Gedwonge taxirit verstom spookhuisbaas PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Sunday, 27 September 2015 15:45
Untitled Document

Ek het ‘n vriend se Golf-bakkie geleen en het Rayton Saterdag 22 Augustus heel rustig binnegery. Die plan was om te gaan werf en sypaadjies opruim by ons sinkhuisie in Cullinan – die einste een waar weduwee Meraai en Matewis se manewales verfilm is en waar Marcella de Boom haar laaste dae in die mooie modderhuis neffens deurgebring het.

Sy het dié modderhuis eiehandig en kunstig opgerig en, glo my, dis ‘n seldsame pronkstuk wat vir die nageslag bewaar behoort te word.


Jaap Taljaard

Volgens gerugte wat die rondte doen is dié geskiedkundige 1906 sinkhuis glo ‘n spookhuis. Ons was al aangeraai om dinge so ietwat te verander . . . ‘n nuwe muur hier en ‘n nuwe deur daar en siedaar . . . die spoke verdwaal.

Met of sonder hierdie spook-wegjaag-planne . . . persoonlik het ek nog nooit een enkele spook hier onder oë gehad nie.

My ingetoë en rustige rit deur Rayton was eensklaps kortgeknip. Die Golf-bakkie se remme wou nie saamwerk nie en met direkte sonlig in my oë het ek met mening in ‘n Toyota voor my vasgery. Almal betrokke was die ene simpatie en vol van begrip, raad en broodnodige hulp.

Albei voertuie moes ingesleep word en is nou veilig in Boeta se hande. Boeta het agter my vriend se bakkie gestaan toe hy my nader roep: “Het jy gesien wat staan hier geskryf?”

Beeste by Denneboom

 

Hy het skalks geglimlag en die woorde hardop gelees: “Gou-gou leen se *#&%!.” Familie van die Toyota het my by ons sinkhuis besorg en was half vies omdat ek durf brandstof aanbied. Ek was oral seer en my moed was in my skoene.

Later die middag het ek huiwerig besluit om met behulp van ons Cullinanse taxidiens terug te gaan na Alberton. Ek was verstom om die minste te sê. My eerste rit tot op Four Ways was verniet. Glo dit!

My tweede rit, net R14, het onderweg nog twee motorongelukke gesien. Die eerste net anderkant Four Ways waar insleepvoertuig, ambulans en noodhulp aan die werk was met geknakte voertuie en mense op draagbare.

Die tweede een op die tydelike grondpad om ons ‘gat’ waar ‘n bakkie skeef en kruppel oor die pad gestaan het nadat in die grondwalle vasgeloop is. Die taxi-bestuurder was deurgaans besorg en versigtig en het ons veilig op Denneboom gekry, waar ons met beeste wat aan die wei was begroet is . . . glo niks snaaks vir hierdie omgewing nie.


Die binnekant van die taxi van Bosmanstraat af

My derde rit, weereens net R14, het my te Bosmanstraat, Pretoria besorg. My vierde en laaste rit, teen net R35, het my by die Van Buuren-afrit na Bedfordview besorg, waar ‘n vriend my by die Sasol-vulstasie met ‘n warm cappuccino begroet het.

Vir slegs R63, en uitstaande diens op die koop toe, is ek deur ons Here se groot genade toegelaat om die ‘anderkant’ te sien. Geld en kleingeld het van hand tot hand oor die rye sitplekke beweeg en gou-gou het elke taxi-bestuurder sy ritfooie versamel.

Hulle bussies was deurgaans in ‘n goeie toestand en elke liewe swartmens was bekwaam, hoflik, hulpvaardig en besorg. My hartgrondige dank aan elke liewe een. En weet dit, ek sal altyd weer van hulle onbaatsugtige diens gebruik maak.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online