Groot boeredag vir die klein boer gehou PDF Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 11 November 2008 04:46
Untitled Document

Elsabé Maré

Die Landboukorrels Boeredag is in Oktober by die Cullinan Boere-Uniesaal aangebied om die klein boer en hoewebewoner te help om die beste waarde uit hulle grond te kry.

Uitstallings en demonstrasies met die fokus op boerderybedrywighede is gehou. Die tegniese program het kommersiële boere, naweekboere en selfs stedelinge betrek met praatjies oor besproeiing, bemesting, organiese- en biologiese boerderymetodes en dieregesondheid. Vraetyd het lewendige besprekings uitgelok.

Leersame demonstrasies is aangebied, soos hoe om bokmelkprodukte te maak, medisinale plante te gebruik, swepe te vleg en effektiewe mikro-organismes in besproeiing te gebruik.


Die osse, met name soos Skinker, Hoogmoed, Goudveld en Buffel, lê nog rustig, maar alles is gereed om hulle in te span. Marlene Sturgeon en Philip Roux staan by hulle.

Foto: Elsabé Maré

Die osse is ingespan.

Foto: Paul Bosman.
.
.
.

.

Die landwye Groot Goliat van Gat pampoenwedstryd is hier bekendgestel. Dié pretkompetisie is die breinkind van Louis Meintjies en het ten doel om mense meer bewus te maak van landbou en te wys hoe kwesbaar boerderybedrywighede is.

Radio Pretoria se woonwa was daar en stalletjies het gewissel van tipiese tuisnywerheid bak- en brousels, tot gesofistikeerde 4X4- voertuie waarvan elke plaasboer droom. Vanjaar was daar heelwat diere teenwoordig, en mense het hulle vergaap aan die inheemse Tulibeeste en Pediskape.


Jaap Roux het die buite-uitsendings van Radio Pretoria hanteer.

Foto: Elsabé Maré

Daar was moddervet Drankensbergerbeeste, redelik onbekende Pinzgauers en die bonkige Dextertjies. Landboukorrels-Boeredag is aangebied deur die Transvaalse Landbou- unie (TLU) en Radio Pretoria. Die dag het sy ontstaan gehad en sy naam gekry by Radio Pretoria se landbouprogram, Landboukorrels, wat daagliks uitgesaai word.

Die aanbieders van Landboukorrels bied jaarliks in die lente so ’n byeenkoms aan. Aanvanklik was dit daarop gemik om die bekende radiostemme bekend te stel, en om mense die geleentheid te gee om die gesigte agter die stemme te leer ken.


’n Donkiekar was deel van die vermaaklikheid.

Foto: Paul Bosman
.
.
.

Die sesjarige Cloete Oosthuizen by ’n Tuli bul van Lekkerlagstoetery Ha! Ha! Ha! van Hennie Brisley, Hendrik Verwoerd en HP Steyn. Cloete was die hanteerder van die bul op die Landboukorrels Boeredag.
Foto: Hennie Brisley

Mettertyd het die byeenkoms, wat altyd by die Boskombuis, net buite Kleinfontein plaasgevind het, te groot geword vir die terrein. So is dié dag vir die eerste keer by Cullinan se Boere Unie-saal aangebied in Oktober.

Volgende jaar vind die Landboukorrels Boeredag weer vroeg in Oktober plaas op die terrein van die Cullinan Boere Unie.

Vir meer inligting, kontak Louis Meintjies by 082-461-7262l.

 

© 2019 Die/The Bronberger