Begaafde musikant sterf PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Sunday, 27 September 2015 15:36
Untitled Document

Esperance Grobler

Ruanne Ruthvin, begaafde pianis, orrelis en bekende begeleier is op 9 September in die ouderdom van 35 jaar aan ‘n hartaanval oorlede. Hy het ‘n tyd lank aan ‘n rare hartsiekte gely.

Bronbergers het Ruanne leer ken as orrelis by NG Kerk Tygerpoort, waar hy vanaf Mei 2009 tot met sy afsterwe was.

Op vierjarige ouderdom het Ruanne al op gehoor klavier begin speel. Hy het graag sy pa en boetie Werner begelei wanneer hulle sing. Raymond, sy oudste broer, onthou hoe Ruanne as sewejarige sy ma gesmeek het om tog vir hom die musiek om te blaai, sodat hy vinnig genoeg kon speel.

Op skool het Ruanne klavier en orrellesse geneem, en hy het op 13 jaar sy eerste openbare optrede by ‘n troue gehad. Hy was nog op skool toe hy verskeie kore en sangers begin begelei het. Ruanne was ‘n meester op dié gebied, soos talle kore en sangers wat hy begelei en afgerig het, sal getuig.


Ruanne Ruthvin: 24 Mei 1980 tot 9 September 2015

Sy uitstekende gehoor, fyn aanvoeling en simpatieke ondersteuning op klavier het menige sangers geïnspireer. Benewens verskeie skoolkore, het hy ook Attie Rossouw se F# koor begelei, asook die Black Tie Ensemble.

Nadat hy gematrikuleer het aan Hoërskool Wonderboom, het Ruanne ‘n diploma in risikobestuur voltooi en by Netcare Montana as risikobestuurder gewerk. Hy was ook orrelis by die Gereformeerde Kerk Bergsig en NG Kerk Akasia.

Ruanne het ook musiek gekomponeer, verwerkings gedoen, musiekblyspele afgerig en sy eie opname-ateljee, Impromptu Music Productions, bedryf.

Ruanne sal onthou word vir sy energieke passie vir die lewe, hegte vriendskappe, kordate sin vir humor en reguit manier om ‘n ding te sê. “Daai kite gaan nie vlieg nie,” was gereeld sy opsomming van ‘n hopelose situasie.

Ruanne word oorleef deur sy ma Rienie en twee ouer broers, Raymond en Werner. Sy begrafnisdiens was op 16 September vanuit die NG Tygerpoort-gemeente by Skuilkrans NG-gemeente se kerkgebou.

Esperance Grobler van Wapadrand is self ‘n bekende musikant en sangeres en is dikwels met opvoerings deur Ruan begelei. – Red.

 

© 2019 Die/The Bronberger