Plotmoord plaas soeklig op veiligheid PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Tuesday, 22 December 2015 10:28
Untitled Document

Wynand van der Merwe

Boschkop se gemeenskap is geskok en in rou oor die moord op Gavin Wolfswinkel en sy medewerker, Lucky Selume.

Die voorval het vroegaand op Sondag 15 November gebeur. Gavin en sy verloofde, Nadia Treeby, was in hulle huis op plot 370 Mooiplaats toe die omheining se alarm net na 8 nm geaktiveer is.


Adjudant-offisier Wynand van der Merwe, SAPD Boschkop

Gavin het uitgegaan om ondersoek in te stel en hy het vir Nadia gesê om in die huis te bly en die huis te sluit. Lucky, wat op dieselfde plot gewoon het, het ook uitgegaan om Gavin by te staan. Altwee mans is net buite die huis oorval en geskiet. Die wonde was noodlottig. Nadia het hulp ontbied en die gemeenskap en SAPD het gereageer. Dit was egter te laat en altwee slagoffers is op die toneel oorlede.

In lig van dié skokkende voorval, vind die SAPD dit nodig om weereens die volgende veiligheidswenke onder die gemeenskap se aandag te bring:

Alarm
Wanneer jou buite-alarm afgaan, kontak die polisie en veiligheidsmaatskappy. Moenie uitgaan nie! Bly in jou huis en beskerm die binnekant van jou woning. Misdadigers is meestal gewapen en kan jou baie maklik buite oorval. Jou en jou gesin se lewe is meer werd as enige items wat buite gesteel kan word.

Beligting
Buiteligte rondom die woonhuis is ook baie belangrik. Indien iets gebeur, skakel jou binneligte af en sit al die buiteligte aan. Sodoende kan jy van binnekant na buite sien, maar dit is moeilik vir die betreders om na binne te sien.

Noodplan
Dit is ook wenslik dat elke gesin ‘n noodplan het wat geaktiveer kan word in krisissituasies. Behoeftes sal verskil van gesin tot gesin. Oefen jou noodplan gereeld sodat elke lid van jou gesin weet wat van hulle verwag word. Skep ‘n veilige plek in jou huis waar jy en jou gesin in geval van nood kan bly tot hulp opdaag. So ‘n plek moet verkieslik afgesper kan word met veiligheidshekke en nie van buite af bereikbaar wees nie. Meestal is ‘n gang of badkamer geskik vir die doel.

Kommunikasie
Kommunikasiemiddels is ook belangrik, hetsy ‘n foon of radio waarmee hulp ontbied kan word.

Nommer
Ken jou plotnommer. Dit het al gebeur dat mense op ‘n plot bly en na jare steeds nie weet wat die nommer is nie. Noodpersoneel kan nie reageer as die regte inligting nie verskaf word nie. Merk ook jou perseel duidelik met jou nommer. Kosbare tyd gaan verby as ‘n perseel nie genommer is nie.

Hek
Sorg dat jou omheining se hek van binne die huis oopgemaak kan word sodat noodpersoneel toegang tot die perseel kan verkry. Dit gebeur dikwels dat hekke slegs by die hek self oopgemaak kan word en in ‘n noodtoestand kan die inwoners nie uitgaan om hekke oop te maak nie.

Bure
Ken jou bure en raak betrokke by gemeenskapsveiligheidsaksies.

Honde
Goeie waghonde is aan te beveel: ‘n Kombinasie van groot honde buite en klein wakker honde binne in die huis. Leer ken jou honde se gedrag en tree volgens dit op. ‘n Geleerde hond is baie beter as ‘n ongeleerde een.

Werkers
Dit is belangrik om werkers op die plot of plaas in te sluit by beveiliging en deel te maak van die noodplan op die eiendom. Werkers is ook slagoffers van misdaad en moet ook beskerm word.

Dit is wenslik dat besonderhede van werkers verkry word en op lêer gehou word. Indien nuwe werkers in diens geneem word, word dit aanbeveel dat hulle geskiedenis nagegaan word vir enige kriminele rekord. Jou plaaslike polisiestasie kan gekontak word om te help daarmee.

Aanmeld
Meld alle misdade en verdagte voorvalle aan by jou plaaslike polisiestasie sodat rekords en statistieke verkry kan word. Sonder voldoende statistieke kan jou polisiestasie nie voorkomende maatreëls instel of ekstra hulp van buite-stasies verkry nie.

Die bestuur en personeel van Boschkop SAPD dra hulle gebede op aan die vriende en familie van Gavin Wolfswinkel en Lucky Selume.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online