‘n Terugblik: Mense wat nie meer met ons is nie PDF Print E-mail
News - Artikels
Sunday, 27 September 2015 15:50
Untitled Document

In die beginjare van die Bronnie se bestaan het ons ‘n groot aantal besondere mense ontmoet, wat vandag nie meer met ons is nie. Op ons 13e verjaardag kyk ons met ‘n tikkie nostalgie terug na ‘n tyd wat vir altyd verby is.

John Knox

In die Bronnie se tweede uitgawe in Oktober 2002 het Vreethans ’n draai by John Knox, Blou Bul rugbyspeler in die laat 1970’s, se Bull ’n Bush-kuierplek in Tierpoort gemaak.

John het later as stapper lid geword van die Bashewa Atletiekklub en het gedroom van ’n staptog deur Afrika met Johnny Walker as borg.

Net meer as twee maande ná John met aggressiewe keelkanker gediagnoseer is, is hy op 6 November 2009 oorlede.

Carel Burger

In November 2002 het ons berig dat Carel Burger 10 jaar oud was toe hy vir die eerste keer aalwyne begin versamel en kweek het. Ons het na die aalwyne, vetplante, euphorbias en bome in Carel se geliefde natuurtuin teen die hang van die Bronberg gaan kyk waar hy toe reeds 32 jaar gewoel en werskaf het. Carel Burger is op 4 Mei 2006 in die ouderdom van 83 jaar oorlede.

Piet van der Merwe

In Desember 2002 het ons berig dat Piet van der Merwe toe al bykans 40 jaar lank besig was met die teling van Dexters op Zwavelpoort. Hy het hom in 1962 op Zwavelpoort gevestig toe baie van die huidige inwoners, in sy woorde, “nog in liquid vorm was”. Hy is op Vrydag 12 Januarie 2007 oorlede.

Francois Annandale

In April 2003 het die 84-jarige Francois Annandale vir ons die storie van Nkwe vertel. Die Annandale-familie het toe al langer as 108 jaar in Tierpoort gebly en is steeds in besit van die oorspronklike kaart en transport van die grond wat in 1895 uitgeskryf is.

Francois het vertel dat mense toe reeds 45 jaar lank oor naweke in die poele van die Pienaarsrivier geswem het. Die Nkwe-oord het homself gemaak, het hy gesê, en al wat hy en sy vrou Bettie gedoen het, was om ’n toegangsprys te begin vra.

Francois het vir ons die Engelse Oorlog oorblyfsels gewys wat hy in die verskansings op die berg agter sy huis gekry het. Die dam net bokant Nkwe-oord se bekende swemgat is geskep toe Francois se pa, George Annandale, die wal in 1930 gebou het om sy landerye te besproei. Die plaas was 385 morg groot met landerye tot onder by Lynnwoodweg. Francois het in 2003 nog oor ’n 100 morg aan weerskante van die Tierpoort-teerpad, besit. Hy is ‘n paar jaar na dié artikel verskyn het, oorlede.

Hans Strydom

In Junie 2003 het ons by skrywer en kunstenaar, Hans Strydom, op sy Zwavelpoortplot gaan kuier. Hy was bekend as die skrywer van die kontroversiële ontbloting van die broederbond in ‘The Super Afrikaners’, maar ook as fiksieskrywer van ‘Afrikaner Cameos’ wat as ‘Volkstaat Blues’ deur Des en Dawn Lindberg opgevoer is, en ‘For Volk & Führer’ wat as ‘The Fourth Reich’ verfilm is.

Hans het 30 jaar as joernalis by verskeie publikasies gewerk en die laaste 12 jaar daarvan as nuusredakteur en assistant-redakteur van ‘Sunday Times’. Na sy aftrede het hy begin skilder en het uitstallings van sy kontreikuns gehou.

Hans is in Maart 2004 in die ouderdom van 68 jaar weens ‘n lewersiekte oorlede.

Marguerite Alant

Lesers het organiese boerin, Marguerite Alant, leer ken toe ons in Julie 2003 oor haar organiese Ille de France skaapboerdery in Zwavelpoort berig het. Ons het vertel hoe sy haar skape se voer self aangeplant het en die grond deeglik vir dié aanplanting voorberei het. Daar is geen kunsmis op Marguerite se plot gebruik nie en ook geen voer-wat-uit-‘n-sak-uitkom nie.

Marguerite is op 21 Januarie 2009 in die ouderdom van 70 jaar na ‘n lang siekbed oorlede.

Schef Scheffer

Schef en Arna Scheffer het in die Bronnie se beginjare Langa Voere en hardeware in die ou Zwavelpoortsentrum bedryf en ‘n kleiner tak in Atterburyweg-verlenging. Langa was van ons eerste adverteerders. Schef is op Vrydag 19 September 2008 in die ouderdom van 44 jaar aan ‘n hartaanval oorlede. Hy was vroeër ‘n offisier van 32 Bataljon waar hy sy troepe in Angola se bosse aangevoer het.

Phil Minnaar

In September 2003 het lesers vir die eerste keer uitgevind wat al die standbeelde langs Ajaxstraat in Olympus doen. Beeldhouer Phil Minnaar se plot het gewemel met replikas van bekende kunswerke wat hy oor die jare voltooi het.

Al die ou Boeregeneraals van die Leër Hoofkwartier was daar, die Skukuza-hek se reliëfbeelde, die twee soldate voor die 1 Militêre Hospitaal, die bekende olifantfontein van die Palace by die Lost City, die beeld van Sir Pierre van Rhyneveld wat by die Lugmag Hoofkwartier gestaan het en die lewensgrootte olifant van die museum in Letaba.

Dan was die Lost City se luiperd ook daar, Menlynpark se olifante wat water spuit, die twee-keer lewensgrootte Nelson wat by Mandela Village naby die Carousel staan, die eerste ministers wat op die lughawens gestaan het, en selfs Laurence of Arabia op ‘n kameel en ‘n klomp Rooi Indiane.

Phil is op 23 Maart 2014 in sy huis in Ajaxstraat dood weens komplikasies ná ‘n dikderm-operasie.

Theo Swart

Ons het in Oktober 2003 vertel hoe Theo Swart ‘n passie waarmee hy sedert sy kinderdae saamloop, uitleef. Hy het unieke hardehoutmeubels geskep en statige ou meubelstukke tot hulle eertydse glorie gerestoureer. Theo het teen die einde van Mei 2004 sy eie lewe geneem op sy Tierpoort-hoewe.

Mariëtte Basson

In Maart 2004 het ons ‘n middag saam met Tossie Lochner, die beminde Afrikaanse radiostem uit Italië, deurgebring toe sy by haar vriendin Mariëtte Basson op Mooiplaats gaan kuier het.

Mariette was nou betrokke by gemeenskapsake en liefdadigheid. Sy was lank verantwoordelik vir die jaarlikse Gee-jou-gawe-Kersmark.

Mariëtte is op 26 Augustus 2012 ná ‘n siekbed en volgens haar man Nico, ‘n “harde geveg”, oorlede.

Freek van Eeden

Mense onthou Freek van Eeden vir sy fotografiepraatjie wat destyds op Vrydagmiddae op RSG uitgesaai is. Freek is op 27 Junie 2004 in die ouderdom van 59 aan ‘n hartaanval oorlede. Hy het vir 28 jaar saam met sy vrou Ronel en gesin op plot 92, Zwavelpoort gewoon.

Freek was direkteur van die Buro vir Ekonomiese Navorsing, Samewerking en Ontwikkeling en het sy doktorsgraad in ekonomie verwerf.

Hy was betrokke by die stigting van die Ontwikkelingsbank van Suider Afrika en het as direkteur van die Instituut vir Ontwikkelingsnavorsing daar gedien.

Zwavelpoorters onthou die proteas van uitvoer-gehalte wat hy op sy kleinhoewe gekweek het en sy perskes wat altyd die eerste van die seisoen was. Sy seun, Danie, bedryf Wild Route kwekery vanaf dié plot.

Willa Dreyer

Ons het in Junie 2004 vir die eerste keer by tannie Willa, wat toe 86 jaar oud was, gaan kuier. Sy het vertel dat haar familie uit hulle regmatige rykdom verneuk is. Haar pa Hans was ses jaar oud toe hy gesien het hoe die hoofgoudrif aan die Witwatersrand in 1886 ontdek is op sy oupa, Gerhardus Cornelis Oosthuizen, se plaas Langlaagte.

Tannie Willa was een van Hans en Hannie van Staden, wat die plaas Onbekend in 1924 gekoop het, se agt kinders. Wilhelmina Dorethea Dreyer is op 24 Desember 1918 gebore. Sy het in 1925 aan die Laerskool Witpoort begin skoolgaan en in 1934 was sy die enigste meisie wat standerd ses daar geskryf het.

Tannie Willa is in 1944 met Lucas Dreyer getroud en al drie hulle seuns en dié se kinders en kleinkinders was, soos tannie Willa, ook in Witpoort op skool.

Tannie Willa is op 8 Maart 2015 in die ouderdom van 96 jaar oorlede.

Bob Round

Bob Round, ‘n bekende inwoner van Shere, was vir ‘n paar jaar voorsitter van die Boschkopse Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF). In Augustus 2004 het ons Bob aangehaal in ‘n berig oor die GPF. Hy het gesê: “Ek weier om ‘n slagoffer te wees, en ek doen my bes om seker te maak dat dit nie met my of my mense sal gebeur nie.”

Dié woorde bied dalk ‘n verduideliking aan diegene wat nie kon verstaan hoekom ‘n 79-jarige man drie rowers eiehandig getakel het nie. In Augustus 2009 het ons berig dat Bob, wat alles in die stryd gewerp het om teen misdaad te baklei, op sy plot, ná ‘n geveg met drie rowers doodgeskiet is.

Faan Smuts

In November 2004 het Vreethans die eerste van vele draaie by Bronberg Lodge gemaak om te gaan afval eet. Faan Smuts het dié plek op sy hoewe in Zwavelpoort gebou en later was hy as vennoot betrokke by die omskakeling na Bronberg Wynlandgoed.

Dié Weskusseun het as boer en rugbyspeler uitgeblink en vir Rhodesië op flank gespeel. Die vriendskap wat Faan met mede-rugbyspelers gevorm het, het deur die jare sterk bly staan. Soms het ‘n kuieraand by Bronberg Lodge soos die jaarfunksie van oud-Springbokke gelyk.

Hy is van Rhodesië af Pretoria toe waar hy ‘n motorhandelaar geword het. Hy was mede-eienaar van die destydse Rhodesia Motors op die hoek van Skinner- en Du Toitstraat in die middestad. Later sou hy ook in die boubedryf en die restaurantwêreld betrokke raak. Faan het ‘n vliegtuig aangeskaf en hy en sy vriende het die land vol gevlieg om te gaan rugby kyk.

Faan is op 26 Augustus 2011 ná ‘n hartoperasie oorlede. Sy vrou, Issie, het die kapel by Bronberg Wynlandgoed, wat na Faan vernoem is, op 29 April 2012 onthul. Die eerste Faan Smuts gholfdag is ook op dié dag gehou.

Kaalvoet Jan Vosloo

In Maart 2005 berig ons dat een van die Bronberg-gebied se kleurrykste inwoners, Kaalvoet Jan Vosloo van Zwavelpoort, op 15 Februarie in die ouderdom van 61 aan kanker oorlede is. Hy is by die konsentrasiekampkerkhof op Balmoral begrawe.

Kaalvoet Jan was alom bekend as ‘n man met ‘n intense liefde vir sy volk en taal en het hom in sy laaste lewensjare, in samewerking met Willie Bienedell, besig gehou met die heruitgee van geskiedkundige Afrikaanse boeke, wat nie meer in druk was nie.

Hy het sy honneursgraad in entomologie behaal en by die Landbou Tegniese Dienste in Potchefstroom gewerk. Daarna is hy as programmeerder opgelei by die weermag se Direktoraat Elektroniese Dataverwerking.

Ná die direktoraat deur Infoplan ingesluk is, het hy sy loopbaan as rekenaarkundige voortgesit en was later bestuurder by Infoplan se opleidingsafdeling, voor hy in 1989 afgetree het.

Willie Bienedell

Skrywer en uitgewer, Wilhelm Leonhardt (Willie) Bienedell van Bienedell Uitgewers, wat spesialiseer in boeke oor Afrikaner kultuurgeskiedenis, is op 5 Januarie 2011 in die ouderdom van 58 jaar oorlede.

Willie het in die Tonteldoosdam in die Groblersdaldistrik verdrink. Blykbaar het hy ‘n hartkramp gekry terwyl hy geswem het. Sy vrou en vier jong kinders was in ‘n bootjie naby hom, maar kon hom nie red nie.

Brent en Allan Hiscock

In April 2006 het ons Allan Hiscock se negentigste verjaardag bygewoon. Ons het vertel dat die lewe ‘n paar verrassings vir die negentig-jarige Allan opgedis het. Twee van die grootste verrassings het gebeur die twee kere toe hy uit die polisiediens, waarvan hy op die ou einde vir 53 jaar ‘n lid was, probeer tree het.

Die eerste keer het hy sy diens onderbreek om ‘n soldaat te word in die Tweede Wêreldoorlog – min het hy geweet dat hy ‘n krygsgevangene in Pole sou wees. Die tweede keer was toe hy besluit het om af te tree – min het hy geweet dat hy op die ouderdom van 64 vir die eerste keer sou pa word.

Op die foto verskyn hy saam met sy jongste seun Brent. In Januarie 2007 het ons berig dat Brent op Oujaarsaand 2006 op sy ouers se Zwavelpoort hoewe vermoor is. Op Vrydag 13 Julie 2007 is Allan ook daar oorlede.

Sam McMurray

In Junie 2006 het ons die storie van die voormalige vegvlieënier, Sam McMurray, se Tweede Wêreldoorlog-eskapades in Afrika se woestyne en woude vertel.

Ons het ook vertel dat ‘n brief, wat sy vriend Bob op 28 April 1944 vir hom gepos het, eers 44 jaar later by hom afgelewer is. Bob is ‘n maand ná hy die brief gepos het in Noord-Afrika dood toe sy vliegtuig afgeskiet is. Die brief is in 1988 by Sam afgelewer nadat dit tussen die posbus en muur in Sam se vorige familiewoning gevind is.

Sam is op 8 September 2008 oorlede. Sy Mooiplaats-bure het gesê hulle onthou hom as die mens wat eerste daar was om te help vuurslaan, plaaspaadjies regmaak of sommer, net so terloops, jou boorgatpomp te maak werk.

Karen en Hein Kruger

Lesers het Hein Kruger leer ken as die vriendelike kroegman by die destydse Nikos restaurant in Zwavelpoort, waaroor Vreethans in die Bronnie se heel eerste uitgawe in September 2002 berig het. Dit was ook by Nikos waar sy vrou Karen gereeld haar kitaar getokkel het en Joan Baez liedjies gesing het.

Hein het Karen, néé Burger, op 14 Januarie 2008 doodgeskiet en daarna homself. Hy het Karen in die oprit voor haar huis in Equestria voor haar twee kinders geskiet en homself ’n uur en ’n half later in sy dogter se woonstel in Tygerpoort.

Stil-Henk Zagt

Mense het Henk Zagt, wat as Stil-Henk bekend gestaan het, ook in Nikos leer ken. Hy het ‘n hele aantal jaar in die Bronberg-gebied gewoon en was by sy vriende bekend as ‘n intelligente ou wat nie veel gesê het nie en baie vir sy medemens omgegee het.

Henk is op 25 Augustus 2008 in die ouderdom van 51 jaar aan ‘n bloeiende maagsweer oorlede. Hy het vir ‘n hele paar jaar onder gevaarlike omstandighede in Irak gewerk. Dié wat bekommerd was oor sy welstand in ‘n oorlog-geteisterde land, meen dit is ironies dat hy hier onder veilige omstandighede oorlede is. Henk was in sy jonger dae in die bankwese en was nog bloedjonk toe hy bankbestuurder geword het.

Hans Lombard

Hans Lombard het in 2005, ‘n paar maande ná Bronberg Lodge oopgemaak het, by die span aangesluit as kok en restaurantbestuurder. Hans en eienaar, Faan Smuts, het ‘n jarelange verbintenis in die restaurantwese gehad.

In Oktober 2011 het ons berig dat Bronnie-lesers hulle harte en beursies oopgemaak het om Hans by te staan. Sy been moes afgesit word ná gangreen weens erge suikersiekte ingetree het en sy sig was besig om agteruit te gaan.

Lede van die Mooiplaats, Zwavelpoort, Tierpoort Gemeenskapsorganisasie het die insamelings- en hulpaksie hanteer. ‘n Rolstoel en loopraam is aan Hans oorhandig en kontant om met hospitaal- en ander uitgawes te help, is beskikbaar gestel.

Hans het op die einde sy sig verloor. Ongeveer ‘n week ná sy laaste operasie om gangreen onder beheer te hou, is ‘n bloedklont deur sy hart. Hans is op 1 Desember 2014 in die ouderdom van 58 jaar oorlede. Hy is op dié 2011-foto saam met sy vrou, Alida.

Hank Schrader

In Desember 2010 het Hank Schrader, wat toe al vir 30 jaar plaasbestuurder was op die gedeelte van die Boschkop-plaas wat vandag Waterlake Farm genoem word, vir ons die Barnards se ou opstal en familie-begraafplasie gaan wys.

Hank het in 1976 vir Theuns Bester begin werk. Toe die Bester-broers in 1993 bankrot gespeel het, is die plaas op ’n veiling aan Sinovich Investments verkoop. Dié groep het die plaas verskeie kere verkoop, maar die koop het telkens deur die mat geval tot ’n Amerikaner, Eugene Delaney Jackson, dit in 1997 gekoop het. Hy het die plaas tot 2005 besit toe die ontwikkelaars van Waterlake Farm die plaas bekom het.

Hank en sy vrou Susan het oor die dekades gesien hoe die Boschkop-gebied rondom hulle ontwikkel.

Hank is onverwags op 31 Julie 2014 oorlede. Hy het ‘n suksesvolle operasie ondergaan, maar is daarná dood toe ‘n bloedklont deur sy long is.

Vic du Preez

In Oktober 2011 het ons in ‘Trekklavier kry Vic se Kay in sprokiesromanse’ berig dat Mooiplaatser Kay Williams vir Vic du Preez die jawoord gegee het voor sy hom ooit ontmoet het; slegs twee dae nadat hulle per e-pos vir mekaar begin skryf het.

Dié trekklavier-troupaartjie het op 31 Maart 2012 by Kitty Hawk se klubhuis in Boschkop die knoop deurgehaak. Teen die einde van April het hulle na die Natalse suidkus verhuis.

Die trekklavier-sprokiesverhaal het aan ‘n hartseer einde gekom toe Vic op 10 November 2013 aan ‘n hartaanval beswyk het.

Jack Maré

Jack Maré was een van die pioniers by die Boschkopse Gemeenskapspolisiëringforum. Hy en sy vrou Elsabé het op Mooiplaats gewoon voor hulle Cullinan toe getrek het.

Hy was ‘n erelid van die Hoëveld Veteraan Trekker en Enjin Klub van Suid-Afrika, was een van die stigterslede van Suid-Afrikaanse Motorsport (SAM) en was ook ‘n motorjoernalis en boer. Jack het vir 30 jaar by die WNNR gewerk en was hoof van die ontwerpkantoor van chemiese ingenieurswese.

Jacobus Francois de Middelburg Maré is op 17 Desember 2012 in die ouderdom van 80 jaar ná ‘n massiewe beroerte oorlede. Die foto wys Jack op ‘n 1926 Bulldog Lanz-trekker.

* Ons sou graag hulde wou bring aan elke liewe een wat in ons 13 bestaansjare oorlede is, maar ruimte-beperking maak dit ongelukkig nie moontlik nie.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online