As jy maklik en sonder moeite wil uitvind of jy geregistreer is as kieser en
waar jy moet gaan stem, gaan na die volgende webwerf en sleutel net jou
ID nommer in. https://www.elections.org.za/amregister/amregister.aspx
xxxxx
Dié olifante laat hulle nie afsit deur ’n gebou nie. Die Mfuwe Lodge in die
Suid Luangwa Nasionale Park in Zambia is onwetend op olifante se tradisionele
roete na wilde mango-bome op die eiendom gebou. Die trop van
ongeveer ’n dosyn olifante het vir die eerste vier weke van die ‘lodge’ se
bestaan ten minste twee keer ’n dag deur
die ontvangs-gebied geloop. Daarna het
hul vir nog drie weke sporadies deur die
gebou geloop. En dit sonder om ooit iets
te breek.
xxxxx
Ou Hans, nee nie daai Hans nie, die
ander een, sê hy het altyd gewonder
hoekom die Aussies sulke bombastiese,
kras mense is, totdat hy nou anderdag gedwing is om die land doer onder
te besoek. Hans reken die antwoord lê in die manier waarop die
Australiërs wakker word. Hier by ons, sê ou Hans, word jy wakker met
die geluid van tortelduiwe en tiptolle in jou ore. In Australië word jy
soggens saam met die son wreed wakker geskud met die geskel van
kraaie in jou ore, sê hy. Die Aussies word dus elke oggend kras en bombasties
wakker en eintlik moet ons die lot windbasse jammer kry, meen
Hans.
xxxxx
Liewe Krismisvader,
Ek was baie soet vanjaar. Só soet dat
ek gedink het ek mag maar ’n paar
goedjies op my persentelys sit. Ek
stuur die lysie vroegtydig, want die
poskantoor hier by ons is nie juis vinnig
nie. En ek sal dit maar ’n paar keer
moet stuur, want jy weet nooit waar ’n pakkie of ’n brief beland as dit nie
in die snippermandjie of in die poswerkers
se sakke beland nie.
Soos Kersvader seker weet, bly ek
hier in die Bronberg en soos Kersvader
ook weet is dit nie ’n plek vir
sissies hierdie nie. Maar hier is my
lysie – asseblief.
• Die eerste ding wat ek vra, is ’n
bietjie krag. Nie die soort krag wat jy
nodig het as ’n jongeling jou ma se
kar en jou wil ‘pannelbeat’ omdat hy
dink die kar en jy verdien dit nie,
maar die soort krag wat ’n rekenaar
en ’n koffieketel laat loop. Gee maar
genoeg, veral op Maandagoggende,
want dis wanneer Eskom en die
stadsraad van Tswanetoria gewoonlik besluit dit is ons Bronbergers se beurt om kragteloos gelaat te word.
• ’n Paar eerlike amptenare vir ons
plaaslike munisipaliteit sal baie
waardeer word. En as dit nie te veel
gevra is nie, sal ’n bietjie verstand vir
daai eerlike amptenare ’n groot bonus
wees. Ek weet nie hoeveel verstand
daar in Kersvader se sak oor is nie,
maar as daar is, sal dit sommer baie
gaaf wees as die land se nuwe president
en net ’n paar van sy ministers
ook ’n bietjie daarvan kan kry.
• As Kersvader ’n bietjie spaar koper
en yster in voorraad het, stuur dit
asseblief tog vir die baie nuwe “skrêpmetalwinkels”
hier in die Bronberggebied.
Dan sal dit nie vir hulle nodig wees
om by die voorheen benadeelde
skrootmetaalhandelaars te koop nie
en dan sal voorheen benadeeldes
dalk nie ons boorgatkabels, telefoonkabels,
droppers, hekke en die
perde se suipbakke so gereeld stroop
nie.
Vir eers is dit al wat ek vra. Moet
asseblief nie kwaad wees as ek nader
aan Kersfees nog ’n lysie stuur nie. Ek
was regtig baie soet hierdie jaar. |