Vreethans loop sy kuierpad al 13 jaar Print E-mail
News - Vreethans
Sunday, 27 September 2015 17:48
Untitled Document

Vreethans van Heerden besoek en doen verslag oor kuierplekke in Die Bronberger se verspreidingsgebied sedert die heel eerste uitgawe in September 2002. Ons deel hier enkele grepies uit een van Vreethans se resensies vir elk van die Bronnie se 13 bestaansjare met jou.

September 2002: Nikos

Die heel eerste uitgawe van Die Bronberger sien die lig en Vreethans doen verslag oor Nikos. Dié kuierplek was ‘n gewilde bymekaarkomplek vir die hoewegemeenskap van die gebied, totdat dit moes toemaak omdat die nuwe eienaars van die Zwavelpoort-sentrum die plek in 2004 meer boubedryf-gerig wou maak. Die eienaars, Nico en Lynette Breytenbach het later die restaurant by Kitty Hawk bedryf.

“Nikos kroeg en restaurant by die Zwavelpoort-sentrum is ‘n kuierplek sonder pretensies. Die kroeg is aan die kleinerige kant, maar dit is goed toegerus. Die atmosfeer is soos die mense, gemoedelik en vriendelik en die kroegpryse is billik.

“Maar dit is die mense wat dit veral die moeite werd maak om ‘n draai by Nikos te gooi. Nico en Lynette is ‘n egpaar met deeglike ervaring in die gasvryheidsbedryf – met die klem hier op gasvryheid.

“Dit was gou duidelik dat die meeste besoekers mense is wat mekaar ken en wat mekaar se geselskap geniet. Een gereelde kuiergas het dit só gestel: ‘Dis asof ek vir die naweek plaas toe gaan. Die huismense is regtig bly om my te sien en Ma het spesiaal my gunsteling geregte voorberei.’

“Die skaapafval was geurig en nie te veel gekerrie en gekrui nie. Die porsie was ruim en is op rys met drie goedvoorbereide groentes bedien. Dit kos R37.

“Metgesel het hoender-schnitzel bestel en was in vervoering oor die smaaklikheid daarvan. Saam met rys en groentes kos dit R28.”

April 2003: Die Werf

Die werf in Olympus was reeds as uitspanplek gevestig toe dié gebied nog uitsluitlik plotwêreld was. Chris Thirion het ‘n geskiedkundige plaasopstal ingerig as funksieplek en restaurant met die klem op tradisionele geregte en atmosfeer. Die kuierplek is later deur nuwe eienaars oorgeneem, het vir ‘n wyle toegemaak en is weer oopgemaak toe die Blos Café vanaf die noordelike hang van die Bronberg, in Januarie vanjaar daarheen geskuif het.

“Chris Thirion se Werf in Olympus bly staan as rustige oase midde in die koorsagtige ontwikkeling wat dié eertydse landelike gebied teen breeknekspoed in ‘n hellesee van mure en meenthuise verander.

“’n Mens kan selfs Die Werf deesdae van alkant af per teerpad bereik. Maar ná die eerste besoek onlangs na ‘n lang afwesigheid, is ek bly om te kan bevestig dat hierdie werf niks van sy boereplaas-buitekantse atmosfeer verloor het nie.

“Die verskeidenheid en oorspronklikheid van die spyskaart is indrukwekkend. Ewe imponerend is die pratende spyskaart wat dié aand Chris self is. Hy rits met geesdrif en smaak ‘n tienstuks spesiale geregte van die dag af. Die oud-generaal hou self ook sy lyf deesdae kok.

“Die porsies is (ná die sop) groot genoeg om ‘n braksakkie te regverdig en die volgende dag wys ek vir Metgesel hoe om ‘n koue nekbeen met ‘n knipmes af te maak.
“Die beesstert kos R54,95 en die volstruisnek ‘n ronde R50.”

Augustus 2004: Die Stoep

Deur die jare het Vreethans en Metgesel sporadies die tog Bronkhorstspruit toe aangepak en ná ‘n paar onsuksesvolle waagstukke by ander kuierplekke, het hulle maar telkens teruggekeer Stoep toe. Toe ons laas gekyk het, het dié stoep nog sterk gestaan.

“Die laatwinterdag was nes die klein beertjie van Goue Lokkies se pap: Nie te koud nie, nie te warm nie – net reg. En ons besluit om ‘n bietjie wyd te ry. Ons vat die ou pad en ry langsaam Bronkhorstspruit toe.

“Dis die eerste Sondag van die maand en die enigste Sondag van die maand wat Bronkhorstspruit se ‘Stoep’ oop is.

“Die Stoep het as kuierplek seker net soveel gedoen om Bronkies op die kaart te sit as wat Kungwini se krom stadsraad gedoen het.

“Jy kan in een van die ruim eetvertrekke van die ou huis, die kroeg, die lapa of die stoep plaasneem. Soos ek gemeld het, is dit ‘n beertjiepapdag en ons kies die stoep van Die Stoep.

“Metgesel se allemintige groentebord hou haar besig, stil en tevrede. Dit is goeie waarde teen R35 en kan vergelyk met ouma se beste pogings, sê sy. My bord boerekos met hoenderpastei, skaapboud en groentes is baie bevredigend, hoewel R75 dalk so R20 te veel gevra is. Die beesstert sou my R56 gekos het.

April 2005: Flight Inn

Vreethans sê hy meen Bapsfontein se Flight Inn bestaan nog, maar hy dink hulle vlieg nou onder ‘n ander vaandel met ‘n ander naam.

“Ons beland op ‘n Woensdagmiddag net mooi met hongerwordtyd midde in Bapsfontein se Venter Centre – ja regtigwaar.

“Daar is ’n netjiese advertensiebord langs die ou Delmaspad dat die Flight Inn hier iewers moet wees.

“Teen die muur van ‘n plek met ‘n paar stoeptafeltjies staan ‘Restaurant’. Net dit. Metgesel wil opsluit dat ons verder na Flight Inn moet loop soek, maar ek oortuig haar dat die kanse nie baie groot is vir Venter Centre om twee kuierplekke te hê nie. Ons stap in en dit blyk inderdaad Flight Inn te wees.

“Niemand teenwoordig weet hoekom die plek se naam is wat dit is nie. ‘Seker maar oor die mense so vinnig hier in en uit vlieg,’ meen die kroegman. Sy dink, sê die kelnermeisie, Ria, later, dis oor die ouens hier invlieg en dan ‘crash’ hulle tot toemaaktyd. As ek na die rustige ouens om die pooltafel kyk, dink ek die kelnerin is reg.

“Sy is jammer, maar sy kan nie vir Metgesel ‘n Coke gee nie, sê Ria. Hulle het gisteraand ‘n poolkompetisie gehad en die manne het vreeslik Coke gedrink. Alles is op. Ek dink so by my selwers die kanse is goed dat al die brandewyn dan ook op is.”

April 2006: Mimmo’s

Vreethans is uitgesproke in sy teensinnigheid om by konsessie-restaurante (‘franchise’) te kuier. Tog het hy destyds half gedwonge dié pizza-plek besoek. Sover bekend is die Mimmo’s by Glen Village nog goed  aan die gang.

“Metgesel wys my ewe diplomaties daarop dat Vreethans nog nie een van die land se stapelvoedsels, te wete pizza, vir sy rubriek beproef het nie. Sy meen dit is so effe onregverdig. Ek lei reg af dat Metgesel eintlik ‘n erge pizza-lus het en ek besluit om maar die minste te wees.

“Jy kan baie mense gelyk in Mimmo’s inpak, sou jy wou, en dit lyk of hulle genoeg kelners byderhand het om almal tevrede te hou.

“My teorie oor die saai voorspelbaarheid van konsessie-kos kry ‘n knou toe ons plaasneem en ek lees die swartbord teen die muur. Die disse van die dag sluit ‘n eisbein teen R39,90, ‘n koningklipvis teen R45 en ‘n kleftico vir R49, in. Dan kan jy ook tjokkakoppies (‘calamari legs’) teen R15 bestel.

“Maar dis met die doel om stapel-pizza te beproef dat ons hier is. Jy het ‘n keuse van 29 soorte en dan kan jy dit nog met agt ekstra goeters aanvul.

“Die groot ‘Siciliana’ kos R39,90 en dis moeilik om hom baas te raak. So een derde van die gedoente moes saamkom huis toe.”

Maart 2007: Karoo Café

Karoo Café doen nog flink sake lang Lynnwoodweg en langs hom het intussen ‘n knussige kleinteater ook oopgemaak.

“Net as jy dink jy het nou al min of meer alles gesien en alles geproe, dan maak iemand ‘n plek soos Karoo Café langs Lynnwoodweg oop.

“Kyk, as jy nou ‘iets anders’ soek, dan moet jy dié kuierplek beproef. Dit is ‘n aardse plek wat, met of sonder pretensies, die oopte van die Karoo in ‘n stylvolle skaapskeerskuur met ‘n aangekoppelde kunsgalery, probeer naboots.

“Baie moeite is gedoen om die hittegolf uit die blik-en-baksteen-gebou te hou. Water drup op die skadudoek wat die plafon vorm en plafonwaaiers werk oortyd teen die hetige aanslag. Buite op die stoep het hulle ‘n toestel wat sulke fyn waterdamp oor die gebied bemis. Ek dink sonder dié voorsorg sou die ou duiwel homself die hitte nie kon uitstaan nie.

“Ek kyk mooi waar die groot Deense kafeehond sy lê ná snuffel- en draai-soektog gaan lê en ons gaan sit aan by ‘n tafeltjie reg neffens hom. ‘n Hond, het ek deeglik deur jare se dure ervaring geleer, sal altyd op ‘n warm dag die koelste lêplek kry.”

September 2008: Sambok Bar

Voor dié kuierplek neffens die ou Bronkhorstspruitpad in Donkerhoek Sambok geword het, het dit die bekende en soms berugte Blikbord gehuisves. ‘n Brand het Sambok Bar se einde beteken.

“Een van die ander eienaars, Bok van Blerk, is self nie meer so ’n ’nuwe’ kunstenaar nie. Later vertel Matewis ons dat die ander eienaar se naam Shaun is en ons wonder of dit die Shaun is wat saam met Bok sy Delarey-ding gedoen het. Maar laat ek eers iets oor Matewis sê. Matewis is ’n kelner met ’n welluidende, diep stem en seker een van die mooiste Afrikaanse uitsprake wat ek nog teëgekom het.
“Sy goeie Afrikaans het hy in die Vrystaat geleer, sê Matewis. Hy is ook ingelig, vriendelik en flink. ’n Ware voorslag by die Sambok Bar is Matewis, kan jy maar sê.

“Al het Matewis my gewaarsku dat die pasteie nie ‘tuisgemaak’ is soos wat die spyskaart sê nie, het ek tog besluit om een aan te durf. ’n Hoenderpastei. Dit is immers tuisgemaak daar waar dit gemaak is, voordat Sambok dit aangekoop het, redeneer ek.

“Dis ’n redelike groot, vierkantige pastei, maar ek is spyt ek het nie iets anders bestel nie. Ek vermoed dat die pastei beter sou smaak en minder uitgedroog sou wees, as dit nie so lank warmgemaak is nie. Die slaai wat ek daarmee saam bestel het was vars en smaaklik”.

Junie 2009: Tranna

Tranna is die enigste van ’n rits restaurante wat destyds by die Hazeldean-koopsentrum langs mekaar ingeryg was, wat nog bestaan.

“Vir volksvreemde kosse is ek nie bang nie, maar vir Indiese geregte was ek nog altyd matig versigtig. Dit roep altyd daai prentjie van die ou met bloedbelope pieringoë en ’n vlamskietende tong by my op.
“Maar ek hou my lyf dapper toe Metgesel meen Indiese kos is net die ding om ’n nat, koue Sondag mee op te kikker en ons sit af na die Hazeldean-winkelsentrum se Tranna toe.

“Tranna is die naam van die Pakistanse volkslied, verneem ons later by die gawe kelner. Die eienaar is ’n Pakistanie, sê gawe kelner, maar die kos by Tranna is Noord-Indies, waar die sjef vandaan kom. Van Punjab af, om presies te wees, verduidelik hy.

“My keuse kos R75 en ek sou op enige ander dag gedink het dis baie billik, as dit nou nie was vir die feesmaal wat Metgesel van die buffet-tafel af geniet nie. Sy probeer ’n bietjie van alles en dalk ’n bietjie te veel van party, maar lekkerder, sê sy, het sy lanklaas op ’n Sondag of op enige ander dag geëet. Ek help haar om haar ryspoeding baas te raak en besluit om volgende keer my stouter skoene aan te trek en te gaan vir die ekstra-sterk.”

Junie 2010: Bronberg Wynlandgoed

Bronberg Wynlandgoed het gegroei uit die Bronberg Lodge, wat deur wyle Faan Smuts op ‘n hoekhoewe in Zwavelpoort staangemaak is.

“Hulle vertel my die nuwe Bronberg Wynlandgoed het ’n nuwe kok of twee en dat ’n mens nou ’n billike buffet op ’n Sondag aldaar kan geniet. En so sit ons toe op ’n matige Sondag af soontoe. Ons sit aan by ’n ruim eetkamertafel in die kroegdeel van die plek. ’n Kaggelvuur hou die ergste koue op ’n afstand. Gemeet aan die aantal mense, is die Sondag-buffet glad nie meer ’n geheim nie.

“Ek is in ekstase toe Chris die blink deksels van die opskepskottels een na die ander oplig en ek met die oog proe wat daar op my wag. Die keuse van sewe soorte vleiskosse los my met ’n dilemma, want die meeste daarvan tel onder my gunstelinge.

“Ek vind alles voortreflik. Die beesstert is deursag en geurig, die braaistukke soos dit moet wees, die bobotie kan ek aanbeveel en ek is mos nogal partydig vir ’n lewerkoekie, maar dis die afval wat die koek vat. Later toe Metgesel gaan poeding skep (sjokolade-malvapoeding en vla) laai ek eerder nog afval in my poedingbakkie. Die soetpatats was in elk geval poedingrig genoeg.”

Junie 2011: Kitty Hawk

Die restaurant en kroeg by Kitty Hawk se klubhuis is vir etlike jare met sukses deur Nico en Lynette Breytenbach bedryf. Deesdae staan ‘n geesdriftige Wilma Fourie aan die stuur van sake. Baie Bronbergers weet nie dat dié uitsonderlike kuierplek oop is vir almal en nie net tot klublede se plesier beperk is nie.

“’n Kuiertjie by Kitty Hawk op ’n sonnige herfsdag, is iets waarvoor baie mense baie ver sal ry.

Gelukkig is dit vir Bronbergers nie nodig om die lang pad aan te durf vir dié voorreg nie.

“Die grootste vliegveld in private besit wat die suidelike halfrond het om te bied, sit vlak onder ons neuse ingewig tussen die mooi en rustige rante van Boschkop.

“Oor naweke word die rustigheid sporadies afgewissel deur ’n vliegmasjien of twee wat opstyg of kom sit, of ’n toertjie wat in die blou lug bokant Boschkop uitgevoer word. Iets om na te kyk terwyl jy onder die sonsambrele met ’n koffie of ’n kouetjie in die hand sit.

“Ek het die kaasburger bestel en ek het lanklaas ’n lekkerder burgerfrikkadel raakgeloop. Dit is lekker los aanmekaargesit en baie geurig. Dit kom saam met skyfies en kos R43. Metgesel se hoenderburger was van die gewone soort wat jy gevries in die Pik & Petaal kan koop. Dit kos R38.

Junie 2012: Cockpit Brewhouse

Dié brouery-restaurant in Cullinan se mense sorg dat bekende musiek-kunstenaars die dorp gereeld besoek en gee goeie bierplesier aan sy besoekers.

“As ek nou reg onthou, kan ‘n ou sewe of agt soorte plaaslik-gebroude bier by Cullinan se Cockpit Brouhuis beproef. Jy kry sewe gratis skeute in sewe glasies vir proe. En dan kan jy jou gunsteling of gunstelinge per glas uit-die-vat-getap geniet.

“Een van die vriendelike, kundige kelners of broumeester André self, staan byderhand om jou oor die fynere dinge van elke brousel in te lig: Genoeg inligting oor subtiele kruie-, bessie-, ‘bisket-’ en selfs ‘bananasmake’, en oor pilsener-mout en adellike hops om enige wynsnob op sy neus te laat kyk.
“Omdat André lugvaartbefoeterd is, dra sy bier, soos sy plek, name wat met vliegtuie te doene het.

Waar jy buite in die voortuintjie van die ou klipskakelhuisie in Cullinan se Oaklaan sit, sal jy kan proe aan biere soos Spitfire Pale Ale (van Engelse aard), Mustang Ale (Amerikaans) en Fokker Weis, wat vernoem is na ‘n Duitse vliegtuig – regtig.

“Maar my naam is immers nie Drinkhans nie en ons is eintlik oorspronklik op ‘n onlangse, lui Sondag na Cullinan se Cockpit toe om ‘n ietsie vaster vir die innerlike te beproef.

“André se bierplek spog met ‘n uitgebreide en interessante spyskaart. Onder die vier voorgeregte het ‘Gerda Weldhagen’s pastry squares’ vir my belowend gelyk. As ek dit sou bestel, sou ek – vry vertaal uit die Engels –  ‘n ligte en donserige deeg-vierkant, bedek met gesmelte Deense bloukaas en vyekonfyt gekry het.”

Maart 2013: La Vie Lente

Die kuierplek op ‘n Tierpoortse kleinhoewe was nog oop vir koop toe ons onlangs daar verby is.

“Vlak langs Lynnwoodweg-verlenging, in Tierpoort se wêreld, sit daar deesdae ‘n mooi uitspanplek in die oopte met die volksvreemde naam van ‘La Vie Lente’.

“Lente het in dié geval niks met seisoene te doene nie. ‘n Mens spreek dit uit – ‘Lant’, met ‘n sagte ‘t’ – en dis die Frans vir ‘stadig’. ‘La vie lente.’ Die stadige lewe, of die rustige lewe, dan.

“Ons ry op ‘n rustige Saterdag stadig deur die veiligheidshek wat deur ‘n kalm wag beman en beheer word. Hulle het die opstal op die uitspanplot baie stylvol en keurig ingerig. Jy stap by die indrukwekkende ingang in en bevind jou omring deur kunstige gebruiksware van die boetiek, wat saam met die restaurant bedryf word.

“Metgesel besluit op die groente- en slaaibord met ‘n broodmandjie en drie doopsouse. Sy is mos baie partydig vir ‘gesonde’ kos. Ek het my bedenkinge gehad of die storie genoegsaam sou wees vir ‘n honger Metgesel, maar dit was meer as wat sy kon baasraak. Gaande was sy oor vars, gesonde kos, die smaakkombinasies, die verbeeldingryke doopsouse en die tuisgedoende brode. Dit kos R70.

“Die vleiskeuses bevat ‘n tuisgemaakte hamburger, ‘n hoendergereg en ‘n beeshaas (nee, Steve, dis nie ‘n ding wat op die ark skeefgeloop het nie, dis ‘n ‘fillet’). Die bees kom saam met gekarameliseerde uie en is saam met camembert in ‘n Panini-brood bedien. Heerlik en vullend teen R85.”

April 2014: Mozambik

‘n Groot kuierplek langs Hans Strijdomrylaan wat sedert Vreethans se besoek aldaar glo in gewildheid gegroei het.

“In Mosambiek laas, het ek ‘n bevredigende onderonsie met ‘n bord garnale (prawns) gehad: Ordentlik gedoen en genoeg. Daarom het ek my voorgeneem om so gou doenlik ‘n draai by die jongste kuierplek op Mike von Backström se hoek by Silver Lakes te loop gooi. Hulle noem die plek ‘Mo-zam-bik’. En die hoop het toe nie beskaam nie.

“Dié groot uitspanplek het, sedert Mike dit ‘n aantal jare gelede ingerig het, verskillende name met eienaars van wisselende wenslikheid gehad. Met die intrapslag al is dit duidelik dat die nuwe ‘Mo-zam-bikkers’ vriendelikheid en diens voorop stel. By die ingangshekkie word ons verwelkom en begelei na ons aansitplek. Ons neem plaas by een van die talryke buitetafels en voel ons dadelik tuis. Soos wat ons meestal met ons besoeke aan ons mooi buurland met ‘n dergelike naam voel.

“Soos gemeld is die spyskaart ‘n lywige een met baie en verbeeldingryke keuses. Die pryse is allermins liggewig, maar darem ook nie buitensporig nie. Maar ons is hier vir die garnale (prawns, camaräo) omdat goeie garnale skaars is en die hoop nie beskaam nie.

“As Mo-zam-bik se garnale nie perfek voorberei is nie, is dit so naby daaraan as wat ‘n prawn aan ‘n gogga is.

“Hulle oondrooster dié see-lekkerny. Die tekstuur is stewig, amper krakerig en die smaak onder daai brandsousie is om oor huis toe te skryf. Die kortkorrel rys sou vir my ‘n maal op sy eie kon wees. Die agt garnale kos R165.

Maart 2015: Camilla’s Farm

“As jy aanhou oos ry met Lynnwoodweg-verlenging tot waar jy nie meer kan nie en jy ry dan verder, kom jy dalk by ‘n andersoortige kuierplek op Kameelzynkraal af wat vir ‘n baie aangename verrassing kan sorg.

“Camilla’s Farm is ‘n bokplaas wat op Saterdae kunstige kase in ‘n asemrowende landelike omgewing voorsit. Jy kan daarmee saam wyn of melkskommel geniet en jy kan plaas- en bokmelkprodukte aankoop wat met sorg, liefde en aansienlike vaardigheid gemaak is. Dis ‘n rustige plek, dis ‘n mooi plek en dis ‘n vriendelike plek.

“Dis ‘n baie mooi kaasbord wat voor ons neergesit word. Mooi en lekker kase wat volgens die Franse styl gebou is, mooi kappertjieblommetjies, mooi kersietamaties, mooi  bloedrooi kersietamatiekonfyt en ‘n mooi en lekker handvervaardigde, saadbroodrolletjie – een vir elk. Oor dié harderige broodjie, was Metgesel gaande en oor die meeste van die kaaskeuses ook.

“Die Toggenburg-melk is romerig, sodat dit eintlik as ‘glad’ beskryf kan word en dit smaak meer na melk as wat gewone melk na melk smaak – as jy dit kan verstaan. En die room op die koek is dat dit geen, maar geen, asemhalingsgevolge by my los nie.

“Ons het die voordag by Camilla’s Farm baie geniet en sal ‘n besoek met vrymoedigheid aanbeveel. Dis ‘n bokgat plek.”

 

© 2024 Die/The Bronberger