‘Ons mense’ ook skuldig PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Tuesday, 27 October 2015 07:43
Untitled Document

Ja, natuurlik is ons almal bekommerd, onseker, bang en kwaad oor die uiters powere wyse waarop ons land en ons onmiddellike omgewing meestal deur ‘n pateties onbekwame owerheid wanbestuur word.

Ons het rede tot kommer, maar nie tot magteloosheid nie. Die antwoord lê nie net daarin om ons lot teenoor mekaar en na buite te bekla nie, hoewel dit ook nie in stilbly en net aanvaar lê nie.

“Selfdoen is beter as niksdoen,” lui die slagspreuk van die burgerregtegroep Afriforum en daarin lê dalk veel meer opgesluit as die blote inspring en selfdoen waar die owerheid van die dag te treurig is om dit te doen.

Dit is nie net die toenemende vlakke van wetteloosheid en misdaad, of die verval van staatstrukture en munisipale dienste wat sake vir wetsgehoorsame Bronbergers by die dag moeiliker maak nie.

In hierdie uitgawe van die Bronnie vra ‘n leser in ‘n brief baie mooi dat mense stadiger op die stofpaaie in sy omgewing moet ry. Net ‘n bietjie bedagsaamheid kan verhoed dat menige hoewebewoner daagliks onder die stof toegegooi word en sommiges asma-aanvalle moet trotseer.

‘n Pleidooi word elders gelewer dat motoriste perde en hulle ruiters in ag moet neem as hulle op landelike paaie ry. Onbedagsaamheid kan in dié geval lewensgevaarlik wees, ook vir die onbedagsames. Hoe moeilik kan dit wees? Dink net vir ‘n slag aan iemand anders as net aan jouself en ry ‘n bietjie stadiger, man.

Ons kry dikwels klagtes en foto’s (bl 7) van lesers oor gewetenlose rommelstorters. Dit is ‘ons mense’ hierdie wat hulle gemors goedsmoeds iemand anders se gemors maak sonder om te dink aan die skade aan die omgewing of die ongerief vir hulle medemens, wat hulle veroorsaak. Die feit dat hulle net soos die inbrekers, rowers en moordenaars die wet oortree, skeel hulle blykbaar min.

Die jongelinge wat ‘n werker vanuit hulle bewegende motor van sy fiets afgeruk en ernstig beseer het, is ook van ‘ons mense’. ‘n Sinnelose daad wat getuig van gebrekkige bedagsaamheid en respek vir ‘n medemens.

Ook in hierdie uitgawe berig ons oor die herhaaldelike skending van ‘n kunswerk in Cullinan. Ons was gou om vinger te wys na wie net aanvaar is die vernielsugtige skuldiges moes wees, maar dit blyk nou dat dit ook die werk van ‘n uiters onbedagsame en onopgevoede spul onder ‘ons mense’ is.

Soms is dit ‘n geval van waar, uit respek en bedagsaamheid teenoor jou medemens, niksdoen dalk beter kan wees as selfdoen.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online