Klokkespel, kraampies en Kerssang onder die sterre Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 22 December 2015 12:39
Untitled Document

Kerssamesang onder die sterre was die tema van die geleentheid wat die NG-gemeente Rayton op Saterdag 21 November gehou het.


Sang by kerslig op 15 November
Foto: Herman Fourie

Vanaf 5 nm was daar ‘n verskeidenheid kraampies wat juwele, klere, koekies, beskuit, kussings en plante gebied het. Daar was ook eetgoed, soos pannekoek, kerrie-en-rys, hamburgers, aartappelskyfies wat soos sosaties op ‘n lang stokkie ingeryg is en koeldranke. En daar was ‘n hele span Raytoniete om alles saam te geniet.


Die samesang van Kersliedere is deur Edith Smith en ‘n groep musikante gelei
Foto: Paul Bosman

Daar was ‘n verskeidenheid kraampies
Foto: Paul Bosman
.

Teen sononder het mense met groot afwagting hulle plekke onder die sterre ingeneem. Die groot bome by die kerk is met die fraaiste liggies versier en lasers is ook gebruik om alles met flikkerende liggies te versier. In ‘n binnehof by die ingang van die kerk was daar ‘n uitstalling gemaak met liggies, waar die takbokkies veral aandag getrek het.


Kersvader het by die samesang op 21 November opgedaag
Foto: Paul Bosman

Die samesang van Kersliedere is deur Edith Smith en ‘n groep musikante gelei. Janette Viljoen en wederhelf Pieter het gesorg vir die projekteer van die woorde op ‘n skerm.


Kersliggies by Rayton se NG-gemeente
Foto: Paul Bosman

Groot was die verrassing toe Kersvader van ver af met ‘n groot getoet in ‘n rooi motor, versier met liggies, opgedaag het. Hy het vir elke kind ‘n roomys-vuurpyl as geskenkie uitgedeel.


Die kokke in die kerk se kombuis
Foto: Paul Bosman

Sangdiens
Dié aand onder die sterre is vooraf gegaan deur die gemeente se sangdiens in die kerk, onder leiding van Nico Steenberg, op Sondagaand 15 November.

Klokkespel is gelewer deur Gottfried Schieke; Cathlene Dafel op die viool is begelei deur ds Henning Dafel op die klavier; en Heleen-Marie Viljoen en Hennie Britz het ‘n sang duet gelewer.


Die liggies is teen skemeraand aangesit
Foto: Paul Bosman

Janette Viljoen, orrelis, het die gemeentesang begelei en Pieter Viljoen het vir die beeldsending gesorg. Hennie Malan het bypassende grafika, wat op ‘n skerm vertoon is, gedoen.

Tracey Ebersohn het die kerk versier en Linda Snyders, die koster, het gesorg vir die kerse en dat die aand glad verloop.


Klokkespel by die 15 November kerkdiens
Foto: Herman Fourie
.

Die Kerssangdiens op Sondagaand
15 November
Foto: Herman Fourie

Die diens is met die sing van ‘Stille nag’ afgesluit, terwyl almal ‘n brandende kers vasgehou het en daarmee uitgestap het om die Kersboodskap na die wêreld uit te dra. Die susters het vir verversings gesorg.

 

© 2020 Die/The Bronberger