Klagtes teen bou-inspekteur ondersoek PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 11 November 2008 03:19
Untitled Document

’ n Bekende bou-inspekteur van Kungwini is op verpligte verlof geplaas, hangende ’n dissiplinêre verhoor oor klagtes van beweerde ongerymdhede. Na verneem word, spruit die saak uit moontlike korrupsie by die kantoor van Kungwini se stadsbeplanner,’n afdeling waarby die bou-inspekteur nie direk betrokke is nie.

’n Raadslid van Kungwini, wat gevra het dat sy naam nie genoem moet word nie, meen die klagtes teen die bou-inspekteur is maar die punt van ’n moontlike ysberg van korrupsie en ongerymdhede by dié munisipaliteit waarby verskeie ampsdraers en amptenare betrokke kan wees. Dit is vir hom vreemd dat net die inspekteur op verpligte verlof geplaas is, maar dat ander nie eers ondersoek word nie, sê die raadslid. Die bou-inspekteur werk al die afgelope 23 jaar by die munisipaliteit. Hy het in die laaste 12 jaar goed bekend geraak in die Bronberg- gebied waar hy by talle projekte betrokke was.

Sedert Kungwini se ontstaan as streeksmunisipaliteit het verskeie gevalle van korrupsie, bedrog en wanbesteding deur amptenare en raadslede op die lappe gekom. Sover terug as 2003 het die Gautengse owerheid gevalle van grootskaalse ongerymdhede met betrekking tot reis- en verblyftoelae, die aanvaarding van omkoopgeld, voertuigaankope, wanbesteding, en die toekenning van behuising en ander kontrakte oopgevlek. Destyds het die burgemeester van die dag, Mike Sephiri, die ondersoeke van Gauteng verwelkom.

’n Paar jaar later was hy self betrokke by vermeende korrupte grondtransaksies en is hy en die munisipale bestuurder afgedank. In een stadium is ondersoeke van ongerymdhede waarby 14 ampsdraers en raadslede van Kungwini betrokke was, gedoen.

 

© 2019 Die/The Bronberger