Bestel jou eie toekaboek Print E-mail
News - Toeka se dae
Sunday, 27 September 2015 17:53
Untitled Document

‘Toeka se Dae – Die Karakters’ is ‘n koffietafelboek gebore uit die toeka-artikelreeks in Die Bronberger met die klem op die kleurvolle karakters waaroor ons die afgelope 13 jaar skryf.

Ons fokus glad nie net op bekende feite oor beroemde figure nie en dié boek is nie net op liefhebbers van die geskiedenis gemik nie. Ons vertel jou die minder bekende feite oor bekende mense en stel jou voor aan mense wat nooit in die geskiedenisboeke opgeteken is nie. Dit is lekkerlees-stories vir almal.

Onthou jy die gruverhale oor die spookhuis? Wonder jy nie oor die Erasmusse wat daar gebly het nie? Of wat van die magnate en mynbase wat deur die brandewynplaas oos van Pretoria gelok is?

Die boek bevat verhale oor karakters soos die Boere ‘James Bond’ wat die Russe gevra het om die Britte te verdryf; vreeslose Drienie; die Cowboy-kolonel wat die Iere teen die Engelse gelei het; siener, skrywer en baas-spioen, Johanna Brandt; en die sjarmante spioen wat Kitchener gesink het.

Ons skryf oor grootpraters, waaghalse en vroue se heldedade in veldslae, maar die boek gaan nie naastenby net oor die oorlog nie. Ons vertel verhale oor die kleurvolle karakters wat in ou Pretoria se eerste kroeg-kuierplek te siene was, oor Ou Moes, die legendariese boemelaar en die diep spore wat Lang Piet in dié dorp getrap het.

Dan is daar natuurlik ook bekende karakters waaroor ons ‘n paar onbekende feite vertel, soos die Pretoriase graf van Rider Haggard se liefdeskind; die staaltjies oor ongekunstelde Ouma Isie; die lief en leed van oom Paul se kleindogters; geheime oor Vincent Van Gogh se broer se selfmoord; die beeldhouer wie se verlore dekade aspris duister gehou is; en die feit dat Oerder eers moes spoorwegpaaltjies verf.

Die boek is kunstig uitgelê in die gees en styl van toeka se dae. Gewis iets wat jy met trots op jou koffietafel kan uitstal.

‘Toeka se Dae – Die Karakters’ is beskikbaar teen R295, koerier- en poskostes uitgesluit.
Om ‘n boek te bestel, stuur jou naam en kontakbesonderhede na e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it ;
faks: 086-650-7860; of skakel 012-734-0522.

 

© 2020 Die/The Bronberger