Die Bronnie se koffietafelboek, ‘Toeka se Dae – Die Karakters’, is nou by meer plekke beskikbaar. Dié boek met sy lekkerlees stories maak die ideale Kersgeskenk wat enigiemand, met of sonder ‘n belangstelling in die geskiedenis van ou Pretoria, sal boei.
Die fokus is op karakters uit ‘n Pretoria van meer as ‘n honderd jaar gelede. Die jare toe die dorp se kinders grootoog gekyk het hoe Fillis se Sirkus by die stasie aankom en hoe al die diere in ‘n parade van daar af na Kerkplein geloop het. Die oop stuk grond waar die sirkus uitgespan het was agter die Spencer & Marks gebou, omtrent waar die Reserwebankgebou nou staan.
Geheime
Dit was ook die oorlogjare waar geheime kodename hoogty gevier het. Ons vertel van die Ierse Brigade wat deur kolonel John Young Fillmore Blake, ‘n Amerikaner wat aan die Apache-oorloë deelgeneem het, aangevoer is. Sy kodenaam onder die Boere-owerhede was ‘Mielies’.
Dan was daar die ‘Swart Luiperd’, kode-naam van ‘n sjarmante spioen wat Lord Kitchener, die argitek van konsentrasiekampe en die verskroeide aarde-beleid, se dood veroorsaak het.
Die ‘Swart Luiperd’ kon sewe tale vlot praat en was ook ‘n grootwildjagter, joernalis, oorlogskorrespondent, makelaar, saboteur, avonturier en hy was baie gewild onder die vroue.
Hartseer
Daar is verhale van teregstellings in die boek, onder meer die hartseer van ‘n ouerpaar wat tot die dag van hulle dood na hulle seun se graf gesoek het. Kommandant Gideon Jacobus Scheepers is op
18 Januarie 1902 geblinddoek en aan ’n stoel langs sy graf vasgebind. Kitchener het die bevel gegee, die vuurpeleton se skote het geklap, Gideon het agteroor geval en is net daar begrawe.
Sy liggaam is egter dieselfde nag nog deur Britse troepe opgegrawe en op ’n onbekende plek herbegrawe. Hulle het geweier om sy stoflike oorskot aan sy kommando te oorhandig omdat hulle wou verhoed dat ’n held van hom gemaak word. Navrae aan die Britse militêre owerheid het niks opgelewer nie.
Trekke
Daar was verskeie groeptrekke uit ons land uit en die bekendste hiervan was sekerlik die Dorslandtrek na Angola, wat baie grafte, veral kindergraffies en die geraamtes van vee op hulle spoor gelos het. Toe die mense ná jare deur die woestyn is en langs die Okavango verder getrek het, is baie van dié wat die dors oorleef het, dood aan malaria en die vee deur tsetsevliegsteek.
Minder as die helfte van die Dorslandtrekkers wat in die 1870’s uit die ZAR getrek het, het Angola bereik. Dié groeptrekke na Angola het in die 1880’s en 90’s aangehou tot ná die Engelse Oorlog toe die Portugese regering dit in 1907 begin verbied het.
Nog ‘n bekende trek was na Argentinië onder leiding van ‘n Pretoriase Rooikruis-verpleegster, Myra, ‘n nooi Güttmann, en haar man, die bevelvoerder van die verenigde Uitlanderkorps, die Italianer Camillo Ricchiardi.
‘n Minder bekende trek was die duisend Boeregesinne wat generaal Ben Viljoen na Mexiko gevolg het. Dié gesinne het hulle tussen 1903 en 1905 in Chihuahua, ‘n deelstaat in die noorde van Mexiko, gevestig.
Vrouens
Ons vertel ook hoe vrouens aan veldslae deelgeneem het – sommiges in rok, handskoene en hoed en ander in mansklere vermom. Vrouens het in die loopgrawe geveg, het daar gesneuwel en is saam is na krygsgevangenekampe.
Hulle was ook bobaas spioene, soos Johanna Brandt en haar ma en medepligtige, die weduwee Maria Magdalena Elizabeth van Warmelo. Niemand het vermoed dat Johanna en haar ma die oorlog se suksesvolste spioenasie-ring vlak onder die Britte se neuse op hulle Pretoria-plot, genaamd Harmonie, bedryf het nie.
Mense besef vandag ook nie dat seuntjies, bekend as penkoppe, so jonk as agt jaar saam op kommando gegaan het, aan veldslae deelgeneem het en na krygsgevangene-kampe in Bermuda, Indië, Ceylon en St Helena gestuur is nie.
Beskikbaar
‘Toeka se Dae – Die Karakters’ kos R295, koerier- en poskostes uitgesluit.
Die boek is beskikbaar by die volgende plekke:
- Die Bronnie se Cullinan-kantoor: skakel 012-734-0522.
- Tania Potgieter lewer boeke aan mense in die oostelike hoewegebied. Bel haar by 072-089-0227.
- Heart of Coffee in Cullinan. Bel Kat Behrens by 084-579-1803.
- Donkerhoek Veearts by die Jan Ellis-sentrum naby die N4 se Rayton-Cullinan-afrit. Skakel 072-974-4914.
- Protea Boekwinkel, Burnettstraat 1067, Hatfield. Skakel 012-362-5684.
Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos na
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
. |