Toekaboek oortref verwagtinge Print E-mail
News - Briewe
Tuesday, 22 December 2015 12:19
Untitled Document

Buks Barnard van Nooitgedacht skryf:
Bluksers, liewe deug, allamoses en blaas my siel! Hierdie Toekaboek van Bronberger is ‘n kosbare skat.

Oor die jare het liewe tante Angie se geskiedenisstories my met ietwat van ‘n frustrasie gelaat, want hulle is bêre werd, maar hoe kon ‘n mens hulle nou sinvol byeenbêre in tydskrifte wat soveel ander dinge ook bevat. Daarom was dit vir my ‘n groot lekkerkry om te verneem dat ons dit in boekvorm gaan kry.

Die Toekaboek voldoen aan en oortref al my verwagtinge: Dit is leesbaar, aantreklik, netjies en interessant.

Eintlik wou ek die hele Toekaboek sorgvuldig deurgelees het voordat ek kommentaar lewer, maar dit is nie net ‘n boek om sommer net deur te lees en af te rammel nie. Hy smaak op sy lekkerste as jy hom rustig en tydsaam in jou kies rondrol en elke bladsy ten volle geniet.

Dit is ‘n boek waarin jy wil terugblaai en vorentoe loer en die interessante foto’s geniet en soms ‘n bietjie op jou skoot wil laat sak om terug te peins oor die mense wat hierdie kontrei voor ons bewandel het. Tussen hierdie boek se blaaie wil jy lank en rustig kuier. Daarom het ek nog nie die hele Toekaboek klaar gelees nie, maar ek weet al oorgenoeg om te verklaar dat dit ‘n boek van betekenis is.

Die Toekaboek gaan beslis ‘n aanwins vir Dom Boer se Boekboerdery wees, maar ek kan nie waarborg hoe lank hy eers op my bedtafeltjie gaan lê om rustig en oor en oor en heen en weer te geniet nie – soos ‘n fynproewer hom nie laat aanjaag wanneer ‘n meesterlike dis voor hom neergesit word nie.

Dankie, liewe Bronnie en liewe tante Angie.

 

© 2020 Die/The Bronberger