Vele verhale agter Brandbach se naam PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 24 November 2015 20:22
Untitled Document

Wat is die ware verhaal agter die plaas Brandbach se naam? Baie mense het gereageer op verlede maand se brokkie oor die Breytenbach wat na Brandbach herdoop is nadat die hele plaas en omgewing noord-oos van Cullinan afgebrand het.

Verskeie mense het gebel om te sê dat die Breytenbach nié die eienaar van die plaas was nie. Die plaas het sedert die middel 1800’s aan die Voortrekker, Daniël Malan, behoort. Breytenbach was saam met hom toe hulle sy beeste na winterweiding op sy plaas by Klipbank naby Groblersdal getrek het, sê Floors Steenkamp.

Toe hulle Papkuilfontein bereik, het Malan onthou dat hy iets op die plaas vergeet het, en hy het Breytenbach terug gestuur. Breytenbach het glo in die hartbeeshuisie pyp gerook en het so die hele plaas en omgewing afgebrand en die pyproker is deur Malan na ou Brandbach herdoop.


Martha Louise Malan, Daniël Cornelius se vrou
Sketse: Retha van Zyl

Bokkie
Phillip (Bokkie) Breytenbach het vir ons geskryf dat Andreas Breytenbach, ook bekend as Boelie, sy groot-oupa was. Hy is op 9 Mei 1845 gebore en is met Rachel Gesiena Phillipina Prinsloo getroud. Hy is op 19 Junie 1928 oorlede en is op die plaas Kameelpoort begrawe.

Boelie en twee van sy seuns, Andries en Bokkie se oupa Flip, is op 27 Oktober 1901 op Kameelpoort deur die Engelse gevange geneem en na Bermuda gestuur. Bokkie se groot-ouma Rachel en die dogters, sowel as haar jongste seun van 10 jaar oud, is op 1 November 1901 gevange geneem en na Balmoral konsentrasiekamp geneem. Hulle was in tent nommer 775.

Ná die oorlog, toe die burgers terug gekom het, het hulle gevind dat die huis afgebrand is en al die vee doodgemaak of gesteel is. Boelie Breytenbach was so verbitterd dat hy die plaas daar vernoem het na Brandbach, want hy het gesê dit voel of hyself verband is.

Bokkie sê hy het nooit gehoor dat sy groot-oupa die plaas afgebrand het nie. Die hele familie het na Kameelpoort verhuis waar Bokkie en sy twee broers grootgeword het.

Malans
Intussen het Jan-Danie Malan ons gebel om te sê dat hy ‘n afstammeling is van die Voortrekker Daniël Malan, wat hom in 1849 op die plaas gevestig het. Hy het vir ons sketse gestuur van die Voortrekker se seun, Daniël Cornelius (Cornelis), en sy vrou, Martha Louise.

Daniël Cornelius was min of meer 10 jaar oud toe hulle op die plaas ingetrek het. Dié plaas se naam was oorspronklik Mooifontein, maar is as Brandbach geregistreer.

Jan-Danie sê dat die Malans van Franse afkoms was en dat die plaas vernoem is na die brandende stroompie. Die Malanspruit vorm ‘n kom op dié plaas en ‘bach’ is die Franse woord vir stroompie. (Bach is wel die Duits vir stroompie. Die algemene Franse woord daarvoor is ‘ruisseau’. – Red)
“My pa vertel dat toe hy op die plaas geboer het, hy self gesien het hoe brandende graspolle in ‘n veldbrand afbreek en in die stroom afdryf om die veld op ’n volgende plek aan te steek,” sê Jan-Danie.

Hy sê sy pa het hom ook die storie van ’n Breytenbach, wat op die plaas moes agterbly en oppas, vertel. Dié ou was glo kwaad en het toe die plaas laat afbrand. Maar dit is nie ’n bevestigde storie nie, sê Jan-Danie.


Daniël Cornelius Malan, seun van die eerste bewoner, Daniël Malan
Sketse: Retha van Zyl

Voortrekker
Volgens die Malan-Familiebond is Daniël Malan op 13 Junie 1799 in Kaapstad gebore. Hy was die seun van Jacob Malan en Cornelia, ‘n nooi Mostert. Hy is op 15 September 1799 in die Kaapstadse NG Kerk gedoop.

Daniël is op 17 Augustus 1828 met Margaretha Johanna Susanna van Niekerk, wat op 8 April 1808 in Swellendam gebore is, getroud. Sy was die dogter van Johannes Wilhelmus van Niekerk en Margaretha Maria Spies.

Hulle het in 1838 met die Groot Trek vanaf Swellendam getrek en op Brandbach begin boer. Volgens WikiTree het hulle die volgende kinders gehad: Jacob Cornelis; Johannes Wilhelmus Hendrikus; Cornelia Jacoba; Daniël Jacob Cornelis; Margaretha Maria (later van Jaarsveld); David Jacobus; Cornelia Maria Elizabeth (later Van Niekerk); Gerhardus Theodorus; Izak Andreas; Louisa Elizabeth; Stephanus Petrus; en Cornelis Johannes.

Daniël is op 5 Desember 1881 op Cullinan oorlede en Margaretha op 23 Augustus 1889.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online