Meerkatte tjirp, fluit, grom en blaf met mening PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 27 October 2015 08:14
Untitled Document

Elke geluid wat ‘n graatjiemeerkat maak het ‘n spesifieke betekenis en sommige roepe dui die soort roofdier en die dringendheid van die situasie aan. Behalwe vir alarm-roepe, maak meerkatte ook paniek-, werwing- en trek-geluide. Hulle tjirp, fluit, grom of blaf, afhangende van die omstandighede.

Daar is verskillende alarm-roepe wat aandui waar ‘n roofdier gewaar word: in die lug of op die grond. Die akoestieke kenmerke van die roep verander ook saam met die dringendheid van die potensiële gevaar.
Ses verskillende roofdier alarm-roepe met ses verskillende betekenisse is al geïdentifiseer: roofdier in die lug met lae, medium en hoë dringendheid; en roofdier op die grond met lae, medium en hoë dringendheid.

As die meerkatte ‘n alarmroep vir ‘n roofdier op die grond hoor, kyk hulle rond en soek skuiling. Wanneer hulle ‘n alarmroep vir ‘n roofdier in die lug hoor, hurk hulle en kyk in die lug op. Hulle is glo so bang vir roofvoëls dat selfs ‘n vliegtuig die alarmroep laat weergalm.


Meerkat kleintjies

Graatjie
Die graatjiemeerkat, Suricata suricatta, wat ook as die stokstertmeerkat of slegs meerkat bekendstaan, is die enigste lid van die genus Suricata. Hulle het die naam ‘graatjie’ gekry omdat hulle lank en slank vertoon as hulle regop staan. Die gesig is gepunt met klein, halfmaanvormige ore en die oë is met swart vlekke omring.

Dié meerkatte is klein muishonde, wat tussen 0,5 kg en 2,5 kg weeg en 35-50 cm lank is met ‘n stert van ongeveer 25 cm lank. Anders as baie ander muishondspesies het die graatjiemeerkat nie ’n pluimstert nie, maar ‘n dun, geelbruin stert wat geleidelik dunner word tot by die swart punt. Hulle gebruik dié stert om te balanseer wanneer hulle regop staan en ook om vir mekaar seine te stuur.

Pelskleur hang van die meerkat se woongebied af: in suidelike dele het hulle ’n donkerder pels, terwyl dié in die noorde ’n ligter pels het. Hulle het gewoonlik ’n grys, ligbruin of bruin pels, met ’n silwer tint. Daar is horisontale strepe wat oor die rug strek, maar die onderkant het geen merke nie.

Die maag het ‘n gedeelte waar die haartjies yl groei en meerkatte gebruik dié deel om hitte te absorbeer as hulle op hulle agterbene staan, gewoonlik vroeg in die oggend.


Drie meerkatte bak in die vroegoggend-son
Foto: Wikipedia

Prooi
Meerkatte soek kos deur in die grond en gras te grawe en klippe om te keer. Hulle is spesiaal aangepas vir dié soort prooisoek. ‘n Beskermende membraan bedek hulle oë wanneer hulle in die grond grou. Hulle het vier tone aan elke voet en die kloue is groot sodat hulle beter kan grawe. Hulle kloue help die meerkatte om boom te klim.

Meerkatte vreet meestal insekte, maar sal ook klein soogdiere, akkedisse, slange, skerpioene, spinnekoppe, eiers en plantreste vreet.

Volwasse meerkatte het ‘n graad van immuniteit teen skerpioengif. Hulle sal aanvanklik vir hulle kleintjies skerpioene sonder sterte bring, maar leer hulle naderhand hoe om self van die gevaarlike sterte ontslae te raak voor die skerpioen verorber kan word.


‘n Meerkat vreet ‘n padda
Foto: Wikipedia

Kleintjies
Meerkatte is teen ongeveer twee-jarige ouderdom volwasse. Hulle kan dwarsdeur die jaar paar, maar wag gewoonlik vir gunstige omstandighede en die meeste kleintjies word van Augustus tot Maart gebore.

’n Wyfie kan tot drie maal per jaar kleintjies hê. Sy is elf weke lank dragtig, waarna sy in ‘n ondergrondse den aan een tot vier blinde en dowe kleintjies geboorte gee. Die ondergrondse tonnelstelsel kan tot 15 in- en uitgange hê en tot twee meter diep wees. ‘n Groep meerkatte kan in meer as een tonnelstelsel woon en wissel verskeie tonnels gewoonlik af.

Die kleintjies se oë en ore is toe met geboorte en hulle kan nie urineer of ontlas sonder stimulasie van hulle ma nie. Die ore gaan na 10 dae oop en die oë na 10 tot 14 dae. Die kleintjies word na so drie weke toegelaat om die tonnel te verlaat. Hulle soog tot hulle 49 tot 63 dae oud is.


‘n Meerkat grou vir insekte
Foto: Wikipedia

Sorg
Meerkatte is sosiale diere en ander in die groep help dikwels om die kleintjies te versorg en van kos te voorsien. Selfs wyfies wat nog nooit kleintjies gehad het nie, sal genoeg melk kan vorm om die kleintjies te soog. Meerkatwyfies staan regop op hulle agterbene terwyl hulle kleintjies drink.

Kleintjies begin kos soek as hulle omtrent ‘n maand oud is en leer hoe om dit te doen deur ‘n ouer lid van die groep, wat as die kleintjie se instrukteur dien, te volg.

Met die geringste teken van gevaar sal die meerkat wat na die kleintjies kyk, hulle ondergrond na veiligheid neem en is bereid om hulle te beskerm as hulle aangeval word.

Wanneer die groep na ‘n nuwe den trek, sal hulle die kleintjies aan hulle nekvelle soontoe dra.

Groep
‘n Groep kan uit tot 50 meerkatte bestaan en word gewoonlik deur ‘n dominante wyfie gelei. Sy skop soms ander wyfies en hulle kleintjies uit, en nuwe groepe word gevorm deur uitgesette wyfies wat by ‘n groep mannetjies aansluit.

Wanneer twee groepe meerkatte om ‘n gebied veg, staan hulle in linies en storm op mekaar af, baie soos ridders van ouds dit op die slagveld gedoen het. ‘n Meerkat-oorlog kan baie ongevalle tot gevolg hê en daarom probeer die diere sulke konflikte vermy deur intimidasie-taktieke.

Diere in dieselfde groep versorg mekaar se pelse en die alfa-paar sal hulle onderdane gereeld merk om hulle gesag af te dwing.

Meerkatte soek as ‘n groep prooi en daar sal altyd een meerkat op wag wees, wat aanhoudend ‘n gerusstellende piepgeluid maak om aan te dui dat daar geen gevaar is nie. Wanneer ‘n roofdier gewaar word, sal die meerkat-op-wag ‘n waarskuwende blaf of fluit gee.

’n Graatjiemeerkat kan 12 tot 14 jaar oud word. Hulle kan gou mak word, maar moenie as troeteldiere aangehou word nie. Dié meerkatte kan baie agressief raak teenoor besoekende gaste en sal die huis, wat hulle as hulle gebied beskou, reuk-merk.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online