Platjie jaag hele sirkus op hol PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 27 October 2015 08:22
Untitled Document

Dit was in die dae toe ‘n besoek aan Boswell en Wilkie se sirkus die hoogtepunt op die sosiale kalender van menige plattelandse dorpie was.

Destyds was die vermaak meestal beperk tot kerkbasaar, boeresport en skinder en ook ‘n paar ander goed waaroor nie juis gepraat of selfs geskinder is nie.

Maar as Boswell en Wilkie die dag die dorpie binneparadeer, het die toppunt van die jaar se vermaaklikheid aangebreek.

Soos dit maar in elke gemeenskap gaan, het dié betrokke Riemlandse distrik ook sy uitblinker platjie gehad. Bertus de Wet van die plaas Pandora was ‘n poetsbakker en dingesaanjager by uitstek.

So gebeur dit dat Bertus dié aand in die voorste gestoeltes van die sirkustent sit toe Boswell se dogter en haar span getemde leeus aan die beurt kom.

‘n Aanvallige leeutemmer, was die nooi Boswell, vertel dié wat onthou. Met ‘n parmantige kort rompie aan wat meer been wys as wat die meeste boere in daai geweste nog gesien het. Hulle sê as die Boswell-meisiekind haar arm bokant haar kop lig om die leeutemsweep te klap, dan buig die boere in die voorste rye hulle koppe so laag moontlik ondertoe vir ‘n beter uitsig.

Nou was Bertus ook ‘n mimiekkunstenaar by uitstek en kon hy wat Bertus was, die huilgeluid van ‘n klein wildsbokkie in nood, glo perfek namaak.

Hulle sê elke keer as me Boswell, met ‘n geklap van haar sweep, geswaai van die arms en gewip van haar rompie, haar leeus mooi netjies in ‘n ry op hulle stoeltjies maak sit het, dan laat waai Bertus met sy bokkie-in-nood-skreeu hier uit die voorbanke uit.

En dan breek daar die allervreeslikste pandemonium in daardie leeukuil los: Die vyfstuks leeus wat nou net hondmak en stroopsoet op hulle stoeltjies gesit het, ontaard  in wrede, wilde gediertes – wat hulle natuurlik eintlik is.

Die groot katte vloog van hulle sitplekke af en sit op loop – al in die rondte langs die tralies van die leeuhok af. Dit is ‘n gebrul dat die tentdak lig en in die verbygaan kap en byt die goed na mekaar in hulle poging om eerste by die bokkiegereg uit te kom.

Dit verg al die vaardighede van me Boswell om haar span vuilbaarde weer te kalmeer en onder beheer te kry. En net as die vertoning weer wil begin rigting kry, laat waai ou Bertus weer en die hele harlaboerla begin van voor af.

So het dit glo aangehou totdat die aanvallige leeutemmertjie dit net nie meer kon uitstaan nie. Hulle vertel dat sy soos blits by die hokhek uit is en toe Bertus hom kon kry staan sy hier voor hom en sy takel hom met haar leeusweep toe.

Toe die eerste sweepslag val, vlieg die stomme ou Bertus met ‘n gillende ‘eina knoopwoord!’ op en sit op ‘n loop van sy eie die gangetjie tussen die sirkusbankies af – met die sweepswaaiende me Boswell kort op sy hakke.

So is die twee naderhand op volle vaart die sirkustent uit – Bertus ‘n kortkop voor die klappende sweep en die ganse toeskouerskare juigend agterna.

Die vertoning is glo daar buite op die dorpsmeent – waar die sirkustent altyd staangemaak is – voortgesit. Me Boswell het vir Bertus tussen Tiekie die Nar se woonwa en die olifant vasgekeer en hom vernuftig met die sweep toegetakel, totdat ‘n smekende Bertus daarin geslaag het om die mooie me Boswell tot bedaring te bring.

Later sou Bertus de Wet vermakerig vertel dat die sirkusbaas hom ná die petalje genader en groot geld aangebied het, as Bertus bereid sou wees om sy vertoning op ander dorpe te herhaal . . .

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online