaide skaapboud, potgebraaide beesstukke, beestonge, plaashoenderporsies en varkboude. Hieruit kan mense die regte afleiding maak dat die Heystek-nageslag van Marikana groot vleiseters was, het Marie gesê.


Mariska Grobler-Nel van Die Wilgers sê hulle het nog geen idee wat vanjaar op die Kersspyskaart is nie, maar die kanse is goed dat daar gebraai sal word. Braaivleis saam met lekker slaai en natuurlik, poeding, is ‘n sterk moontlikheid.

Haar gunstelingkos vir Kersdag is koue skaapboud en ‘gammon’ en al die lekker slaaie.

Mariska onthou die Kersetes uit haar kindertyd op die gesin se stoep met al die lekker vleise, koue slaaie, kersklappers en natuurlik (weer) die poeding.


Gene de Lange van Bashewa onthou die Kersetes as tienerseun saam met die gesin by die hotel. Dit het gewoonlik begin met ‘n bord, nie ‘n hedendaagse bakkie nie, maar ‘n platterige bord met ‘soep’, nie sop nie, maar ‘soep’, sê hy.

“Volgende op die lys was ‘n porsie vis met ‘n suurlemoenskyfie en tartaarsous. Behoede jou siel as jy daai stukkie suurlemoen met die hande wil takel om die sappie op die vis te kry. Op een of ander manier moes die vismes en visvurk ingespan word.”

Dan was dit ‘n skyf of twee roostervleis van skaap of bees met sous en groente, sê Gene. Hy kan nie onthou dat slaai eintlik deel van die maaltyd was nie.

Poeding was koekstruif (trifle) met sjerrie, jellie en vla, gevolg deur ‘n kaasbord “van soort”.

Alles was netjies op die spyskaart getik. Nie gedruk of afgerol nie, maar met ‘n tikmasjien is die geregte op die hotel se ‘menu card’ aangebring.

“Dit was nogal ‘n feesmaal met net genoeg om die jong tienermaag te vul sonder om oorweldig te voel.

Alles is deur kelners aangedra na ‘n korrek-gedekte tafel met al die regte borde en silwerware in plek,” sê Gene.


Dot Els Chalmers van Centurion sê Kersete gaan vanjaar ‘n totale verrassing wees. Sy en haar man gaan deur Botswana en Namibië toer en weet nie waar hulle op Kersdag gaan wees nie. Hopelik is dit tussen die sandduine van Sossusvlei en sal hulle Kersete moontlik uit gemsbok-roerbraai of so iets bestaan.

Dot se gunsteling-kos op Kersdag is skaapboud en haar sus se aartappelslaai.

Sy onthou die Kersetes uit haar kinderdae op haar ouma se groot opstalstoep op die Kleinfontein-plaas. Die lang tafel is gedek en al die Els-kinders en -kleinkinders het aangesit om die Kersmaal te geniet. Sy kan onthou dat geskenke nie in daardie jare juis ‘n groot ding was nie, maar haar ouma se poeding met die muntstukke in was ‘n hoogtepunt,  sê Dot.


Melissa De Kock van Tiegerpoort het as kind Kersdag by haar peetouers op die plaas deurgebring. Sy sê Kersete is met al die ‘trimmings’ voorgesit. Sy onthou die geroosterde varkboud en beesstuk, hoender met groente, kapokaartappels en rys, maar haar gunsteling was by verre die Kerspoeding.

Haar peetma, ouma Thea, het blink vyfsentstukke in die poeding weggesteek. Die kinders het dan ‘n kompetisie gehou om te kyk wie kan die meeste muntstukkies kry. Die gevolg was natuurlik dat hulle heeltemal te veel van die poeding verorber het, sê Melissa.


Hennie Malan van Rayton sê hulle beplan deesdae nie meer so ver vooruit nie, maar daar sal seker weer skaapboud met bruin geroosterde aartappels, groente en ‘n warm poeding op die Kerstafel wees.
‘n Oondgebakte skaapboudjie met aartappels daarby, groenbone met spek, pampoen met uie en rys is maar hulle gunsteling. Nagereg kan net souskluitjies wees, sê Hennie.

Jongtyd was hulle gewoonlik ‘n groot groep mense en kinders saam met Kersfees. Die tafels het gekreun onder die gewig van geregte soos skaapboud, kalkoen en beestong met groente te kies en te keur en as jy jou bord nie leeg-eet nie, word jy gedreig dat jy nie poeding sal kry nie: doekpoeding met ‘charms’ of tiekies in en ‘n heerlike soet brandewynsous daarmee saam, onthou Hennie.

“Die nag voor die groot ete is daar min geslaap, want jy het aaneen probeer om met een oog vir Kersvader te vang. Maar ai, hy was skelm. Nie een van ons kon hom ooit vang nie. En die bewys dat hy daar was is in die kous op die katel se voetstuk of onder die bed.

Kersoggend is almal saam kerk toe. Terwyl die tannies kosmaak en die ooms op die stoep sit en rook, speel ons klompie 'n hond uit 'n bos – so lekker, daar is nie eers tyd vir baklei nie,” sê Hennie.


Elsa Blom van La Montagne se dogters en drie kleinkinders kom vanjaar van die Kaap af om saam met hulle Kersfees te vier. Hulle beplan om koue vleise en slaaie te geniet met ‘n garnaalkelkie as voorgereg en ‘n nagereg waarop nog besluit moet word.

Hulle wil graag die kinders leer dat Kersfees nie net persente kry is nie, maar eerder daaroor gaan om te gee. Daarom het hulle die name van 10 behoeftige bejaardes gekry en gaan op 24 Desember as gesin vir hulle Kersgeskenkies vat.

Kersdag gaan haal hulle Elsa se ma by haar aftreeoord en gaan die gesin kerk toe voor hulle by familie in Johannesburg gaan eet. Sy sê dis die samesyn en kuier wat elke ete besonder maak in dié tyd.

Elsa kom van Nederland af en sy onthou die geselligheid met die Kersster en Kersboom in die venster. Die gesin en familie kuier saam om die tafel met ‘n vleis- of kaas-fondue en gaan wandel daarna om na al die huise se mooi verligte vensters te kyk.

Geskenke het hulle in Nederland reeds op 5 Desember by Sinterklaas gekry sodat Kersfees familietyd was.

Elsa sê hulle lees altyd die Kersverhaal voor ete en voel dankbaar dat hulle bevoorreg is om dit alles saam met familie te kan geniet en stil te staan by die wonder van Jesus se geboorte.


Heidi-Luise Lotze van Tierpoort en haar mense sal ‘heel waarskynlik’ ‘gammon’ geniet. Hulle is baie lief vir ‘gammon’ en ‘Woolies’ s’n is die beste, sê sy.

‘Gammon’ en vars slaaie met koekstruif (trifle) vir nagereg is haar mees geliefde Kerskos. Dit moet ‘trifle’ wees, want dis te warm vir enigiets anders.

Kersete in die ‘ou dae’ was ‘n groot gedoente, sê Heidi. Die hele familie (almal van hulle) het by Oupa en Ouma se huis saamgekom waar hulle onder meer lam, geroosterde beesstuk, hoender met blomkool-en-kaassous, boontjies en slaaie in groot maat verorber het.

Vir nagereg het Ouma ‘n malvapoeding met muntstukke in gebak. Dit is saam met vla of roomys bedien en amper vergeet sy die rooi en groen jellie, sê Heidi.

“It was a very big thing then, but today, not so. Family dynamics have changed a lot – sad but a reality,” het Heidi gesê.


Nadine Bennet van Tierpoort sê hulle word gewoonlik uitgenooi na Kersetes, maar daar is gewoonlik hoender, rys en baie verskillende slaaie beskikbaar.

Wortelslaai is een van haar heel gunstelinge met Kersetes. Hoender en rys, koue beesvleis met soet mosterd, pasta en yskas- en suurlemoentert vir nagereg, geniet Nadine ook.

In haar kinderdae het die familie almal bymekaar gekom. Daar was nooit minder as 20 mense nie. Die eetkamer was altyd mooi opgemaak met Kersversiersels en die oorvloedige kosbakke was op die tafels op mooi rooi en groen tafeldoeke uitgepak.

Almal het om die hooftafel gestaan terwyl haar oupa ‘n gebed gedoen het. Dan is geskenke eers uitgedeel en dit was die kleingoed se werk om elkeen se persent te oorhandig.

As almal klaar hulle hoofdisse geëet het, is Kersklappers getrek voor met die nagereg weggeval is.

Daarna het die grootmense koffie en tee gedrink en die kinders het heerlik saam gekuier.

Nadine sê dié tradisie het ongelukkig verdwyn ná haar oupa oorlede is, maar hulle probeer steeds soveel moontlik van Kersdag maak met dié en dit wat hulle het.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online