Swartbordkos by ‘n bosveldplek PDF Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 27 October 2015 08:24
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Ons bevind ons op ‘n snikhete Sondag weer op die perseel waar ek en Metgesel een van ons heel eerste saamkuiers vir die Bronnie ingewerk het. Die kuierplek, vlak by Kitty Hawk in Boschkop, het intussen dikwels van eienaar, van aard en ook van naam verander.

Hulle noem dit deesdae die ‘Bosveld Lounge’ en dié naam pla my effe. Dit is soos om jou restaurant in Londen ‘The Queen’s Voorkamer’ te noem, dink ek. Maar ons staan nader en neem plaas by ‘n tafel in die voorhuis onder ‘n dekgrasdak.


‘n Kuiertafel in die tuin

‘n Welkome luggie roer deur die vertrek om die hetige son te versmaai. Jy kan ook op die stoep of in die mooi tuin onder ‘n koelteboom loop sit. Ons kry iets kouds vir die keel van die kroeg af.

Sondag is buffet-dag by dié ‘lounge’ en die selfhelpkoskeuse is netjies en groot op ‘n swartbord agter die ry kosskottels aangebring. Ek hou van dit wat ek op die swartbord sien: Geroosterde beesstuk, wildspastei, rys, gebakte aartappel, botterskorsie en blomkool-met-kaas. As daar groenboontjies by was, sou dit byna volmaak wees. Nagereg is malvapoeding met roomys. Dit alles teen ‘n baie billike R79,95. Vir kinders jonger as 12, betaal jy R20 minder.

Metgesel is eweneens beïndruk met die swartbordkos, maar ons sit met ‘n probleempie; Sy eet mos nie soogdiere nie. Ons hoor by die opskep-ou of ons dalk iets bykomstigs vir haar van die spyskaart af kan bestel. Dit word sonder probleme gereël en teen geen ekstra koste sou ‘n allemintige hoender schnitzel later die helfte van haar (groot) bord vollê. ‘n Baie lekker schnitzel daarby, berig Metgesel.


My soort skottelkos op ‘n Sondag

Net gou iets oor die spyskaart: Die verskeidenheid is redelik groot en uiteenlopend van aard en die pryse is uiters billik. Soos die plek se naam is dit tweetalig en keurige en oorspronklike Afrikaans word gebruik.

Ontbyt wissel van roereiers met roosterbrood (R15,95) tot ‘n ‘stywe ontbyt’ teen R45,95.

Jy kan ‘n hele rits ‘beginnertjies’, soos skilpadjies (R34,95) bestel. Onder die hofie ‘Groot Etes’ is ‘n T-been van 500 g teen R89,95 en ‘n halwe hoender teen R45,95, of ‘n ‘poppie tjoppie (ladies rump) teen R75,95.

Visgeregte, pasta, selfbou-pizza (R79,95), kroeghappies en kroegmandjies, burgers en broodjies en nog wat, kom ook op die spyskaart voor.


Die voorkamer van die ‘lounge’ met die dag se keuses teen die muur agter die opskepskottels

Soos dit ‘n plek met ‘bosveld’ in sy naam sou betaam, het jy ook ‘n aantal wildsgeregte om van te kies. Die pastei kan ek sonder skroom aanbeveel.

Ons het lekker geëet en goed geëet by die ‘Bosveld Lounge’. Die gebraaide beesstuk was voortreflik en sy sous het getoor met die rys. Die groente is met sorg voorberei en die malvapoeding was sponsig en smaaklik.

Dit is ‘n gemoedelike, kindervriendelike kuierplek. Sprekend was die antwoord van ‘n ou in die swembad toe iemand hom teen 3-uur vra of hy dalk die eienaar is: “Nee,” sê die ou, “ek het gekom vir ontbyt, maar dis so lekker hier ek dink ek slaap sommer oor.”

Jy kan hulle bel by 012-811-8234.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online