Gif maai onder kordate kwikkies PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 24 November 2015 20:23
Untitled Document

In die sewentiger jare was kwikkies sekerlik die bekendste voëltjie in Pretoria se voorstedelike tuine.

Hulle getalle is ernstig uitgedun toe meer mense gifstowwe op hulle grasperke begin gebruik het.
Dié vriendelike voëltjies bly naby aan mense, kan ongelukkig baie gou mak word en vind hulle eie weerkaatsing teen huise se vensters bykans onweerstaanbaar. Kwikkies sing gewoonlik vanaf hoë sitplekke soos huise se dakke. Hulle roep is ‘n helder ‘tsieee-tjie-tjie’ geluid en ‘n trillende fluitsang.


‘n Kwikkie voer haar kleintjies
Foto: Flickriver

‘n Kwikkie verkies onbeboste gebiede met kort gras waar hy sy prooi kan sien. Daarom is hulle goed aangepas om op grasperke en plaveisel te jag. Hulle vreet hoofsaaklik insekte, maar sal ook klein vissies en paddavissies vang.

Die kwikkie is bekend vir sy parmantige stappie op grasperke – hy gee doelgerigte, groot treë terwyl hy sy stert die heeltyd op en af beweeg, vandaar die Engelse naam ‘wagtail’. Hy sal egter gereeld insekte in die lug jaag en sal selfs afduik om prooi van die wateroppervlakte af op te skep.


Kwikkies baklei graag met die voëltjie in die spieël
Foto: Sue Whitelaw

Familie
Die gewone kwikkie, Motacilla capensis, hoort in die familie Motacillidae, wat kwikstertjies, koesters en kalkoentjies insluit. Hy word aan die langerige, voortdurend wippende stert van die genus gekenmerk.
Kwikkies is 19 tot 20 cm lank, omtrent so groot soos ‘n spreeu, maar skraler met ‘n langerige stert en ‘n kort, reguit en gepunte snawel. Sy snawel, bene en kloue is swarterig.

Volwassenes se boonste vere is grysbruin met ligte vlerkrante. Die bopunt van sy kop is ook ‘n bruinerige grys kleur en hy het ‘n kort wit wenkbrou. Kwikkies het ’n ligter borskant met ‘n meer gryserige kleur op die flanke en ‘n nou donkergrys, v-vormige borsband. Die buitenste stertvere is witterig en sigbaar in vlug.

Jong voëls is valer en het ’n geel onderkant.


Die kwikkie se kordaat stappie – hy gee doelgerigte, groot treë terwyl hy sy stert die
heeltyd op en af beweeg
Foto: Alan Horstmann

Broei
Kwikkies broei dwarsdeur die jaar, maar hoofsaaklik in die somermaande. Die koppievormige nessie word bo-op ‘n stewige fondasie van gras, onkruid, klein worteltjies en selfs ou lappe gemaak.

Die nes word gewoonlik in ‘n holte teen ‘n spruitwal, ‘n muur of onder ‘n dak gebou, maar dit kan ook op die grond of bykans enige ander plek gemaak word.

Daar word een tot vyf, gewoonlik drie, eiers gelê wat na 13 tot 15 dae uitbroei. Die mannetjie en wyfie neem beurte met die broeiwerk. Die kleintjies bly vir 14 dae in die nes terwyl hulle deur hulle ouers gevoer word.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online