Wat nie doodmaak nie . . PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 24 November 2015 20:28
Untitled Document

Toe hy grootgeword het, sê Gert Mossie, was dinge baie anders. Dinge was eenvoudiger. Jy het geweet wat jy geweet het en jy het geëet wat jy geëet het – sonder om te wonder of dit wat jy nou op jou vurk gaan laai jou nie dalk siek, dom, of dood gaan maak nie.

Hulle het destyds nog geglo in die wysheid van "wat nie doodmaak nie, maak vet,” sê Gert. Maar toe vind die navorsers kastig uit dat vet jou inderdaad doodmaak en sedertdien is elke denkbare ding wat jy kan eet in sy malle peetjie in nagevors.

Wat gister nog goed was vir jou, is more dodelike gif. Maar, wag jy net 'n jaar of wat, vors hulle daai einste dodelike dis só na dat dit skielik weer 'n soeper gesonde gedoente word. Dis 'n bogspul, sê Gert, en hy is nou al net mooi tot barstens toe dik daarvoor.

Toe hy nog 'n leerling-mens was, was die keuses van wat om te eet en ook van waar om te eet, baie kleiner en makliker as wat dit vandag is. Jy het jou groente geëet want dit was goed vir jou en jy het dit opgeëet, want jou ma het gesê jy sal – as jy weet wat goed is vir jou . . .

‘Uiteet’ was toe ook ‘n baie minder ingewikkelde affêre, sê Gert. Daar was nie die magdom restaurante van elke aard en oorsprong soos wat daar vandag is nie. Jy het hoogstens op ‘n Sondag as gesin middagete by die Transvaal Hotel loop uiteet: Sop, dan vis, dan kookkos, poeding en dan kaas en beskuitjies. Baie grênd, sê Gert. Dit het op ‘n Sondag ná kerk gebeur, want dan was jy klaar in jou grênd klere.

Die naaste wat jy aan Mediterreense ‘uiteet’ gekom het, was ‘n ‘paai en gravy’ by die Griek se kêffie op die hoek en Portugese kos was ‘n kissie mangos van ou Da Silva se ‘Madeira Garden Market’ in Kerkstraat.

Jou ervaring van Indiese kerriegeregte was hoogstens ‘n ‘bunny chow’ as die gesin afsit Durban toe vir die wintervakansie of op die Krugerdag-langnaweek in Oktober. As jy my toe gevra het wat Thai-kos is, sou ek gesê het dis beesstert wat nie lank genoeg in die pot was nie, sê Gert. Dinge was anders.

Pasta was ‘n ding waarmee jy tande geborsel het en pizza was ‘n skewe toring iewers in Italië. Sushi kon dalk ‘n dronk ou se roep na sy suster wees en rou vis was aas, nie kos nie, sê Gert.

Brood was die stapelvoedsel van sy geslag, sê Gert. As iemand toe vir jou wou vertel dat brood eintlik baie sleg is vir jou, soos wat navorsers nou glo uitgevind het, sou jy gedink het die ou is betotteld in sy kop.

En brood was óf wit, of dit was bruin. Armer mense het bruinbrood geëet. Die enigste ander verbuiging van meel, was koek of beskuit. Vandag kan ‘n ou ‘n week lank langs die soeperwinkel se broodrak op-en-af loop voor jy kan besluit wat jy in jou koopmandjie wil laai.

Winkelbrood is in ‘n papierkardoes aangekoop en jy het dit self met ‘n broodmes op ‘n broodplank by die huis loop sny – net so dik as wat jy wou.

Op jou brood, ma-gebak of aangekoop, het jy regte botter gesmeer en jy het dit dik gesmeer. Toe vind iemand op ‘n dag mos uit dat botter ‘n dodelike ding is en skielik word kunsbotter uitgedink. Hulle gooi kleursel en stolmiddels by plantvet en noem dit ‘margarine’. Vir jare was dit goed vir jou, maar toe vind hulle uit dit is nie en dat botter eintlik nog altyd beter was en so dinges dit voort, sê Gert.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online