Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke
in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal
self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.
Etlike jare gelede het ek en Metgesel besoek gebring aan ‘n knusse kuierplekkie in Rayton se ‘groot’ koopsentrum. Toe het dit ‘TJ’s Diner’ geheet en ons het die kuierslag en kos heel aangenaam gevind.
Soos die jare sedertdien verloop het, het die plekkie gereeld van eienaarshand verwissel en is dit onder ‘n verskeidenheid van name met ‘n wisselende mate van sukses en van mislukking bedryf.
Ons het gehoor dat die deure, ná nog ‘n toestaantyd tussen eienaars, weer oopgemaak het en dat die plek nou die naam ‘Die Drommedaris’ dra.
Hoenderlewers, roereiers en boerewors vir ontbyt. Ek was effe teleurgesteld oor die nagemaakte botter
Só bevind ek my laatoggend op ‘n snikhete Vrydag die 13e (nogal) op Rayton. Ek is sonder Metgesel, maar met ‘n sonderlinge hongerte en ek is vlak by Die Drommedaris. Ek besluit om dit aan boord te waag.
Die nuwe, nuwe eienaar het die plek netjies gemaak en duidelik word dit netjies en skoon gehou.
Onder sekere van vorige eienaars het dit ‘n reputasie gekry as ietwat van ‘n ‘rowwe plek’ met redelike ‘rowwe’ ouens wat onder die klante getel het. Ek kan na dese met blydskap berig dat nuwe eienaar Die Drommedaris herstel het na ‘n familievriendelike kuierplek vir vredeliewende mense.
Jy kan binne plaasneem in die eetvertrek, wat ook die kroegie huisves, of jy kan buite by ‘n onderdak-tuinsteltafel loop sit.
Die Drommedaris se eetsalon en stuurkajuit
Lekker koel is dit buite, met ‘n luggie wat roer en ‘n groot palmboom wat koelte op die sinkdak gooi. Dit het bykans ‘n straatkafee-effek. Buite word ek ook nie gedwing om na die effe luide ‘musiek’ te luister nie.
Die spyskaart wat die netjiese blonde kelnerin aanbring, is redelik lywig. Die verskeidenheid is groterig, en baie ‘tradisioneel’, kan jy maar sê. Al die ou, bewese ‘staatmakers’ kan jy hier kry.
Wat opvallend en vir my ietwat onverstaanbaar is van die spyskaart, is dat die enigste Afrikaans daarop die plek se naam is: ‘Die Drommedaris Restaurant.’ Verder net Engels, alles Engels en nie oral korrekte Engels nie. Nie dat die Engels assulks vir my onverstaanbaar is nie, ek sukkel net om te verstaan hoekom dan net Engels as jou klantebasis seker ‘n goeie 90 persent uit Afrikaanssprekendes bestaan? Daarby het die ouens wat met die Drommedaris aangekom het, allermins Engels gepraat. Maar dit nou daar gelaat.
Die “Kids Menu” vaar redelik wyd: Van ‘n “little pirate breakfast”, of ‘n “kids sailor” van iewers net oor die R20, tot ‘n “kids chicken ‘stripes’ and chips” teen R47. Terloops, verfrissend is die mooi afgeronde pryse oral op die spyskaart. Nêrens sien jy die oëverblindende ‘,95’ of ‘,99’ sent agter die randprys nie.
Die “Breakfast Menu” is die een waarin ek belangstel want dis laatoggend en ek is voordag vort by die huis, sonder ‘n langasem-ontbyt. Ek oorweeg die “mixed grill” en is bly om te sien iemand het onthou van my kindertydse gunsteling – die allegaartjie. En vertrou die “stake” en “beef putty” daarby is net vingerfoute. Dit weeg in teen R80 en is die duurste item onder die ontbytkeuses, wat ruim en billik geprys is.
‘n Amperse straatkafee-effek
Ek geniet ‘n goeie en baie groot filtreerkoffie terwyl ek wag op die peri-peri hoenderlewertjies met roereier en roosterbrood wat ek bestel het. Kelnerin vra of die lewertjies matig, medium of sterk moet wees. Ervaring het geleer dat dit gewoonlik ‘sterk, sterker en baie sterk’ beteken en ek kies ‘matig’.
Dis ‘n allemintige porsie lewertjies met ‘n voortreflike brandsousie wat aankom. Net reg. Die roereiers is donsig en ‘n diep, graanhoendergeel en die bruin roosterbrood is perfek saam met die brandlewertjie.
Ek het gevra vir ‘n stukkie boerewors saam. Die wors wat aankom is van voorarm-afmetings, lekker los gestop en sterk gekrui. Die lewer-ontbyt kos ‘n billike R45.
Stokvis, Calamari of ‘n kombinasie daarvan, is die drie seekoskeuses. Vir Metgesel bestel ek die gekrummelde calamari-ringe met skyfies in ‘n wegneempakkie en later moet ek hoor hoe baie sy dit geniet het. Dit kos R80. Ek verneem sushi sal eersdaags Die Drommedaris meer van ‘n see-gestalte gee.
Die burger-frikkadelle word belowe om van suiwer beesmaalvleis te wees en word oor die vlamme gaargedoen. Die hamburgers wissel in prys van tussen R52 en R79. Roosterbroodjies kan jy teen R30 en net meer as R30 aankoop en die ‘wraps’ kos R45.
Die vleiskosse is grootliks beperk tot braaigeregte van bees met varktjops, -ribbes en eisbein as afwisseling. Die eisbein weeg in teen ‘n volle kilogram en kos R127. Verskillende kruisskyfkeuses weeg 300 g met die prys ‘n effe oor die R100. Beeshaas (fillet) weeg ook 300 g en kos R130 en met hoenderlewers daarby, R145. Slaaie en nagereg is uiteraard beskikbaar en Die Drommedaris spog met sy tuisgemaakte beespastei teen R70.
En ja, dis weer aangenaam by die plekkie en dis veilig . . .
Jy kan hulle bel by: 083-570-8291. |