Veelsydige Riana stal haar kuns uit PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 27 October 2015 08:00
Untitled Document

Riana Lombaard se liefde vir die kuns loop al van kindsbeen af met haar saam. Sy het kuns as haar voorkeur-vak aan die Klerksdorpse Hoërskool geneem en ná haar studies het sy haar werklewe van 25 jaar gewy aan die onderrig daarvan.

“Wanneer kuns in jou lyf is kan jy jouself nie losmaak daarvan nie. Dit volg jou soos ‘n skaduwee. Dit kan ook nie beskryf word nie. Elke kunswerk is ‘n ervaring,” sê Riana

Dié veelsydige kunstenaar hou vanaf 29 Oktober tot 6 November ’n uitstalling van haar werk by haar woning in die Willow Acres-landgoed, Silver Lakes.


Kunstenaar Riana Lombaard

Sy verf al vir so lank as wat sy kan onthou, sê Riana, en het as laerskoolkind ’n skets van ’n ballerina vir publikasie aan die destydse kindertydskrif, ‘Die Jongspan’, gestuur.

Sy was baie trots op haar skets, waaraan sy dae lank gewerk het en was bitter teleurgesteld toe die tydskrif ’n ander skets, wat volgens haar glad nie so goed was nie, publiseer.

Dit was volgens Riana haar eerste kennismaking met die onverstaanbaarheid van kuns. “Daar kan nie ‘n regmerk of ‘n kruisie gemaak word agter ‘n kunswerk nie. Dit is nie ‘n antwoord nie. Dit is ‘n gevoel, ‘n boodskap, ‘n idee,” sê Riana.


Dié uitbeelding van ’n jagluiperd sal op die uitstalling te sien wees

In haar matriekjaar het sy aan haar ouers genoem dat sy kuns aan die Johannesburgse Kunskollege wou gaan studeer, maar Johannesburg was vir dié Wes-Transvalers Sodom en Gomorra en Riana het desnoods onderwys met kuns as hoofvak gaan studeer.

Vandag is sy nie spyt daaroor nie.

Sy was elke maand verseker van ‘n vaste inkomste, onderwys het sy voordele gehad en dit was vir haar lekker om met kinders te werk. Riana het op hoogte gebly met wat in die kunswêreld aangaan en gereeld kursusse bygewoon en ook aangebied.


Potloodskets van ’n leeuwyfie

Die merk van matriek-eindeksamen-vraestelle het haar weer bewus gemaak van die kompleksiteit van die kunswêreld en hoe menings kan verskil. “Dit is nie soos in wiskunde waar die antwoord reg of verkeerd is nie,” sê Riana. Nasieners se punte het van ‘n druip tot ‘n ‘A’ verskil vir dieselfde kunswerk.
Maar sy was deel van ‘n kunsbelewenis en sê sy sou dit vir niks verruil nie. “Teleurstellings het my net meer vasberade gemaak en die suksesse meer dankbaar.”

Die onderwys, waar sy van graad een- tot universiteitsleerlinge gehad het, het ‘n besliste invloed op haar kuns gehad. Haar kennis moes nie net ‘n wye spektrum van kunsstyle dek nie, maar sy het dit ook self bemeester om dit met oortuiging aan haar leerlinge te kon oordra.

Vandag verkies Riana om met olieverf, waterverf, potlood en pastelle te skep. Figuur- en portretstudies, stillewes, blomme en wild is haar gunsteling onderwerpe. 


’n Stillewe met wit staanrosies

Kunswerke is daar om ‘n boodskap te deel, sê Riana. Dit kan nie aan ‘n geldwaarde gekoppel word nie. Sy vertel sy het op ’n dag ’n matriekafskeidkaartjie ontwerp. Sy moes na die onderwyseres gaan wat Engels gegee het vir die matrieks. Hulle gesprek is onderbreek met een van die leerlinge wat sy hand opgesteek het omdat hy net wou dankie sê. Die kaartjie was vir hom mooi. Dié gebaar was en is vir haar meer werd as al die geld in die wêreld.

Maar om ‘n kunstenaar te wees vrywaar jou nie van daaglikse verpligtinge nie. Jy het ‘n inkomste nodig. 

“Ek ken nie ryk kunstenaars nie. Beroemde kunstenaars was nie in hulle leeftyd bekend nie. Van die mees gesogte kunswerke was beskou as ‘n mislukking.”


Die uitnodiging na Riana se uitstalling met een van haar werke as agtergrond

“Net kunstenaars weet hoeveel tyd en moeite in ‘n kunswerk ingaan. Maak nie saak watse kunswerk dit is nie. Kitskunswerke is net nie moontlik nie. Nie as jy omgee nie,” sê Riana.

Die uitstalling word gehou by Louriestraat 1 in die Willow Acres-landgoed. Dit is op weeksdae oop van 10 vm tot 5 nm en op Saterdag en Sondag van 10 vm tot 1 nm. Jy vra by die sekuriteitshek vir Johan en Riana Lombaard, Louriestraat 1. Die uitstalling word in samewerking met Art Explore Gallery gehou.

Vir navrae kan jy Riana by 082-771-1769 bel of ’n e-pos stuur na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . Besoek Riana se webwerf by www.rianalombaardart.co.za.

 

© 2019 Die/The Bronberger