Ou Poon hou al 13 jaar sy tong in die kies PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Sunday, 27 September 2015 15:51
Untitled Document

Ou Poon is sedert die Bronnie se heel eerste uitgawe, 13 jaar gelede, reeds doenig met sy maandelikse plotpraatjies. Lesers het Poon deur die jare leer ken as ‘n perd wat die tong maar eerder in die kies hou, al raak die sake wat hy aanraak soms aan die ernstige kant. Ons het lukraak grepies uit elke jaarmyl van Poon se plotpraatpad gevat om hierdie terugblik saam te stel.

Mei 2003: “Só ernstig het die vergadering oor veiligheid geraak, dat ‘n paar voornemende gemeenskapsbeveiligers en handhawers van die goeie orde, mekaar opsluit met die vuiste toegetakel het. Só ken ons mos ons mense: As ons eenmaal ons koppe op ‘n belangrike saak soos die bekamping van geweld gesit het, voer ons dit met durf en daad deur. Al moet ons ook bloei vir die saak.”

Mei 2004: “’n Plotpad is ‘n vrotpad. En dit is deesdae veral die feitelike waarheid in die Bronberg-gebied. Die swaar reën, toenemende verkeer – veral van die swaarder soort wat met ontwikkeling saamkom – en die totale afwesigheid van Kungwini se deurskynende onderhoudspanne, het baba dongas gelaat waar eens gangbare grondpaaie was.”

Junie 2005: “Die duistere samestelling van Eskom se werkspanne wat gereeld aan kragpale hier langs ons plotpaaie kom peuter, het met fyn waarneming vir my duideliker geword. Ses van hulle kom teen so agtuur met ‘n geel lorrie aan. Lyk my dié ses is in drie werkspanne van twee-man sterk ingedeel.

“Twee is verantwoordelik vir die heen en weer ‘shunt’ tussen pale van die geel lorrie; Die drywer en sy assistent of navigator. Soms word die ganse dag aan een paal gewerk en dan is hulle heeldag op ‘standby’. Dan is daar twee wat werklik iets aan die drade en pale doen. Eintlik net een, want die ander een staan heel dag op die grond met sy een hand op die leer. Die ander twee word voortydig onder ‘n diep koelteboom afgelaai. Hulle is die kokke.”

April 2006: “Beste neef Gielie, Ek skryf maar vir jou ‘n brief om te vertel hoe dit hier in Bronberg-wêreld gaan, want bel kan ek nie bel nie. Die telefoonlyne is nou al hoe lank dood en dit lyk my die ou wat dit moet regmaak ook. Ek weet nie hoe kan die spul hulleself ‘Telkom’ noem nie, want die laaste ding wat hulle doen, of jy hulle nou mooi vra, vloek of dreig, is om te kom. Tensy hulle dit dalk op ‘n ander plek op ‘n ander manier doen.”

April 2007: “Hulle probeer nou hulle koorsagtige bes om van ons wêreld ‘n stad te maak. En dis te verstane dat sekere ‘inkommers’ in hulle gretigheid om dié wilde wêreld te tem, hulle name gaan verkrater. Maar ‘n mens moet hulle seker vergewe, want hulle weet regtig nie wat hulle doen nie. Al dink ‘hulle’ natuurlik glad nie so nie.

“Ons sal hulle byvoorbeeld moet vergewe vir al die ou mooi swaeltjie-name waarmee die nuwe mini-dorpies agter hulle moewiese mure in Zwavelpoort deesdae gedoop word. Dit is Zwavel's View en Zwavel's Nest en -Rest en -Hill en Swallow’s this en that en what-not en selfs Blue Swallow, wat as spesie terloops glad nie in die land voorkom nie.

“Ons vergewe hulle, want hoe sal hulle dan weet (as hulle nie kan spel nie) dat Zwavelpoort sy naam aan ‘n heel andersriekende zwavel te danke het? Dié soort zwavel wat beelde van vuur en warmplekke kan oproep. Hoe sal ‘n aankommer weet as hy nog nie uit ‘n diep boorgat in die poort gedrink het nie?”

Februarie 2008: “Ja, hy het gehoor van dié gedoente van ‘n produktiwiteitsooreenkoms wat staatsdiensbase moet teken, sê oom Oupa. Anderdag toe hy in sy bakkie terugry van die viswaters af, toe praat hulle daarvan oor die draadloos. Dit was terloops nie ’n baie produktiewe visvangtrippie nie, sê oom Oupa, net ’n klein babertjie en ’n babelaas gevang. Maar hy hoor toe op die draadloos hoe iemand met die minister vir die staatsdiens oor dié produktiewe briefgedoente praat. Hy dink haar naam is Lazer Kettie of iets, sê die oom.

“Ewenwel, sê oom Oupa, hulle vra vir die minister hoe dinge vorder met die brief wat almal moet teken en sy sê nee, dit gaan glad nie te goed nie. Sy sê die brief is nou al meer as drie maande uit en 57 persent van die staatsdiensbase het dit nog nie geteken nie. Glo meer as 7 000 van hulle wat nog nie geteken het nie. Toe wil die draadloosmannetjie weet of staatsdiensbase dan ’n probleem het met die produktiwiteitsooreenkoms-dinges en sy sê nee, glad nie, sê oom Oupa. Sy sê, hulle sê, hulle het nog net nie daarby uitgekom nie . . .”

Januarie 2009: “Dis oorle Shakespeare wat gesê het ’n naam is net ’n naam en dat ’n roos ’n roos sal bly al is sy naam nou ook poelpetater, of iets. ’n Mens kan seker ook verstaan dat ’n ou met ’n naam wat dui op ’n bewerige wapen waar ’n ware man ’n stewige gedoente wil hê, só iets sou kon kwytraak.

Dis uit selfverdediging, kan jy maar sê. As ou Shakespeare nou ’n paar eeue later in Suid-Afrika gelewe het, sou hy hom baie verleentheid kon spaar. Dan sou hy geweet het hoe maklik dit is om ’n naam te verander. Hy sou hom in ’n tydperk in ’n land bevind het waar name met koorsagtige spoed verander word; waar ’n roos ast’ware met ’n pennestreep ’n poelpetater word, vinniger as wat jy Polokwane kan sê.”

Junie 2010: “Geen pryse vir dié wat kan raai wat die woord ‘vuvuzela’ beteken nie, sê Daan anderdag in die takkantoor. Dit is ’n Zoeloewoord wat beteken; ‘om ’n verskriklike geraas te maak’. Waarop Gert Mossie toe meen dit moet eintlik beteken; ‘om ’n vreeslike geraas te maak sonder enige rede op aarde en dan te dink almal dink jy is oulik terwyl almal jou eintlik wil foeter’. Net, Gert het nie die woord ‘foeter’ gebruik nie. Ou Edu, wat die Vrystaat ondersteun, sê dat ’n vuvuzela die perfekte uitvindsel vir sekere ondersteuners van ’n sekere rugbyspan is. Daardie span wat onlangs in Soweto loop speel het.

Dit pas dié span se ondersteuners soos ’n handskoen, sê Edu. Hulle kan ’n groot geraas maak sonder om te dink en sonder om enige sin te maak. Iets wat hulle in elk geval al jare doen, sê hy.”

Mei 2011: “Die feit dat die hele klem van die politieke veldtogte in die aanloop na die munisipale verkiesing in alle erns om kleinhuisies gewentel het, bevestig net my jarelange vermoede dat politikusse en hulle partye in geen omstandighede ernstig opgeneem behoort te word nie.
“As ’n ou plotperd met jare se ervaring van Kungwini, het ek gedink ek het al alles moontlik en onmoontlik uit die politieke front ervaar, maar dié verkiesing se dinges-spul vat die koek. Die miskoek.

Dis nogal moeilik om oor die hele strooispul te praat sonder om daardie wonderlike Afrikaanse Naboomspruitwoordjie te mag gebruik, maar duidelik is die lot politiekagtiges in ons land erg behep met dinges (vervang dinges telkens met daai wonderlike Naboomspruitwoordjie).

“Nie net praat hulle dinges in twee of meer tale vlot nie, hulle gryp dit geesdriftig met albei arms aan om gestalte aan die woord ‘smeerveldtog’ te gee. En om die spreekwoordelike modder met dinges te vervang in ’n sieslike gooiwedstryd. Dis Kootjie-Emmer-politiek soos selfs ou Apie Brink dit nie sou kon uitdink nie.”

Julie 2012: “Hy lees hier in die koerant, sê ou Anneries Skip, dis glo die ANC se ‘visie’ en dis hulle ‘missie’ om die ‘redistribusie’ van grond voortaan op die ‘sober’ manier te doen. Hulle sê, as die vrywillige koper en verkoper-ding nie wil werk nie, dan moet hulle bloot ‘sober’ heengaan en grond onteien, sê ou Anneries en hy plak die grootste Afrikaanse dagblad in die wêreld vies langs hom op die toonbank neer.

“Wat hom dronkslaan, sê Gert Mossie, is hoe daar deesdae met ons mooi taal gemors word. As jy nugter daaroor dink, sê Gert, behoort ‘n ‘visie’ na regte iets te wees wat jy in die dam teruggooi oor hy te klein is, en ‘n ‘missie’ is eintlik ‘n klein stukkie gras, as dit deur ‘n bees beweeg het.

“Ja, sê GrootPiet, maar dit kan ook ‘n gedagte wees wat deur ‘n politikus se kop beweeg het en by sy smoel uitkom as hy praat. Dis gewoonlik net ‘n veel groter hoop as dié wat die klein grassie by ‘n bees veroorsaak, sê GrootPiet.”

Mei 2013: “Hy sien hier in die koerant, sê Gert Mossie, die rugbykaptein van daai laaste Engelse kolonie in Afrika kla oor daar te veel Afrikaners in genoemde kolonie se span is. “Gmf!” snork Groot Piet verontwaardig. Dit is soos om te sê daar is te veel olifante in ‘n trop olifante. En as hy nie saam met Afrikaners wil rugby speel nie, dan moet hy maar in Koerdistan of iewers gaan speel. Hy moenie dink hy kan in Brittanje gaan speel nie, want daar is deesdae net soveel Afrikaners in elke Engelse span as in sy kolonie se ou spannetjie,” sê Groot Piet.

“Of hy kan onderkaptein van die nuwe Oos-Kaapse ‘Kings’ loop word, meen Gert Mossie. Hy weet daar is net so baie Afrikaners in daai span, maar hulle mag blykbaar nie Afrikaans praat nie, sê Gert. Want hy kom agter hulle is die enigste Suid-Afrikaanse span wat hulle lynstaanroepe in Engels roep. Hy het iewers gehoor die hoof-koning van die span vomeer op jou rugbytrui as jy Afrikaans praat, maar hy weet nie hoe waar dit is nie, sê Gert Mossie.”

Junie 2014: Hy wil nou nie lelik wees of laster nie, sê Gert Mossie, maar hy dink die groep beswaardes wat Duiwelspiek se naam wil laat verander, speel met vuur. Hulle verander juis deesdae so graag aan goeie, volkseie name en voor jy jou oge uitvee sit daai buurkoppie van Tafelberg opgesaal met die naam van ‘n ander ongewenste in ons midde – Jakop, of iets ewe aakligs. Soos die Ingelse sê; “better the devil jou know,” sê Gert.

“Dit maak hom sommer de duiwel in, sê Groot Piet. Hoekom dan torring aan name wat eeue al, party selfs van Adam se tyd af, goed genoeg was? Ook niks verkeerd met die woordjie ‘piek’ nie, sê Piet, solank jy net onthou om jou alfabet mooi in lyn te hou.”

Desember 2014: “Beste oom Krismisfaader en tannie Krismisfaader, Dis weer ek oom, Daantjie van Donkerhoek. Ek was weer firskriklik soet, maar hierrie jaar het ons ‘n perbleem. Eintlik ‘n perbleem en nogge perbleem. Die groot perbleem is die posketoor. Hulle sê posdiense maar my pa sê dis ‘n kontridieksie en dis nie vloek nie, oom. Kinners mag dit sê. Jy kan nie in hierrie land pos en diense saam sê nie want dis ‘n kontridieksie.

“So sê my pa en dan sê hy woorde wat kinners nie mag sê nie. Nou weet ek nie of oom my brief gan kry nie – oor die kontridieksie en als en of oom dan gan weet watse pirsent om vir my te bring oor ek so freeslik soet was nie, oom. Mens kan dit koeriejer, sê my ma, maar ek weet nie of die koeriejer tot by oom Krismisfaader-julle daar in die noortpool loop nie?”

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online