Print E-mail
News - Toeka se dae
Sunday, 27 September 2015 17:52
Untitled Document

Oor die afgelope 13 jaar het ons lesers vertel van die eerste plase in ons kontrei en die lief en leed van die families wat daar ‘n bestaan gemaak het. Die plase is deur Voortrekkers uitgesoek, maar omdat Pretoria nog nie bestaan het nie, was hulle in die Rustenburgse of Lydenburgse landdros-rekords opgeteken. In dié terugblik kyk ons samevattend na ‘n paar van dié plase en hulle oorspronklike en latere base.

Mooiplaats
Volgens navorsing van W Punt en Dr NA Coetzee is Mooiplaats oorspronklik in 1842 deur Coert Erasmus senior beset. Die aktekantoor het dit op 22 Mei 1866 op sy naam geregistreer, maar op dieselfde dag is dit aan sy erfgename Willem Frederik Erasmus, Coert Erasmus junior en Hendrik Frederik Grobler oorgedra.

Zwavelpoort

Isabella Susanah, ‘n nooi Viljoen, en Gert Petrus Bezuidenhout

Zwavelpoort is in 1842 deur JSG Bronkhorst beset. Dit is op 27 September 1859 deur die Registrateur van Aktes op sy naam geregistreer.

In Oktober 2002 berig ons dat Piet Colyn ‘n afstammeling is van die drie Viljoensusters, agterkleindogters van Piet Retief, wat die plaas Zwavelpoort geërf het. Op dié 1919 Zwavelpoort-foto is Piet se grootouers, Isabella Susanah, een van die Viljoensusters, en haar man Gert Petrus Bezuidenhout. Die ander twee susters was Deborah en Martiena, en elke suster het iewers in die laat 1800’s 481 morg gekry.

Isabella en Gert het op hulle deel van die plaas met Afrikanerbeeste geboer. Gert was blykbaar ‘n aantreklike man wat teen ‘n hoë ouderdom nog sy hare gekleur het en vir die mense vertel het hy is baie jonger as wat hy was. Isabella was nie sy eerste vrou nie – en toe ook nie sy laaste nie. Toe hy weer trou het sy nuwe vrou Gert se nege kinders weggestuur.

Piet se ma, wat ook Isabella Susanah gedoop is, is Lichtenburg toe gestuur, maar sy moes terugkom om Gert se nuwe vrou op te pas toe dié suikersiekte gekry het met haar eerste swangerskap. Dit is dié dogter Isabella wat toe op die ou einde met ‘n Colijn vars uit Holland uit, getrou het.

Pienaarspoort

Alois Hugo Nellmapius

Pienaarspoort is op 4 Junie 1855 deur die aktekantoor op die naam van Anna Kathrina ter Brugge, met die mede-eienaar Jacob ter Brugge, geregistreer. Ons weet nie veel van dit wat voor onderverdeling met dié plaas gebeur het nie, maar het meer inligting oor die latere geskiedenis van sy buurplase.

In September 2009 berig ons dat Alois Hugo Nellmapius in 1878/79 ’n vennootskap aangegaan het met Robert Cottle Green wat die 4 000 akkers grootte plaas Hatherley, aangedui as 17 km oos van Pretoria aan die Pienaarsrivier, besit het.

Dit is nie duidelik presies wanneer Nellmapius alleen-eienaar van Hatherley geword het nie, maar rondom Oktober 1881 het Nellmapius saam met die maatskappy Lewis and Marks, bestaande uit sy vriende Sammy Marks en neefs Isaac en Barnett Lewis, beter bekend as Barney Barnato, ’n onderneming met die naam ‘De Eerste Fabrieken’ gevorm.

Sammy Marks het in Desember 1883 die plaas Zwartkoppies langs Hatherley vir £1 400 gekoop.

Rietvallei
Die plaas Rietvallei is op 9 Augustus 1841 geïnspekteer en die naam van die versoeker was weduwee Susanna Margaretha Jacobus Erasmus. Die plaas is op 24 Februarie 1859 op haar naam geregistreer en is later Rietvlei genoem.

Die Rietvlei View landgoed is egter gebou op ‘n deel van die plaas Grootfontein, wat vroeër aan ‘n nasaat, Kokkie Erasmus, behoort het. Die Sinovich groep van maatskappye het in 1997 ‘n deel van die plaas by die Erasmus-familie gekoop om Rietvlei View Landgoed in 1999 te ontwikkel.

Kokkie het 15 hektaar van sy plaas uitgehou, insluitende die ou plaashuis waar hy tot sy dood in 2004 gebly het.

Grootfontein

Generaal Daniël Jacobus Elardus Erasmus en Sibella Margaretha Aletta Schabort

In Julie 2006 berig ons dat Elta en Frans Viljoen woon op ‘n deel van die plaas Grootfontein, wat behoort het aan Elta se oupagrootjie, generaal Daniël Jacobus Elardus Erasmus.

Sy seun Petrus Johannes Ernst, Elta se oupa, het die grond by hom geërf en op sy beurt die plaas nagelaat aan sy seun Pieterman, wat dieselfde doopname as sy pa gehad het.

Pieterman was Elta se ma, Susara Jacomina Margaretha, se broer. Pieterman se seun Danie het die deel van die geskiedkundige plaas waarop die ou familie-opstal is, geërf. Elta het vertel dat haar neef Danie ‘n deel van sy grond verkoop het – dit is nou waar Grootfontein Landgoed gebou is. Danie het 30 hektaar van die grond oorgehou en in die geskiedkundige ou familie-opstal gewoon.

Mooikloof

Veldtogte teen die verklaring van Mooikloof as vryevestigingsgebied

In April 2005 vertel ons dat die Voortrekker Daniël Jacobus Erasmus met Cornelia Jacoba Susanna Kruger getroud was en dat hulle seun, Stephanus Erasmus, Mooikloof van sy pa geërf het. Sy broer, generaal Daniël Jacobus Elardus Erasmus, het Rietfontein, Grootfontein, Tierpoort, Bashewa en Welbekend geërf.

Met Stephanus Erasmus se dood het sy seun, Daniël Jacobus Erasmus (Blink Dael), Mooikloof geërf. Blink Dael was Stephanus se enigste kind. Hy was glo ‘n losbol en verkwister en was verplig om Mooikloof aan sy aangetroude neef, Jacobus Gerhardus (Dowe Koos) Opperman te verkoop.

Dowe Koos is net na die Engelse Oorlog met Sibella Margaretha Erasmus getroud. Sy was ‘n dogter van generaal Daniël Jacobus Elardus Erasmus van Grootfontein, en het Rietfontein van haar pa geërf.
Rietfontein (375 JR) is in 1842 deur hom beset. Dit is op 27 Junie 1859 deur die nuwe aktekantoor in sy naam geregistreer as 2 681 morge groot en 218 vierkante roede.

Met Dowe Koos se dood in 1942 het sy dogter, Susara Jacomina Margaretha, en haar man, Daniël Pieter (Oks) Liebenberg, Mooikloof geërf. Oks het Mooikloof in 1950 aan ene mnr Sacks verkoop, die man wat Rietfontein in plotte opgesny het, nadat hy die grond van Oks se dogter, Marie Vorster, gekoop het.

Sacks het Mooikloof aan die eiendomsontwikkelaar, Tucker, wat later skoonpa van Anneline Kriel geword het, verkoop. Volkskas het Tucker finansier en toe dinge skeefloop, het Volkskas dit aan die Bester-broers verkoop.

Die Bester-broers wou Mooikloof as ’n grys dorpsgebied ontwikkel waar 20 100 mense op 4 800 enkelwoonerwe en in 360 groepswooneenhede gevestig sou word.

Omliggende ploteienaars was hierteen gekant en veldtogte teen die verklaring van Mooikloof as vryevestigingsgebied is in 1989 geloods. Ná die idee laat vaar is, het die Besters bankrot gespeel en Mooikloof is deur Leorand Eiendomsmakelaars oorgeneem. Leorand het die landgoed in 1994 as perdetema-ontwikkeling begin bemark.

Tierpoort

Bosch Kop Governmentskool

In Januarie 2003 het ons by die Fouries gaan kuier en Doreen het vertel dat die dele rondom die Boschkop-Tierpoort grondpad in die laat 1800’s Fourie-wêreld was. Hulle het ‘n regeringservituut gereël om die Boschkop-grondpad te maak en uitspanplek te gee vir die mense wat met hulle waens hier verbygetrek het.

Dié foto van die Bosch Kop Governmentskool is in 1916 geneem. Die meisie reg agter die onderwyser in die tweede ry van agter is die 16-jaar oue Maria Fourie, Doreen se man, Andries, se ma. Maria se ouers, Anna en Johannes Petrus Fourie, het die opstal, wat in 2003 ‘n sigbare murasie was waar die Boschkop-grondpad in Lynnwoodweg inkom, gebou.

In die Engelse Oorlog het ouma Anna gehoor dat die kakies op pad was en huise afbrand, en sy het haar meubels, staanhorlosie en bakke wat sy as trougeskenke gekry het in ‘n spoelsloot begrawe en dit netjies met sinkplate bedek voor die grond weer bo-oor gegooi is.

Die kakies het brode uit ouma Anna se bakoond gesteel, hoenders op die werf geslag, en die Fouries na Irene Konsentrasiekamp gestuur. Hulle het blykbaar nie so siek soos die res geword nie omdat ouma Anna haar bulsak saamgevat het om op te slaap.

Bashewa

Die datum 6/1/1907 is op die klipstruktuur gegraveer

In Oktober 2007 het ons by Francois Breytenbach gaan kuier. Hy het vertel dat die eerste Breytenbachs in die vyftigerjare op Bashewa aangekom het en ‘n lewe rondom die oorspronklike 1908 opstal van die Erasmusplaas, Rietfontein begin bou het.

Sy pa en ma, Francois Jacobus en Maria Susanna Breytenbach, het in 1955 dertien aangrensende plotte in Bashewa gekoop. Hulle het die plotte aan hulle kinders verkoop en vandag bly daar nog Breytenbachs rondom dié geskiedkundige opstal.

Die ou plaas se meule is nou op ‘n buurplot en staan as die oudste struktuur op Bashewa bekend. Die enjin, wat met lampolie gewerk het, is nog te siene, maar die geboutjie rondom die meule het so 20 jaar gelede bykans heeltemal afgebrand.

Die datum 6/1/1907 is op die klipstruktuur gegraveer en ook ‘n paar amper onleesbare name. Die naam wat duidelik te siene is sê H Larkins, Esq en onder dit in ‘n minder netjies skrif iets wat lyk soos P de Hark.

Garstfontein

Die Rademeyer-opstal dateer uit die 1880’s

Sekere bronne sê dat Garstfontein in 1842 deur JA Beetge, wat met een van Bronkhorst se dogters getroud was, beset is. Die aktekantoor het die plaas op 14 Maart 1859 op sy naam geregistreer. Sy nageslagte het deel E op 11 Junie 1898 aan Frederik Conraad de Beer oorgemaak.

Ander bronne sê dat ‘n plaas genaamd Garsvontyn op 9 Augustus 1841 geïnspekteer is en dat die naam van die ‘verzoeker’ neergeskryf is as Susara Jo Bronkors, weduwee Holstuyse.

Dié twee Garstfontein-name is raaiselagtig. In September 2008 het ons Arrie Faure van The Wilds se navorsing gepubliseer, wat aandui dat daar net een Garstfontein-plaas was wat vir die eerste keer op 9 Augustus 1841 op Beetge se naam geregistreer is deur ’n kommissie van Rustenburg wat deur GJ Kruger gelei is.

Arrie se navorsing wys dat die plase Groenkloof en Elandspoort aan die Bronkhorsts behoort het en dat een van dié Bronkhorstdogters getrou het met Andries Beetge, die eerste eienaar van die plaas Garstvontyn, wat onder die ZAR-regering die plaasnommer 428 gedra het.

Beetge se oorspronklike plaas was 5 079 morg en 241 rooden groot. Een morg is 600 vierkante roede en 0,8565 hektaar. Die plaas was dus 4 351,523 hektaar groot.

Die Beetges het nie baie dekades op Garstvontyn gebly nie en die plaas is op 14 Maart 1859 oorgedra op Jacobus Cornelis Rademeyer se naam. Hy was getroud met ’n dogter van Daniël Jacobus Erasmus van die spookhuis-faam.

Erasmuskasteel

Carel Jacobus Erasmus

In Julie 2006 het ons probeer uitvind hoeveel waarheid daar steek in die spookstories en gruverhale oor die Erasmuskasteel, beter bekend as die Spookhuis. Waar kom die stories oor melaatse dogtertjies, wat in die toring opgesluit is, en spoke in Victoriaanse rokke wat snags ronddwaal, vandaan?

Ons het uitgevind dat dit wel waar is dat van die Erasmuskinders aan melaatsheid oorlede is, maar dat die feite oor die jare heeltemal uit verband geruk is.

Die kasteel is in 1903 deur Jochemus Johannes Petrus Erasmus en sy vrou Johanna Jacoba, ‘n nooi van Schalkwyk, gebou. Jochemus is op 30 Augustus 1863 in Pretoria gebore. Hy was die tweede seun van Carel Jacobus Erasmus wat ‘n deel van die plaas Garstfontein, waarop die kasteel gebou is, besit het. Carel is in 1832 gebore en is met Martha Louisa Prinsloo getroud.

Daar is mites dat hy die plaas vir ‘n perd en ‘n fluweelbroek geruil het, maar dit is nie waar nie. Hy het ook nie die hele plaas besit nie. Volgens die ‘List of farms in the Pretoria district, Transvaal, with the names of their registered owners’ van 1900 was die plaas Garstfontein toe klaar onderverdeel en het die lys van eienaars op 13 mense gestaan.

Wolfaardt Landgoed

Die spog melkplaas

In Januarie 2005 vertel ons dat Woodhill Gholflandgoed in die hartjie van die destydse spog melkplaas, Wolfaardt Landgoed, gebou is. Die plaas was 980 morg groot en Wolfaardt het dit in 1926 vir vier pond en tien sjielings per morg by Gey von Pittius gekoop. Hy is in 1954 oorlede en sy seun Pieter het op die melkplaas aanhou boer.

In 1974, toe Pieter nog ‘n melkery bedryf het wat 3 500 liter melk per dag gelewer het, het die stadsraad besluit om hom te onteien. Die Pretoriase Stadsraad het daardie jare die Niemand Kommissie aangestel om erfpryse te probeer afdwing. Dit was hulle beleid om plase uit te koop en dan self dorpsontwikkeling te doen.

Pieter het ‘n groot geveg aan die gang gesit en sy grond is eers in die 1980’s aan die stadsraad verkoop. Intussen het die stadsraad lelik vasgebrand met die ontwikkeling van Garsfontein, en het toe nooit die Wolfaardt-grond ontwikkel nie. Pieter het tot 1993, toe die stadsraad stukke van die grond begin verkoop het, as huurder daar aangebly.

Die deel waar Woodhill vandag staan is deur ‘n ontwikkelingskonsortium, wat CJ Irons, Kroon en Seuns en EG Chapman ingesluit het, gekoop. Erfverkope het in die laat 1990’s begin en Woodhill is op 25 Maart 1999 geopen.

Boschkop

Magdalena Christina Wolmarans en haar kinders

In Maart 2011 vertel ons dat ons gesigte by die Barnard-name op die grafstene in die plaasbegraafplaas by Waterlake Farm, kon sit. In Desember 2010 het ons geskryf dat dié grafstene ’n verhaal van die lief en leed van Boschkop se Barnards vertel; van die seuns wat in die Engelse Oorlog gesneuwel het; dié wat in die 1914 rebellie dood is; en van die Groot Griep wat die familie so genadeloos getref het.

Coba Maree het laat weet dat sy afstam van die Terblanche-egpaar wie se name as kinders op die Barnard-vader se graf gelys word. Magdalena Christina Terblanche, ’n nooi Barnard, en Daniël Johannes Terblanche was Coba se oumagrootjie en oupagrootjie. Magdalena was ’n dogter van Petrus Johannes Barnard en Jacoba Johanna Aletta, ’n nooi van Dÿk, wat die oorspronklike Victoriaanse herehuis laat in die 1800’s op die plaas Boschkop gebou het.

Die Terblanche se dogter, Jacoba Johanna Aletta, bekend as Kotie, was Coba se ouma. Kotie is met Gert Viljoen getroud en hulle oudste kind was Coba se pa, Jacobus Johannes Viljoen. Jacobus is met Hendrina Cecelia Breytenbach getroud. Hy is in 1973 oorlede en Hendrina in 1975.

Ons kon die grafte van Coba se ouma en oupa, Kotie en Gert Viljoen, sowel as haar oumagrootjie en oupagrootjie, Magdalena en Daniël Terblanche, by die Boschkopse plaasbegraafplasies opspoor. Gert is ongeveer 17 jaar voor Kotie oorlede. Daniël is amper 40 jaar voor Magdalena oorlede. Tog is Kotie, as ’n Potgieter, en Magdalena, as ’n Wolmarans, by hulle eerste mans begrawe.

The Willows

Kaptein Johan Marinus Struben

In Januarie 2010 vertel ons die verhaal van die Struben-plaas, The Willows, die Strubenbroers Harry en Fred, en ’n mislukte boerdery wat tot die ontdekking van goud gelei het.

Harry en Fred was seuns van die Hollandse skeepskaptein, Johan Marinus Struben, wat in die 1860’s poste, soos volksraadlid, staatsekretaris en weesheer in die ZAR-regeringsdiens, in Pretoria beklee het. Hy het ook ’n winkel bedryf en het die eerste skool in Pretoria begin.

Harry het The Willows, geleë langs die buurplaas Hazeldean, in 1862 gekoop en sy broer Fred het as sy assistent gewerk. Op The Willows het Harry vele mislukte boerderypogings met volstruise en beeste gehad. In 1870 het hy besluit om met skape te begin boer en het met sy gesin en ’n wavrag vol ivoor, wat hulle vir skape geruil het, afgesit na Aliwal-Noord.

Daarna het hulle van die ontdekking van diamante gehoor, die skape verkoop en is na die diamantvelde toe. Weens siekte is hulle terug na The Willows nadat Harry sy belange in die diamantvelde verkoop het. Die broers het daarna begin reis. Toe die Eerste Vryheidsoorlog uitbreek, is The Willows verwoes.

Intussen het Fred in 1892 in Barberton goud gesoek, nie gekry nie en is terug na The Willows. Die twee broers sou binnekort platsak wees en het besluit om na New Zealand te emigreer. Net voor hulle dit kon doen het ’n vriend wat saam met Fred in Barberton was, daar aangekom met ’n klip wat hy op sy plaas, Wilgespruit, gekry het. Fred was seker dat dié klip goud kon bevat en hy het Harry oortuig om die buurplaas, Sterkfontein, met sy laaste geld te koop. Op die tweede dag het Fred daar tekens van goud gevind en die res, soos hulle sê, is geskiedenis.

Hazeldean

Charles Malleson

In Junie 2012 berig ons oor die Mallesons van die historiese melkplaas, Hazeldean, en vertel hoe hulle aan The Willows se Strubens verwant is.

Harry Struben is in 1868 met Mary Cole, dogter van die Reverend William G Cole van Trinity College in Dublin, getroud. Ses van Harry en Mary Struben se sewe kinders is op The Willows gebore. Harry het later die buurplaas, Hazeldean, ook aangekoop.

Hazeldean was die suidelike helfte van die oorspronklike plaas Zwartkoppies 364 JR. Sammy Marks het die gedeelte van die plaas noord van die Pienaarsrivier besit.

Toe Harry in 1915 oorlede is, het die seuns almal eiendom geërf en die dogters kontant. Hulle seun Arthur het Hazeldean geërf, maar dele van die plaas, soos die deel waar Silver Lakes en Silver Oaks vandag is, was reeds verkoop.

Charles Malleson het Hazeldean in 1944 van sy oom, Arthur Struben, gekoop. Charles se ma, gebore as Beatrice Struben, was Arthur se suster.

Charles was met Rhoda, ‘n nooi Kotzé, getroud en hulle het twee seuns gehad, Harry en Ivan. Toe die gesin op Hazeldean aankom, het hulle in die ou opstal gewoon en Charles het begin om die groot opstal met die Kaaps-Hollandse gewels te bou. Dié opstal het oor die dekades ‘n landmerk vir reisigers geword en kan van die N4-snelweg, net oos van Silver Lakes, gesien word.

Charles het tot in 1972 op Hazeldean geboer. Daarna het sy twee seuns, Harry, getroud met Anna, ‘n nooi Benecke, en Ivan, getroud met Suzanne, ‘n nooi van Der Byl, die bestuur van die plaas oorgeneem.

Hulle het op die melk van hulle pa se Ayrshire-stoet begin fokus en het Milkyway Dairy in November 1978 begin.

Harry se seun Frederick is die derde generasie Mallesons wat op die plaas woon en werk. Die plaas val vandag binne die stadsgrens en groot gedeeltes is reeds as die voorstad Hazeldean ontwikkel.

Donkerhoek

Donkie Wolmarans

Donkerhoek se trotse ou villa uit die 1800’s is deur ’n destydse lid van Paul Kruger se volksraad, Jacobus Marthinus Andries (Donkie) Wolmarans gebou, vertel ons in Junie 2008. Donkie het later hoof van die uitvoerende raad van die ZAR geword.

Hy het sy gedeelte van die plaas Donkerhoek op 15 Junie 1896 gekoop en het dit Wolmarans Rust gedoop. Groot dele van die struktuur van die Wolmaranshuis, soos die houtsneewerk, vensters, balke, vloere, deure en kaggels, is uit Engeland en Europa verskeep en met ossewaens na Pretoria gebring.

In die Engelse Oorlog is die huis deur die Engelse opgekommandeer om as hospitaal te dien.
In 1916 is die gedeelte van die plaas met die huis op deur ’n seun van Donkie, Jacobus Wolmarans, aan ’n sakevennoot van Sammy Marks, J Levin, verkoop. Die huis en grond is in 1924 deur JB Wouda gekoop en sedertdien woon sy nageslagte daar.

JB Wouda was Dave Brink, wat sy hele lewe nog daar bly, se oupa. Dave se ma, Ella Brink, was ’n bekende in die omgewing en het tot haar afsterwe in die ou opstal gewoon.

Ella het vir jare die Avondson Hotel bedryf. Die hotel is langs die ou Bronkhorstspruitpad op die plaas gebou. Ella se ma was in die vroeë 1900’s die eienaar van die bekende Wouda losieshuis in Pretoria.

Rhenosterfontein

Frans en Martha Schutte van Rhenosterfontein se dogter, Catharina Jacoba, is met Donkerhoek se Donkie Wolmarans getroud

In Julie 2012 vertel ons die verhaal van die plaas Rhenosterfontein, waar Diamantvallei Landgoed, Diamond Valley en Rhinopark vandag is. Die plaas se eienaar, Jan Francois (Frans) Schutte, was een van die eerste pioniers wat Pretoria in die 1850’s begin ontwikkel het.

Kommandant-generaal MW Pretorius het Frans gevra om die Kerkplaats Elandspoort vir die toekomstige Pretoria uit te lê en te bou. Frans was later landdros van Pretoria en volksraadlid. Hy was met Martha Salomina Dorothea, gebore Schoeman, getroud.

Frans is op 25 Maart 1883 op Rhenosterfontein oorlede en is daar begrawe. Martha is daarna met die koper van ‘n gedeelte van Rhenosterfontein getroud. Hy was Josephus Johannes Wolmarans, ‘n broer van Donkerhoek se Donkie Wolmarans. Frans en Martha se dogter, Catharina Jacoba, was met Donkie getroud, so ma en dogter het met twee broers getrou.

Ons het op Rhenosterfontein by Chris Joubert gekuier. Chris se ouma, Christina Joubert, se suster, Johanna Margaretha Elizabeth (Hannie), is met Jan Francois Schutte getroud. Hy was die seun van Wessel Johannes Stephanus Phillipus Schutte, een van Frans en Martha se 10 kinders.

Jan en Hannie het geen kinders gehad nie. Toe Jan in 1932 oorlede is, het Hannie hulle deel van Rhenosterfontein in twee gedeel. Sy het die helfte aan haar suster Christina gegee, wat dit op haar beurt aan een van haar seuns agtergelaat het, wat die plaas in die 1960’s in plotte onverdeel het.

Met Hannie se dood in 1969 het Chris se pa, Andries, die ander deel van die plaas geërf. Op sy gedeelte van die plaas staan die ou opstal steeds wat met die Slag van Donkerhoek as Britse hospitaal gebruik is.

Elandsfontein

Willem Petrus (Willem Wragtag) Prinsloo

In April 2011 vertel ons dat Cornelis Jacobus Minnaar die plaas Elandsfontein 85 op 7 November 1859 geregistreer het. Cornelis se twee seuns, Roelof en Paul Minnaar, het die erfplaas verdeel en Paul het die deel gekry waarop die Cullinan-diamantmyn later ontwikkel het.

Paul het ’n deel van sy plaas op 7 Desember 1896 vir £570 aan Willem Wragtag Prinsloo, waarna die landboumuseum vernoem is, verkoop. Willem het dit vir sy suster Miertjie, oujongnooi Maria Elizabeth Prinsloo, gekoop.

Roelof is voor die oorlog dood, en sy vrou is met Salmon Stephanus Maritz getroud, wat in 1903 die suidelike gedeelte van Elandsfontein uit Roelof se boedel gekoop het. Hy het dié grond vir £20 000 aan die Premier (Transvaal) Diamantmyn maatskappy verkoop.

In die na-oorlogse tyd het Thomas Cullinan daarin geslaag om ook tant Miertjie Prinsloo se deel van Elandsfontein aan te koop. Willem Prinsloo (snr) wat Cullinan se aanbod teëgestaan het, is in 1898 oorlede en ná die oorlog het Thomas met tant Miertjie se twee broers onderhandel om die gedeelte vir £52 000 aan te koop.

In Mei 2015 het ons vertel dat nog ‘n Minnaar die plaas neffens Elandsfontein gekoop het. Karel Petrus Minnaar, gebore op 21 Augustus 1805, het die plaas Byenestpoort, van omtrent 6 000 hektaar, in 1857 gekoop.

Die 86-jarige Koos Minnaar het vir ons die verhaal van Byenestpoort se delwers vertel. Prospekteerders het in 1898 op Byenestpoort begin diamante soek.

Koos was die vyfde generasie Minnaars op dié grond en die oudste van sy familie wat op Byenestpoort oorgebly het. Hy is intussen op Sondag 5 Julie oorlede.

 

© 2024 Die/The Bronberger