Angie Kleijn
‘n Paar jaar ná die Engelse Oorlog het duisende baanbrekerboere verder noord begin trek om elders in Afrika van voor af te begin. Vreemd genoeg het van dié trekke bloot een Britse kolonie vir ‘n ander verruil.
Dalk nié so vreemd nie, sê sekere bronne wat bespiegel dat van die trekkers na Brits-Oos-Afrika (Kenia) hensoppers was wat in die Engelse Oorlog oorgegee het en die na-oorlogse lewe in Transvaal ondraaglik gevind het. Die Afrikaners wat Britse heerskappy wou ontsnap is glo na Duits-Oos-Afrika (later Tanganjika en nou Tanzanië).
Ander bronne sê egter dat dit bloot pioniersbloed was wat deur dié trekkers se are gedruis het en dat hulle Suid-Afrika se grense verder noord wou opstoot. In die Oos-Afrika distrikte waar dié trekkers plase gevestig het, het hulle as ‘kaburus’ bekend gestaan en ‘n Afrikaanse gemeenskap het vir dekades lank daar floreer tot hulle amper 60 jaar later, soos die Dorslandtrekkers, hulle plase en besittings moes agterlaat om die groot trek terug aan te pak.
Van die vroeë boerepioniers voor hulle riethuis
Bron: AM van Rensburg
Bekendes
Boeregeneraal Wynand Malan en sy gesin was een van die trekgroepe wat hulle in 1907 wes van die berg Kilimandjaro gevestig het. PC Joubert, oud-ZAR-volksraadslid en skrywer van ‘My tweede vryheidstryd’ het ook daar gaan woon.
Ander skrywers met wortels in Oos-Afrika was Koos Prinsloo, gebore in 1957 in Eldoret, wat met ‘Jonkmanskas’ gedebuteer het en Hertzogpryswenner Sangiro (AA Pienaar), wat as 12-jarige saam met sy ouers soontoe getrek het. Sy ma, Martha Johanna Pienaar, ’n broerskind van die Voortrekker-leier Andries Pretorius, se dagboek, getiteld ‘Baanbrekers’, is deur HJC Pieterse uitgegee.
Volgens LJS Changuion se 1975 verhandeling, ‘Die verhuising van Boere na Oos Afrika, 1902-1914’, het 1 300 Afrikaners tussen 1904 en 1914 na Oos-Afrika getrek. Volgens skrywer AM van Rensburg, afstammeling van trekleier Jan A Janse van Rensburg, was daar egter in 1911 reeds 1 878 Suid-Afrikaanse burgers net in Brits-Oos-Afrika.
Daar was ‘n paar bekende groeptrekke en ons begin die verhaal deur van die grootste groeptrek se ontberings in 1908 te vertel.
Dié borduurwerk gedenk die vroeë setlaar-families in Brits-Oos-Afrika
Bron: AM van Rensburg
Van Rensburg-trek
Die grootste trek was die een wat 70 gesinne onder leiding van die 59-jaar-oue Jan A Janse van Rensburg onderneem het. Die reëlings vir die trek is deur sy skoonseun, die Engelse landdros Bangley, getref. Dié groep het in 1908 vanaf Bethal na Delagoabaai (Maputo) in Portugees-Oos-Afrika (Mosambiek) getrek.
Jan is op 7 Oktober 1849 in die Wes-Transvaal gebore. Hy is op Rustenburg met Aletta Potgieter getroud en hulle het 13 kinders gehad, waarvan ses saam met hulle na Brits-Oos-Afrika getrek het.
Voor die trek het Jan eers gaan verkenningswerk doen. Hy het op 2 Desember 1906 vanaf Delagoabaai geseil en is deur Piet Klopper, Christiaan Joubert, Dennewick en Jan Viljoen vergesel. Die enigste Engelsman op dié ekspedisie, H Gleeman, het later as ‘n soort sekretaris opgetree omdat hy alles vir die boere vertaal het en vorms vir hulle ingevul het.
In Brits-Oos-Afrika het Sir James Hayes-Sadler gewaarborg dat hulle in dié land sal mag boer. Terwyl hulle daar was het Jan se groep op Abraham Joubert se trek, wat toe reeds daar gewoon het, afgekom.
Jan A Janse van Rensburg
Bron: AM van Rensburg
Werf
Jan is terug huis toe, waar hy vergaderings gehou het om mense te werf om saam te trek. Sy geselle, Piet Klopper en Christiaan Joubert, het nie teruggekeer nie omdat hulle besluit het om dadelik in Brits-Oos-Afrika te begin boer.
Die trek-gesinne was glo moeg vir die Transvaal en wou die pad noord vat, waar wild en land nog volop was. Die meeste van dié boere het van die Ermelo- en Carolina-distrikte gekom.
In Delagoabaai het hulle ‘n Duitse skip, SS Windhuk, teen 1 750 pond gehuur, waarop hulle 42 ossewaens en 72 perde gelaai het. Die koste was ses pond per persoon, vier pond per perd en 10 pond per ossewa.
Op 9 Julie 1908 het hulle langs die kus op begin vaar tot by Mombasa, wat hulle op 16 Julie bereik het en vanwaar hulle per trein verder is in ‘n ongetemde gebied, wat Britse ontdekkingsreisigers skaars 50 jaar tevore aan die wêreld bekendgestel het. Die spoorlyn is in 1901 oopgestel en bouwerk is gereeld onderbreek omdat leeus van die werkers gevang het.
Jan Janse van Rensburg en sy gesin
Bron: AM van Rensburg
Nagmerrie
Vertellings uit die verskeie groeptrekke sluit soortgelyke nagmerrie-ondervindings in. Die stoomlokomotiewe is met houtvure gestook en vonke het gereeld by die kompartemente se vensters ingewaai en bagasie aan die brand gesteek. Renosters het soms die treine bestorm.
Dit het glo vyf treine geneem om die Van Rensburg-trek se besittings oor Nairobi na Nakuru, wat hulle op 18 Julie bereik het, te kry. Vyf kilometer buite die dorp het hulle op Frans Arnoldi se plaas oorgebly terwyl hulle osse aangekoop het. Hulle moes ‘n paar weke oorbly om die osse te leer hoe om waens te trek.
Die trek-geselskap het in Julie, in die nat seisoen, aangekom en die ossewaens het in die diep modder, wat ‘n doodsmodder genoem is, gesukkel. Tog was dit nie makliker in die droë seisoen nie – dan was die stof verstikkend omdat geen wind gewaai het nie.
Die osse moes die waens deur die wildernis, waar geen paaie was nie, trek en moes met die waens oor berge kom, soortgelyk aan die Drakensberge wat vir die Voortrekkers van ouds ‘n hindernis was.
Die Van Rensburg-groep op die skip SS Windhuk
Bron: AM van Rensburg
Modder
Die Van Rensburg-trek het drie tot vier dae getrek en twee dae gerus. Dit het hulle vier dae gevat om sewe myl ver in die modder te trek. Die agterste waens moes in ‘n pappery voortsukkel en die trek is ook deur moerasse, waar hulle bamboes moes sny om onder die waens se wiele te sit. Hulle het dié gebied Suikervlei gedoop, omdat dit hulle aan Natal herinner het.
Paaie moes deur die bamboesbosse aan die hange van die Skeurvallei oopgekap word om by Uasin Gishu (see van beeste), Brits-Oos-Afrika se hooglande net noord van die ewenaar, uit te kom.
Pestilensies en tragedies het die trekkers in dié gebied getref – van kinders wat aan longontsteking dood is tot 15 ossewaens wat in modder gesink het tot net die bokant van die reuse wiele sigbaar was en die osse reeds versmoor het.
Die Van Rensburg-trek het Sergoit op 22 Oktober bereik en nadat hulle langs die Sosienirivier gekamp het, het hulle by ‘n plek uitgekom wat hulle Rooidrift gedoop het. Daar het hulle in verskillende rigtings uitmekaar beweeg na plase in die Uasin Gishu.
Die eerste plase is glo toegeken aan boere wat in staat was om met ‘n wa en ‘n span van 16 osse voor die Brits-Oos-Afrikaanse distrikkommissaris se kantoor verby te ry.
Die plase is later amptelik geregistreer en elkeen het ‘n nommer gekry. Nommer 64 is uitgehou as die plek waar ‘n dorp gebou moes word.
Die eerste hartbeeshuisie op plaas 28. Migaal Scholtz sit voor saam met sy hond, Witvoet.
Sy ma en pa is regs van hom
Bron: Magriet Doorewaard
Von Landsberg-trek
Volgens AJB Rawlins se verhandeling, ‘Die Nederduits Hervormde of Gereformeerde Kerk in Brits-Oos-Afrika en Duits-Oos-Afrika’, het die eerste groep wat na Duits-Oos-Afrika getrek het, die Von Landsberg-trek, op 16 Julie 1904 op Bronkhorstspruit bymekaar gekom. Die groep het uit agt gesinne onder aanvoering van Pieter Frederick von Landsberg, bestaan.
Langs die trekpad het Theuns Botha en sy gesin aangesluit en die trek het toe uit 42 mense bestaan. Hulle het op 19 Julie 1904 in Delagoabaai aangekom en het op 27 Julie op die Duitse posboot, Hertzog, geseil.
Ná ongeveer drie weke het hulle in die hawe Tanga in Duits-Oos-Afrika geland. Hulle is per trein tot op Mombo en van daar het hulle met ossewaens oor Moschi na Arusha getrek. Hulle het eers op
4 Desember 1904 in die Oldonyo Sambu-gebied aangekom, waar plase deur goewerneur Van Gatzen aan hulle toegeken is.
Piet Joubert-trek
Pieter Joubert van Ermelo was die leier van die Landsoekers-ekspedisie van 1903. Die ekspedisie het besluit om nie Duits-Oos-Afrika aan te beveel nie, maar in 1905 het Piet homself weer op trek gevind, dié keer aan die hoof van 50 gesinne (300 mense) van Pretoria, Machadodorp, Ermelo, Middelburg en Krugersdorp.
Hulle het in Mei 1905 op die Brugspruitstasie naby Middelburg saamgetrek om die trein na Delagoabaai te haal. Ná die skeepvaart het Piet se groep oor Dar-es-Salaam, Tanga en Mombasa na Arusha getrek, waar hulle in die middel van Julie 1905 aangekom het.
Lede van die Klapprott-familie in hulle ossewa
Bron: AM van Rensburg
De Beer-trek
Dié groep, onder leiding van Willie de Beer, het tot in Tanga saam met die Joubert-trek gereis. Van daar af het die 30 gesinne die korter roete oor Mombo na Arusha gevolg. Hulle het 18 grafte, insluitende dié van hulle trekleier, agtergelaat. Daar was erge hongersnood en malaria en die oorlewendes is deur die Joubert-trek en die Duitse owerheid tot by Ngare gehelp.
Abraham Joubert-trek
Abraham Joubert het met die Duits-Oos-pioniertrekker, Pieter von Landsberg, gekorrespondeer en het besluit om hom te volg. Hy was die leier van 14 gesinne wat in Junie 1905 van Delagoabaai na Duits-Oos-Afrika geseil het. Vanaf Mombasa is hulle per trein tot op Voi in Brits-Oos-Afrika en daarvandaan per ossewa tot op Oldonyo Sambu, wat later as Kampfontein, die saamtrekplek van die Afrikaners, bekend gestaan het.
Boere-handelaars vergesel die Afrikaanse Klapprott-familie. In Isak Dinesen se boek, ‘Out of Africa’, noem sy dat ‘n Suid-Afrikaner, genaamd Klapprott, vir haar gewerk het
Bron: AM van Rensburg
Engelbrecht-Bothma-trek
‘n Trek wat uit 40 mense bestaan het, onder leiding van Martiens Engelbrecht en Lodewyk
Bothma, het vanaf Bethal na Suid-Rhodesië vertrek. Op 25 Augustus 1904 is hulle vanaf Salisbury per trein na Beira in Mosambiek. Daarvandaan is hulle per boot na Tanga in Duits-Oos-Afrika. Hulle was aanvanklik op pad na die Belgiese Kongo (Zaire), maar het na vele ontberinge bykans ‘n jaar later, in die middel van Augustus 1905, op Kampfontein aangekom.
Malan-trek
Jacobus Malan, en sy drie seuns, Wynand, Jacobus en Ben, asook sy drie skoonseuns, Piet
de Wet, John van Schoor en Constant Laubscher, het ‘n trekgroep van 31 mense gelei. Ons weet net dat hulle die land op 20 Desember 1906 verlaat het en vroeg in Maart 1907 op Kampfontein aangekom het.
Lede van die Klapprott-familie voor hulle wa
Bron: AM van Rensburg
Pienaar-trek
AA Pienaar was die pa van die skrywer Sangiro. Hy het ‘n groep trekkers gelei wat in 1907 vanaf Broederstroom na Duits-Oos-Afrika begin trek het. Hulle het die roete vanaf Tanga oor Mombo en Arusha na Kampfontein gevolg.
Van Bredabroers
WJ van Breda het in 1903 uit Oos-Afrika teruggekom om sy broers te oortuig om hulle daar te gaan vestig. Bon, Piet en Dirk, asook Frans Arnoldi en sy seun Edzard het in Augustus 1905 saam met hom vertrek. Die Van Bredabroers was die eerste Afrikaners om grond op die hoogland Uasin Gishu te bewerk.
Klapprott se span osse trek ‘n vrag hout oor die Uasin Gishu-plato
Bron: AM van Rensburg
Arnoldi-trek
Frans Arnoldi was so beïndruk met dié wêreld dat hy sy seun in 1905 daar gelos het en terug is na Suid-Afrika om sy familie te gaan haal. Hy was in Desember 1905 terug in Transvaal en het op
8 Februarie 1906 vanaf Bethal saam met sy vrou, hulle twee dogters en twee ander seuns, Frank en Bertie, en ‘n vriend, John de Waal, vertrek.
Dié groep het voor die einde van 1906 in Brits-Oos-Afrika aangekom, waar hulle op Naivasha gewoon het. Hulle is later weswaarts tot by Nakuru en het hulle vroeg in 1907 op Uasin Gishu gevestig.
Die Klapprott-familie by hulle waens
Bron: AM van Rensburg
Heen-en-weer
In die middel van 1907 was daar meer as 700 Afrikaners in die Arusha-gebied. Die Afrikaners en van die Duitse amptenary was egter ontevrede met mekaar en mense het begin om die grens na Brits-Oos-Afrika oor te steek. Nog ‘n rede vir dié trek is glo ook omdat Brits-Oos-Afrika baie vinniger ontwikkel het.
Die eerstes wat dit gedoen het was Pieter Joubert, Martiens Engelbrecht en die Bothmas en later het SR Trichardt, Piet de Wet, Thys le Roux, Koos Malan en Pieter Joubert, Abraham Joubert, die Snymans, Steenkamps en Potgieters gevolg.
Ds Josephus Johannes Kühn
Bron: ‘Die Hervormer’
Scholtz-Von Maltitz-trek
Die Scholtz-Von Maltitz trek het uit ses Vrystaters bestaan: Oom Willem (Wil) von Maltitz; sy vrou, tant Pietjie, en hulle drie seuns, Piet, Lud en Bokkie, almal van die distrik Frankfort. Dan was daar ook Michael C (Migaal) Scholtz en ‘n jong Kok, boerseuns van die distrik Vrede.
Hulle het op Oukersaand 1908 per trein uit die Vrystaat vertrek. In Delagoabaai het JH Barnard en sy vrou van Barkly-Oos by hulle aangesluit. Hulle het in Januarie 1909 met die Hertzog, ‘n Duitse skip, uit Delagoabaai na Mombasa geseil.
Oom Wil het ’n plaas van drie duisend akkers op Uasin Gishu vir £20 gekoop. Kok en Migaal het regeringsplase op erfpag gekry. Migaal het uiteindelik na Suid-Afrika teruggekeer en het ‘n boek, ‘Voortrekkerslewe in Donker Afrika’, onder die skuilnaam Bana Maie geskryf.
Aan boord van die Hertzog. Van links na regs agter: Piet, Lud en Bokkie von Maltitz, ‘n man en vrou en Migaal Scholtz (kaalvoet binne die tralies). Voor: Oom Wil von Maltitz, Hettie Barnard en tant Pietjie. Op die grond: Barnard
Bron: Magriet Doorewaard
EH de Waal
Uit Pretoria het Eduard Hugo de Waal, wat die ou ZAR-inspekteur-generaal van invoerregte was, sy eggenote en drie kinders, wat sy seun, John de Waal, ingesluit het, in Oktober 1909 na Brits-Oos-Afrika vertrek. By Nakuru het hulle by die Arnoldi-gesin aangesluit en dié gesinne het saam na Uasin Gishu gereis.
‘Voortrekkerslewe in Donker Afrika’ deur Bana Maie
Bron: Magriet Doorewaard
Ander
Volgens AJB Rawlins het ‘n aantal gesinne in 1909 en 1910 na Oos-Afrika getrek. JP Bester en AAN Ortlepp en gesinne het in 1909 in Brits-Oos-Afrika aangekom.
Johan Fock en sy pa het uit Pretoria getrek en het hulle eers in Nairobi gevestig voor hulle na Kyambu getrek het. Hendrik Davel en sy gesin van die Transvaal, en die Kramers vanuit die Paarl het hulle in dieselfde jaar in Brits-Oos-Afrika gevestig.
Teen die einde van 1909 het drie gesinne, Engelbrecht, Prinsloo en Joubert uit die distrik Piet Retief, hulle as boere op Nakuru gevestig.
In Desember 1910 het Hendrik Johannes Wessels en sy vrou saam met Percy Smuts en sy gesin na Brits-Oos-Afrika getrek om op Uasin Gishu te gaan boer.
Die kerk op Rensburg-Rust, Eldoret
Bron: AM van Rensburg
Cloete-trek
Die Cloete-trek van 1911 was, ná die groeptrek van 1908, die eerste groot groep wat weer saamgetrek het. Tien gesinne van welaf boere, bestaande uit 60 mense, het onder leierskap van Christiaan Johannes Cloete, uit die Vrystaat getrek.
Hulle het vanaf Durban na Brits-Oos-Afrika met die SS Kramstadt geseil en het hulle op Uasin Gishu gevestig.
In 1912 het Ockert Nel en sy gesin uit Middelburg na Brits-Oos-Afrika getrek en daarna die Dreyers, AJ Mouton, Gideon van Deventer, AJP Raath, JA Welmans, Willem Odendaal, JB Steyn en die Kruger-broers, Pieter Willem van der Merwe en die Kaapse rebel, Willem van Blerk.
Nagmaal op Eldoret
Foto: Dan Steyn-versameling
Ontvolk
Daar het glo geen swart mense in die hooglandgebied van Uasin Gishu gewoon nie omdat die plaaslike stamme mekaar verjaag en uitgemoor het. Geeneen van hulle het op die gebied, wat blykbaar vroeër vir Sionistiese skemas oorweeg is, aanspraak gemaak nie. Die Van Rensburg-trek het eers ná drie maande die eerste swartmense daar gesien, by wie hulle ‘n koei en ‘n kalf gekoop het.
Die hoogland het ‘n matige klimaat en Brittanje wou wit boere daar vestig om die koste van die spoorlyn, wat van Mombasa na die binneland gebou is, te verhaal. Die plase is aan boere gegee met die voorwaarde dat hulle dit binne vyf jaar moet ontwikkel.
Die boere het egter geen kennis van landboutoestande aan die ewenaar gehad nie en het op die harde manier geleer watter gewasse daar aard en wanneer hulle kon saai en plant. Die eerste jaar was die oes ‘n totale mislukking.
Die setlaars het aanvanklik bamboeshuise opgerig, wat later met klip-rondawels en -huise vervang is. Hulle het velskoene van kameelperdvel en seep van elandvet gemaak en moes met ‘n gelaaide geweer langs die bed slaap omdat leeus, luiperds, hiënas en tierboskatte ‘n konstante bedreiging was.
Om te oorleef moes die pionierboere ook noodgedwonge transport ry, jag en ruilhandel dryf, maar hulle het mettertyd mooi plase opgebou. Die stigting van koöperatiewe organisasies en nuwe binne- en buitelandse markte vir hulle produkte het boere ‘n groot hupstoot gegee.
Die Cloete-familie in die Vrystaat, kort voor hulle vertrek na Oos-Afrika. Agter, van links na regs: Schalk, Corrie, Mieta, Alie en Anaak. Voor: Oupa Christiaan Johannes, Sonny (Valerius), Frolie, Bonnie (Agatha), en ouma Anna Magdalena
Eldoret
Die dorpsgebied wat op plaas 64 op Uasin Gishu uitgehou is, was aanvanklik as Poste 64 en later as Eldoret bekend. Eldoret was glo presies net soos enige Afrikaanse dorpie in die Transvaal en sy bevolkingstal het gegroei nadat die Afrikanerboere van Duits-Oos-Afrika soontoe begin trek het.
‘n Tweede Afrikaanse gemeenskap het in Brits-Oos-Afrika ontstaan toe boere oos van die Skeurvallei gaan bly het. Eldoret was wes van die vallei.
Eldoret het die Afrikaner-gemeenskap in die Skeurvallei se kern geword. Mense het daardie jare gespot dat die Engelse van Brits-Oos-Afrika klubs gebou het, terwyl die Afrikaners kerke gebou het.
Die Nederduits Hervormde of Gereformeerde Gemeente Vergenoeg in Brits-Oos-Afrika is op 29 Augustus 1908 in die huis van die Arnoldi-gesin aan die voet van die Menengai-krater net buite Nakuru gestig.
Op 13 Augustus 1909 is ‘n gemeente met 108 lidmate op die werf van Jan A Janse Van Rensburg se plaas Rensburg-Rust, ‘n paar kilometer buite Eldoret, gestig. ’n Aantal kinders is gedoop en nagmaal is gevier.
Nairobi se Bazaarstraat in 1904
Bron: AM van Rensburg
Predikante
Predikante was egter skaars in dié geweste en vrywilligers is gevra om Oos-Afrika te besoek. Op
19 April 1910 het ds Josephus Johannes Kühn van Krugersdorp as vrywilliger van die Nederduits Hervormde of Gereformeerde Kerk na vore gekom. Hy het op 4 September 1910, vergesel van ouderling HV (Hennie) van der Merwe, na Oos-Afrika vertrek en die reiskoste is deur weduwee SA Muller voorsien.
Hulle is eers na Ngare Olmotonyi in Duits-Oos-Afrika waar die Nederduitsch Hervormde gemeente Arusha op 2 Oktober 1910 gestig is. Twee ouderlinge, SA van Emmenis en AS de
Beer, en twee diakens, JJ Bekker en JA Venter, is verkies. Die gemeente is Meru genoem, na die berg.
Ds Kühn is daarna na Brits-Oos-Afrika waar oud-lidmate van die Nederduitsch Hervormde Kerk in 1909 die gemeente op Jan A Janse Van Rensburg se plaaswerf gestig het. Intussen is ‘n kerkgebou opgerig en ds Kühn het die nuwe gebou op Vrydag 2 Desember 1910 ingehuldig. Twee ouderlinge, plaaseienaar Jan Janse van Rensburg en H Engelbrecht, en twee diakens, TP Steenkamp en SC Smith, is gekies.
Ds Kühn se tweede besoek aan Oos-Afrika het op 3 Junie 1912 begin en hy was aan die begin van Oktober weer terug in Krugersdorp. Hy het met sy derde besoek, toe hy reeds ‘n beroep na Lichtenburg aanvaar het, op 20 Julie 1914 van Delagoabaai vertrek, maar kon Arusha nie bereik het nie omdat die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het.
Mettertyd is predikante in Oos-Afrika gevestig en ’n latere gemeente, bekend as die Loubser-gemeente, vernoem na die eerste predikant, ds MP Loubser, is in 1945 oos van die Skeur, by Thomson's Falls (nou bekend as Nyahururu) gestig. ‘n Afrikaanse skool, Van Riebeeck Skool, wat die leerplan van die Transvaalse Onderwysdepartement gevolg het, is by Thomson’s Falls begin.
Die Merryweather ossewa wat vandag by die Voortrekkermonument staan
Bron: Habari 2010
Terug
Die Afrikaner-gemeenskap in Oos-Afrika het sy hoogtepunt ná die Tweede Wêreldoorlog bereik, net voor die Mau-Mau-opstand, aangevoer deur Jomo Kenjatta, teen Britse koloniale beheer in Brits-Oos-Afrika in 1952. Tanganjika het in 1961 onafhanklik geword en Kenia in 1963. Daarna het byna al die Afrikaner-boere na Suid-Afrika teruggekeer.
In 1965 was Andries Louw, wat in die 1950’s Van Riebeekskool se hoof was, besig om ‘n Oos-Afrika Vereniging in SA te stig en wou ‘n Oos-Afrika-ossewa ten toon stel.
Alex en Jan Boshoff, wat toe nog in Brits-Oos-Afrika geboer het, het ‘n wa begin soek. Die Merryweather-wa wat hulle opgespoor het, het oorspronklik aan Alfred George Woodley behoort. Die Woodleys het in 1912 saam met die Cloete-trek in Brits-Oos-Afrika aangekom.
Die wa is later deur Fritz Rosseau oorgeneem en was laas in 1962 met die viering van Eldoret se 50-jarige bestaan gebruik.
Fritz het die wa aan sy skoonseun, Dirk Coetzee, gegee toe hy Brits-Oos-Afrika verlaat het. Jan Boshoff het die wa per vragmotor by Dirk gaan haal, hom uitmekaar gehaal, verpak en per trein en boot na Andries Louw in Suid-Afrika gestuur.
Dié wa is op die Normaal Kollege Pretoria (NKP) se terrein aanmekaar gesit en het vir jare langs die kollege se hoofgebou gestaan. Toe die voortbestaan van die wa in gedrang gekom het, is hy deur NKP studente na die Voortrekkermonument gesleep waar hy saam met die ander waens onder die amfiteater staan. |