Duiker deur ystervarkpen deurboor PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Sunday, 27 September 2015 15:46
Untitled Document

‘n Rare gesig het Kleinfontein se wildpark-bewoners op Sondag 23 Augustus begroet. ‘n Duikerooitjie wat deur ‘n ystervarkpen deurboor is, het ewe rustig gestaan en wei.

“Dit lyk gelukkig asof die pen net deur die gesigsvel is, want sy het baie ywerig gevreet en toe die bure se hond blaf, het sy teen ‘n hoë spoed die hasepad gekies,” sê Paul Bosman, wat die ooitjie afgeneem het.

‘n Mens wonder hoe op aarde dié ystervarkpen in haar gesig kon beland het. Daar is mense wat sê dat duikers dié naam gekry het omdat dit lyk asof hulle in ruigtes of struike induik wanneer hulle mense gewaar. Kon dié ooitjie dalk só naby ‘n ystervark se agterkant beland het?

Ander sê weer die naam ‘duiker’ beskryf die duikende spronge wat hulle gee as hulle hardloop.

Duikers is bekend daarvoor dat hulle van tyd tot tyd insekte, knaagdiere of klein voëltjies vreet en selfs aan karkasse sal vreet. Kon daar iewers ‘n ystervarkkarkas rondgelê het? Hulle gewone dieet is blare, sade, vrugte, peule, blomme, wortels en bas.


Die duikerootjie se gesigsvel is deur ‘n ystervarkpen deurboor
Foto: Paul Bosman

Grys
Die naam ‘duiker’ word gebruik om 19 klein boksoorte wat in die sub-Sahara deel van Afrika voorkom te beskryf. Die duikers wat in ons kontrei voorkom is meestal die gewone of grys duiker, Sylvicapra Grimmia.

Dié duiker se kleur kan wissel van gryserig tot rooibruin en daar is opvallende kleurverskille van streek tot streek. Hy is egter altyd witterig aan die onderkant van sy maag en stert, en die voorkant van sy voorbene is donkerbruin. Baie duikers het ‘n swart band oor die kop wat tot by die neus loop.

Duikers is skaam diertjies wat nie maklik gesien word nie omdat hulle in digte bosse wegkruip. ‘n Duiker het ‘n effe geboë lyf en die voorbene is ‘n bietjie korter as die agterbene sodat hy maklik in bosse kan induik.

Volwassse ramme se skouerhoogte is 500 mm en ooie staan omtrent 20 mm hoër. Ramme weeg 15-18 kg en ooie 16-21 kg.

Daar word gewoonlik een lammetjie gebore na ‘n dragtigheidtydperk van drie maande. Lammers kan begin hardloop as hulle een dag oud is, maar vir die eerste paar dae sal die ooi hulle onder digte struike wegsteek as sy gaan wei.

Lammers is teen sewe maande uitgegroei en ooie kan dragtig raak as hulle agt tot nege maande oud is. Die gewone duiker word agt tot 11 jaar oud.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online