Voortrekkers, generaals en presidente was vrymesselaars PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 27 October 2015 08:26
Untitled Document

Angie Kleijn

Voortrekkers, Boeregeneraals, bekende dominees en selfs presidente was in die vormingsjare van Pretoria lede van ‘n wêreldwye organisasie, wat ook ‘n invloed op stigtingsvaders van Amerika gehad het.

Die vrymesselaars sê dat hulle nie ‘n geheime organisasie is nie, maar ‘n organisasie met geheime. Was dit ‘n geheim dat Boeregeneraals en -offisiere soos Danie Theron, Piet Joubert, Piet Cronjé, Ben Viljoen, Louis Botha, JC Smuts, dr WJ Leyds, SG Vilonel, JP Wessels, Ben Havenga, Philip Botha,
HP van der Post, SPE Trichardt, Piet Visser, JH Olivier en George Band vrymesselaars was?

Vrystaatse en ZAR-presidente wat vrymesselaars was, sluit in, presidente MW Pretorius, Jan Brand,
FW Reitz en Francois Burgers; die waarnemende Vrystaatse president PJ Blignaut en waarnemende ZAR-presidente Schalk Willem Burger, Stephanus Schoeman en Daniël Jacobus Erasmus.

Só sê dr Jan van der Merwe in sy artikels, ‘Vrymesselary voor die aanvang van die Suid-Afrikaanse Oorlog’ en ‘Vrymesselary ten tye van die Suid-Afrikaanse Oorlog’. Jan het ’n doktorsgraad in antropologie. Hy was van 2007 tot 2009 ’n direksielid van die Afrikaner-Broederbond. Hy is die voorsitter van die raad van die Anglo-Boere-oorlog museum in Bloemfontein en werk as navorser by die Mangaung Metro Munisipaliteit in Bloemfontein.

Volgens Jan se navorsing was die volgende Afrikaanse taalvaders ook vrymesselaars: CJ Langenhoven, AG Visser, ‘Onse Jan’ Hofmeyr, Toon van den Heever, FW Reitz, AD Keet en AA Pienaar (Sangiro).

Suid-Afrika se eerste staatspresident ná republiekwording, Blackie Swart, was ‘n vrymesselaar en so ook die latere Vrystaatse administrateurs, Cornelius Wessels en AEW Ramsbottom.

Die lys van bekende Afrikaners wat by die vrymesselary betrokke was, is te lank om hier te noem. Dit strek van kolonel JCC Laas, die stigterslid van die Ossewabrandwag, Gustav Preller en advokaat Tielman Roos tot ‘n lang lys hoofregters, ministers en burgemeesters.


Drie vrymesselaar NG dominees: president Thomas Francois Burgers, David Pieter Faure en JJ Kotze. Regs is ds David Pieter Faure
Foto: www.boervolk.com

Vrymesselaars
Volgens Jan van der Merwe is die vrymesselaars ’n wêreldwye humanitêre organisasie. Hulle belangrikste funksie is om by gemeenskapsontwikkeling en liefdadigheidswerk betrokke te wees.

Jy kan net ‘n lid word as jy uitgenooi word en ná afloop van ’n inlywingsproses. Slegs ’n bestaande vrymesselaar kan ’n lid voorstel. Nadat die aansoeker die losie besoek het, word sy aansoek verwerp of aanvaar deur ’n geheime stemming: ‘n swart bal tel vir ’n nee-stem en ‘n wit bal vir ‘n ja-stem. Die kandidaat word gediskwalifiseer as daar ‘n swart bal tussen die wit balle in die stemkassie is.

Om as ’n kandidaat te kwalifiseer, moet jy: in ’n Opperwese glo; uit vrye keuse aansluit; minstens 18 jaar oud wees; vry wees (slawe mag nie lede word nie); geestesgesond wees en ’n goeie reputasie en moraliteit hê. Jy moet ook een of twee getuigskrifte van aktiewe vrymesselaars hê.

Volgens Jan kan net mans vrymesselaars word, maar ander bronne sê daar is glo twee vrymesselaarsordes in SA waarin mans en vrouens gesamentlik deelneem en een orde net vir vrouens.
Vrymesselaars kom as ’n losie bymekaar en die lede word as die losie beskou. Die private aspekte van die moderne vrymesselary hou met interne rituele verband, asook die metodes van herkenning van medelede binne die ritueel.

Die vraag is hoe die vrymesselaarsbeleid waarvolgens ‘n lid se eerste lojaliteit aan ander vrymesselaars moet wees, die Engelse Oorlog beïnvloed het. Daar is glo een ding wat selfs Boere en kakies op die oorlog se slagvelde kon sê om mekaar as vrymesselaars te herken en die dood vry te spring: O, Here, my God, is daar geen hulp vir die weduwee se seun nie?


Thomas François Burgers was die vierde ZAR-president van 1872 tot 1877
Foto: Wikipedia

Begin
Dit blyk dat vrymesselary, wat ten tye van die oorlog reeds bykans 130 jaar in die land was, toe groot aanhang geniet het.

Die Nederlandse skeepskaptein, Abraham van der Weijde, het die aanvoorwerk gedoen vir die eerste Nederlandse losie, die Goede Hoop, wat op 2 Mei 1772 in die Kaap gestig is. Abraham Chiron, ’n amptenaar van die Nederlandse regering, is tot meester van dié losie verkies.

Die eerste Britse anneksasie van die Kaap was in 1795. Op 28 Januarie 1798 het ’n Britse militêre losie, Africa No 1, ook bekend as De Afrikaan, vir die eerste keer by De Goede Hoop byeengekom.

Die eerste volwaardige Engelse losie, The British Lodge, is eers in 1811, ná die tweede Britse anneksasie van die Kaap, gestig. Die eerste Franse losie, die L‘Esperance, is in 1824 in Kaapstad geopen.

In 1828 was daar drie Engelse losies in die Kaap en nog een, die Albany Lodge, is in Grahamstad gevestig. Die Nederlandse losies het ook uitgebrei en in 1834 is De Vereeniging Losie op Graaff-Reinet geopen.


Pieter Jeremias Blignaut was 'n politikus, staatsamptenaar, staatsekretaris van die Oranje-Vrystaat (1879-1902) en het twee keer as staatspresident waargeneem, eers na die dood van staatspresident Brand (1888-1889) en weer na die bedanking van staatspresident Reitz
Foto: Wikipedia

Groot Trek
Die Groot Trek het van 1835 tot 1838 uit die oosgrensdistrikte van die destydse Kaapkolonie begin en verskeie Voortrekkers, soos Piet Retief, was aktiewe vrymesselaars.

Piet het Dingaan in November 1837 ontmoet en 'n verdrag onderteken wat grondgebied aan die Voortrekkers sou toeken. Na twee dae se feesvieringe, op 6 Februarie 1838, het Dingaan Piet se geselskap vermoor en hulle beendere is by moordkoppie laat lê.

In Desember daardie jaar het Andries Pretorius se kommando laergetrek in dié omgewing en ‘n paar trekkers is afgevaardig om die beendere te gaan soek en te begrawe.

Piet Retief se oorblyfsels is op 21 Desember 1838 uitgeken aan stukkies van sy satyn onderbaadjie, ‘n verweerde leersak waarin die traktaat tussen hom en Dingaan was en sy waterfles met vrymesselaar-simbole.

Volgens Denise Woods is vrymesselary se hoofsimbole op dié waterfles uitgekerf: die kompas, tekendriehoek, twee pilare van Boas en Jakin, die alsiende oog van Osiris, die son, die maan, die geruite vloer, ’n hamer en ’n driehoek met ’n straalson daaragter.


Schalk Willem Burger, ’n militêre leier, advokaat en politikus, was die waarnemende president van die ZAR van 1900 tot 1902, terwyl Paul Kruger in ballingskap in Europa was
Skets: Ria Erasmus

Sir Johannes Henricus Brand, bekend as Jan Brand, was die vierde staatspresident van die Oranje Vrystaat, van 2 Februarie 1864 tot sy dood in 1888
Foto: Wikipedia

Monument
Denise Woods se boek, ‘Oes die stormwind van volksgodsdiens’, het in 2006 verskyn. Daarin sê sy dat die feesvieringe ter herdenking van die eeufees van die Groot Trek in 1938 en die inhuldiging van die Voortrekkermonument in 1949 vrymesselaar-eienskappe bevat het.

Haar voorbeelde strek van die fondamentsteenlegging, die fakkelmarathon, die geloftes wat langs die ossewaroetes afgelê is en die lamp wat met die son se strale aangesteek is.

Denise verwys ook na vrymesselaar-simbole en -elemente in die monument se ontwerp en op die reliëfpanele, soos die altaar, die sonstraal, die vloerpatroon, die moeder-en-kind-uitbeelding en die goewerneur se handsimbool.

Dr Alta Steenkamp, senior argitektuur-lektor aan die Universiteit van Kaapstad, sê dat die Voortrekkermonument toevallig soos ’n vrymesselaars-tempel lyk omdat mildelik geleen is by ontwerp-idees van die Duitse Leipzig-monument.


Marthinus Wessel Pretorius was die eerste ZAR-president
Foto: Nation States

Argitek
Argitek Gerhard Moerdyk is in 1936 as boumeester van die Voortrekkermonument aangestel, maar dit blyk dat die komitee vir hom gesê het dat die monument soos die een by Leipzig moet lyk.
Alta sê dat hulle nie van die vrymesselaarsmotiewe bewus kon wees nie, omdat die vrymesselaars-tempel in die kelder van die Leipzig-monument eers ná die Tweede Wêreldoorlog gevind is.

Gerhard Moerdyk het in ‘Die Vaderland’ van 1936 in ’n verduideliking oor hoe die monument moet lyk, gesê dat die Voortrekkers geen argitektoniese erfenis nagelaat het nie. Hy het gesê ’n mens moet eerder ’n verwysing in die Bybel vind, want dit is wat die Voortrekkers sou doen.

Hy het na die Bybelse Abraham verwys en gesê daar moet ’n altaar gebou word om die Voortrekkers se opofferings te huldig, soos wat Abraham gedoen het. Hy het ook gesê dat daar baie sulke heiligdomme wêreldwyd is – die Mausoleum van Halicarnassus, die Altaar van Zeus, die Taj Mahal in Indië, die Dôme des Invalides in Parys, die Leipzig-monument en die Shrine of Remembrance in Melbourne.


CJ Langenhoven en sy vrou by die kerk in Oudtshoorn op die huweliksdag van hulle dogter, Engela, in 1926
Foto: Wikipedia

Kommandant-generaal Louis Botha
Foto: Wikipedia
.
.

Pieter Arnoldus (Piet) Cronjé, ZAR generaal
Foto: Vertroue in God en die Mauser
.
.

Terug
‘n Honderd jaar voor Gerhard Moerdyk dié verduideliking gegee het, was die Groot Trek in volle swang en daar was spanning tussen Engelse en Nederlandse Vrymesselaar-losies in die Kaapkolonie.

Die spanning het in die 1840’s toegeneem, veral nadat sir Christoffel Brand, vader van die latere Vrystaatse president, Jan Brand, grootmeester van al die Nederlandse losies in Suider-Afrika geword het (1847 tot 1874).

In dié tyd het die Nederlandse losies na Willowmore, Richmond, Paarl, Somerset-Oos, Adelaide en Malmesbury uitgebrei.

Jan Brand is op 5 April 1865 tot president van die Oranje-Vrystaat verkies en talle losies is geopen, waarvan dié in Bloemfontein, Philippolis, Winburg, Jagersfontein, Smithfield en Ficksburg onder die eerstes was.

Losies is ook in die ZAR, waar vrymesselaar Marthinus Wessel Pretorius president was, gevestig. Die eerste een, Flaming Star of Africa, is op 22 Mei 1865 in Potchefstroom gestig. Die Skotse en Britse losies het gesê dat nuwe Nederlandse losies glo onwettig gestig is.

Met die vorming van onafhanklike provinsiale losies in die ZAR, Oranje-Vrystaat en Natal, het ’n behoefte ontstaan dat meer streek-grootlosies gevorm moet word en dat Suider-Afrika sy eie verenigde grootlosie, onafhanklik van Engeland, moes hê. Dié beginsel is glo deur die Engelse losies as ongewens verklaar.


Petrus Jacobus (Piet) Joubert was kommandant-generaal van die ZAR van 1880 tot 1900
Foto: Wikipedia
.

‘n Beeld van Piet Retief by die Voortrekkermonument
Foto: Wikipedia
.

.

Benjamin Johannes (Ben) Viljoen was ‘n Boeregeneraal
Foto: EL Jackson, St Helena: The Historic Island, Ward, Lock & Co, London, 1903
.

Goudstormloop
Vrymesselaars mag glo nie politiek in hulle losies bespreek nie, maar die ontdekking van diamante en goud en die Engelse imperialiste se pogings om die twee Boere-republieke, die ZAR en die Oranje-Vrystaat, van hulle vryheid te beroof, moes sekerlik spanning tussen Nederlandse en Engelse losies veroorsaak het.

Die Britse regering het die gebied rondom Kimberley (Griekwaland-Wes) in 1870 geannekseer. Op
28 Junie 1872 is ’n Engelse losie, die Cosmopolitan, in Kimberley geopen.

Volgende op die anneksasie-lys was die ZAR. Shepstone het op 22 Januarie 1877 met 25 berede polisiemanne en agt amptenare in Pretoria aangekom om “sekere griewe met president Francois Burgers te bespreek”. Die ware doel was egter anneksasie.

In die begin van 1879 was daar drie Nederlandse losies in die ZAR: Aurora in Pretoria, Flaming Star in Potchefstroom en Oranje in Rustenburg. Daar was een Engelse losie, die Transvaal, wat in 1878 in Pretoria gestig is.

Die ZAR-volksraad het in Desember 1880 vergader, krygswet is afgekondig en die eerste skote van die Eerste Vryheidsoorlog is afgevuur. Die Boeremagte het die Engelse op 27 Februarie 1881 by Amajuba verslaan en die ZAR het sy onafhanklikheid teruggekry.

Ná dié oorlog was daar ‘n depressie van 1882 tot 1886 en honderde vrymesselaars was verplig om te bedank en tientalle vrymesselaarslosies het gesluit.


Piet Retief
Bron: SA History
.
.
.

Kommandant-generaal Stephanus Schoeman, bekend as ‘Stormvogel den Noorden’, was waarnemende staatspresident van die ZAR van
6 Desember 1860 tot 17 April 1862
Foto: Wikipedia

Rhodes
In 1890 het ’n invloedryke vrymesselaar, Cecil John Rhodes, die premier van die Kaapse parlement geword. Hy het die steun van JH Hofmeyr, wat toe die meester van die Nederlandse losies in die Kaap was, se Afrikanerbond politieke party gehad.

Vrymesselary in Suid-Afrika het in 1890 sy eerste joernaal gekry, die ‘SA Freemason’. Die redakteur,
W Darley-Hartley, was ’n mediese dokter van Oos-Londen en ’n Rhodes-ondersteuner, en het met sy joernaal gepoog om al die losies in Suid-Afrika onder een verenigde losie te kry en onafhanklik van die vrymesselary in Engeland te maak. Hy wou Rhodes die grootmeester hiervan maak.

Dié idee is by ’n konvensie op 18 Oktober 1892 in Kimberley bespreek waar 227 losies vir ’n verenigde losie gestem het, 241 was daarteen en 25 losies het buite stemming gebly. Die Nederlandse losies, onder hoofsegsman ds DP Faure, was by die Kimberley-konferensie teen dié gedagte gekant.

Intussen is twee nuwe Nederlandse losies in die ZAR gevestig, die Libertas in Krugersdorp en De Broederbond in Pretoria. In 1892 was die ledetal van die Nederlandse losies 587.

Drie nuwe Engelse losies is in Mei 1889 in die ZAR gestig: die Johannesburg in Johannesburg; die Royal Albert in Klerksdorp en die El Dorado op die myndorpie Malmani. Die Skotse losies het gevolg en die Golden Thistle is in November in Johannesburg gestig.

In 1893 het Londen toestemming gegee om nog Engelse losies in die ZAR te vestig: Die Gold Field in Johannesburg; asook die Boksburg-, Jeppestown-, Germiston- en Zoutpansberg-losies.

Intussen het een van die grootste opstekers vir Rhodes se Jameson-inval, JE Green, in Londen aansoek gedoen om ’n streek-grootmeester vir die ZAR verkies te kry. Londen het ingestem, en George Richards is verkies.


Danie Theron as kommandant van die Wielrijders Rapportgangers Corps, 1899
Foto: Wikipedia

Inval
Rhodes het gevrees dat die ZAR met sy goud en ’n eie spoorweg na Delagoabaai, sy wil op die Britse gebiede sou kon afdwing. Die spoorlyn tussen Pretoria en Delagoabaai, wat die ZAR onafhanklik van Britse hawens sou maak, is in 1895 in gebruik geneem.

Rhodes se plan om dit te keer was die Jameson-inval in 1895. Na die mislukte Jameson-inval is vrymesselaar streek-grootmeester, George Richards, in hegtenis geneem. Hy is later vrygelaat nadat hy ’n boete van meer as 2 000 pond vir sy aandeel in die mislukte Jameson-inval betaal het.

Sy betrokkenheid by die mislukte opstand en die Jameson-inval het tot ’n hewige debat binne vrymesselaarskringe gelei. Die Engelse losies het sy gedrag goedgepraat en dit was duidelik dat lojaliteit aan die Britse kroon vrymesselarybeginsels oorskry het.

Jan van der Merwe sê dit is insiggewend om daarop te let dat die persone aan Boerekant wat primêr vir die oorwinning oor Jameson verantwoordelik was, generaals Piet Cronjé en Piet Joubert, altwee aktiewe vrymesselaarlede was. Altwee was betrokke by die vrymesselaars tot ná die Engelse Oorlog, en het selfs op St Helena ’n vrymesselaarswerking bygewoon, terwyl Jameson daar as krygsgevangene aangehou is.

Die mislukte inval het vêrreikende gevolge gehad. Generaal Cronjé se oorwinnings het burgers geïnspireer en die ZAR en Vrystaatse Republiek het in 1897 ’n verdediging- en aanvalsverbond gesluit.
Die Kaapse Afrikanerbond, wat die ZAR voorheen gekritiseer het, het sy steun aan Rhodes onttrek en hy was verplig om as premier van die Kaapkolonie te bedank.


Joernalis Jan Hendrik Hofmeyr (Onze Jan) was by ‘De Zuid-Afrikaan’, ‘Ons Land’ en die ‘Zuid Afrikaansche Tijdschrift’
Foto: Wikipedia

Francois Petrus (Toon) van den Heever, digter en Hertzogprys-wenner
Foto: Geni.com
.

Oorlog
In 1898 het die Engelse konstitusie uit 24 losies bestaan met ’n 1 838-ledetal. Elf van dié 24 losies was in die ZAR.

Nadat die krygswet in 1899 afgekondig is, het die meeste van die vrymesselaarslosies in die Boererepublieke hulle werksaamhede gestaak en baie van die uitlanders wat aan die Engelse losies verbonde was, het die ZAR verlaat.

Die eerste gevegte van die Engelse Oorlog was op 20 Oktober 1899 by Talana, naby Dundee. Die gevegte het van hier af na Ladysmith verskuif waar kommandant-generaal Piet Joubert, ’n vrymesselaar van De Broederband-losie in Pretoria, betrokke was.

Jan van der Merwe sê dat die Boeremagte nooit enige skade aan enige van die vrymesselaarslosies in die oorlog aangerig het nie. Die enigste aangetekende geval van poging tot skade deur Boerekrygers was in Dundee waar Boererebelle een keer die meubels in ‘n vrymesselaarslosie probeer plunder het.

In die Britse publikasie, ‘Freemason’, van Julie 1902 word berig dat die Boere geboue met ’n erkende verbintenis tot vrymesselary by meer as een geleentheid van vernietiging gered het.

Tog het die Britse troepe hulle skuldig gemaak aan vandalisme en plundery van vrymesselaar-geboue en is baie losies deur die Britte ook as hospitale, store of kantore gebruik.


Charles Robberts (Blackie) Swart, die eerste staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika van 1961 tot 1967
Foto: Wikipedia

Digter Andries Gerhardus (AG) Visser, bekend as die Sanger van Suikerbosrand
Foto: Zuid-Afrikahuis
.

Samewerking
Volgens vrymesselaarsbeleid behoort ‘n lid se eerste lojaliteit aan ander vrymesselaars te wees. Dit het Boereverkenner, kaptein Danie Theron, wat ’n lid van die Krugersdorpse losie was, goed besef.

Hy het ‘n trein, wat op pad na Johannesburg was, gebuit en 47 Britse gevangenis op ’n mede-vrymesselaar, kolonel JG Stowe, se versoek vrygelaat. Stowe, die konsul-generaal van die VSA in Suid-Afrika, was ‘n passasier in dié trein se salonwa.

Dit lyk asof Danie een van die min vrymesselaars was wat dié beleid gevolg het. In 1899 het die grootlosie van die Nederlande 2 000 gulders gestuur om die nood net onder Hollandse vrymesselaars te verlig. In 1901 is ’n verdere 8 300 gulders gestuur.

Meer as £10 000 is deur die Engelse Stigtingsvrymesselaars in Suid-Afrika ingesamel vir hulle eie broeders se noodverligting, maar daar is gespesifiseer dat geen van dié geld ter verligting van die nood van Skotse, Ierse of Hollandse vrymesselaars gebruik mag word nie.

  • Mense wat meer hieroor wil lees kan gaan kyk na: AA Cooper se boek, ‘The Freemasons of South Africa’, wat in 1986 deur Human & Rousseau uitgegee is; OH Bates se boek, ‘The Lodge De Goede Hoop’, wat in 1947 deur Struik uitgegee is; of TN Cranstoun-Day se boek, ‘The British Lodge No 334 and English Freemasonry at the Cape of Goed Hope, 1795–1935’ wat in 1936 deur Collins Books uitgegee is.
 

© 2018 Die/The Bronberger