Cullinanse afkopvrou bly stom getuie van geweld PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 27 October 2015 07:59
Untitled Document

Wilhelm Schmidt

Cullinan-inwoners wil nie meer in die geskende beeld, ‘Transformasie’, vaskyk nie. Sommiges wil hê die beeld moet weer reggemaak word en ander dreig om die beeld self af te breek en te verwyder. Wilhelm Schmidt het met beeldhouer Ronel Coetzee gepraat en haar gevra hoekom sy wil hê dat die geskende beeld net so moet bly staan.

Cullinan-beeldhouer, Ronel Coetzee, het in 2014 besluit om op eie inisiatief en onkoste ’n openbare beeldhouwerk, getiteld ‘Transformation’, op ’n mooi driehoekige terrein in Cullinan op te rig.

Vriendin Marja het die gras gesny en die papiere en gemors, wat daar gestrooi word, opgetel. Hoe gelukkig was die gemeenskap van Cullinan om so ’n geskenk te kon ontvang.

Suid-Afrika is baie arm aan openbare beeldhouwerke (nie standbeelde nie), in teenstelling met Europa waar daar beelde om elke hoek en draai pryk.


Die geskende beeld
Foto: Wilhelm Schmidt

Selfs besoekers van oorsee kon sien dat daar kultuur in Cullinan nagestreef word. Die idille was egter van korte duur, want gou is die een arm van die vrouefiguur deur vandale afgebreek.

Met hartseer en sement het Ronel weer ingespring en die beeld herstel. Kort voor lank word die arm weer gebreek. Terwyl Ronel nog wonder hoe sy die beeld nog sterker kan maak om die vandale te fnuik, is die beeld se kop een nag afgekap. Niemand kan Ronel se graad van skok, ongeloof en hartseer oor die verwoesting van haar kunswerk besef nie.

Dit is kortliks die agtergrond waarteen die herrie rondom die koplose ‘Transformation’ besig is om te ontwikkel.

Verskeie retoriese vrae moet nou geopper word: Sal ons ooit uitvind wie die beeld geskend het? Ons sal voorlopig moet aanneem dat dit lede van die Cullinan-gemeenskap is wat die skade aanrig.
Wat is die mentaliteit van iemand (oud en sterk genoeg) wat so 'n betonbeeld onthoof?

Die beeld is reeds drie keer geskend. Sommige mense eis dat Ronel summier die beeld moet herstel omdat die afkopvrou hulle ontstel. Miskien moet ons ’n kompetisie uitskryf oor wie raai die naaste oor hoe lank dit gaan neem voor die beeld weer geskend sal word?

Ander mense wil die saak in eie hande neem en onderneem om die beeld op eie stoom te verwyder of te laat verwyder omdat die afkopbeeld hulle pla.


Die oorspronklike beeld het só gelyk
Foto: Preston Blaise

Diegene wat eis dat die beeld herstel moet word, is grootliks bekommerd oor die besoekers van oorsee en wat hulle indruk van Cullinan as ’n kultuur-dorpie sal wees. Om die heeltyd die beeld te herstel sodat besoekers net die mooi kan sien, sal ’n leun wees, want die ware werklikheid is dat die beeld gedurig beskadig word.

Miskien moet mense wat dink dat die beeld herstel moet word self die onkoste daarvan dra.
Kuns het verskeie funksies. Die algemeenste is dat kuns skoonheid moet uitdruk (streng volgens die toeskouer se sienings). ‘Transformation’ was inderdaad vol skoonheid en vroulike grasie; sy was sekerlik ’n visuele plesier vir die verbygangers en ’n skepping waarop Ronel heel trots kon voel.

’n Kunswerk kan ook humoristies of simbolies wees en kan sosiale kommentaar of kritiek lewer. Die oorspronklike doel van ‘Transformation’ – die uitbeelding van vroulike skoonheid – bestaan nie meer nie, omdat die beeld self ‘n transformasie ondergaan het weens die breek van die kop en die arm: sy is nou ’n nuwe beeld.


Ronel Coetzee
Foto: South African Artists

Omdat alle kuns ’n barometer van die betrokke kultuur en tydvak is, maak sy nou in haar gebrokenheid ’n geweldige sterk stelling oor die sosiale kultuur waarin sy haar bevind. Sy weerspieël nou die ware Cullinan-gees.

Sy word ’n permanente aanklag teen die boewe wat haar onteer het. En juis daarom moet sy nie verwyder word nie sodat almal kan sien wie haar bure en naasbestaandes is, asook die disrespek waarmee sy behandel is. Herstel is geen opsie nie.

Die bestuur van die Raytonse Kunsvereniging ondersteun dié sienings ten volle, veral omdat Ronel ’n gewaardeerde lid van dié vereniging is en die meeste kunstenaars verstaan dat selfs ’n geskende beeld wat 'n sterk stelling maak, ook bestaansreg en funksie in ons samelewing het.

Om na ‘Transformation’ in haar verminkte toestand te kyk is wel pynlik, maar die rol wat sy as pleitbesorger namens die kunste vervul, is belangriker. En juis daarom moet sy as stom getuie net bly waar sy is.

 

© 2019 Die/The Bronberger