Bronbergers vat kortpad na Kairo PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Sunday, 27 September 2015 15:36
Untitled Document

Motorfietsryers uit die Bronberg-gebied het op 1 September op ‘n tog vanaf Kaap Agulhas na Kairo vertrek. Die Kortpad Noord-groep reis ten bate van motor neuron siekte.

Hulle samel fondse in vir die J9 Stigting, wat deur rugby legende, Joost van der Westhuizen, begin is om diegene wat aan die siekte ly en hulle families finansieel en emosioneel te ondersteun en om navorsing oor die siekte te finansier.

Die Kortpad Noord-groep bestaan uit Heiner Meyer van Mooikloof, Bruce Myburg van Woodhill, Charl Meyer, wat nou in Nelspruit woon, en Edrique Botha van Zwavelpoort as die vier amptelike ryers en Bou Raath van Silver Lakes as die gasryer. Hulle beplan om Kairo teen die einde van November te bereik.


Van links na regs: Bruce Myburg, Edrique Botha en Heiner Meyer

Die beplande roete dek teer- en grondpaaie, en die groep sal van die meer onbekende streke en paaie in Afrika verken. Africa Uncut is die ekspedisie-bestuurders, wat met die beplanning en koördinering van die reis help.

Die naam ‘Kortpad’ het tot stand gekom omdat die ‘ander roete’ as die beproefde een gewoonlik meer opwindend is. Die enigste manier hoe Edrique gewoonlik sy groep kan oortuig om die ‘ander roete’ te neem is om te sê: “Ek ken ‘n kortpad!”

Die kortpad neem gewoonlik dubbel so lank maar is baie interessanter. Die Kortpad-span se leuse is ook: Dit is die reis wat belangrik is en nie die eindbestemming nie.


Die wegspringplek by Kaap Agulhas, die mees suidelike punt van die kontinent. Van links na regs is Heiner Meyer van Mooikloof, Bruce Myburg van Woodhill, Charl Meyer, wat nou in Nelspruit woon, en Edrique Botha van Zwavelpoort. Gasryer Bou Raath van Silver Lakes is nie op die foto nie

Hulle vordering kan op die Facebook-blad genaamd kortpad gevolg word en daar is ’n skakel wat elke halfuur opgedateer word sodat ‘n mens kan sien waar hulle ry. 

Teen die Bronnie se saktyd het die span by hulle kamp op die oewer van die Choberiver in Botswana vir onderdele gewag sodat ‘n meganiese probleem met een van die motorfietse uitgesorteer kon word.

Om R30 aan die J9 Stigting te skenk, sms ‘kortpad’ na 42305.

 

© 2019 Die/The Bronberger