PDF Print E-mail
News - Aktueel
Sunday, 27 September 2015 15:31
Untitled Document

Die aansoek om ‘n mynlisensie in Mooiplaats kom glo ná jare se wederregtelike sandmynery op ‘n plot waar ‘n plantspesie, wat as ‘bykans bedreig’ op die rooidatalys aangedui word, voorkom.

Verlede maand het ons berig dat Pieter Pretorius van plot 318 Mooiplaats 367-JR, naby die Max Stibbe Waldorfskool, vir ‘n mynlisensie by die Departement van Minerale Bronne aansoek gedoen het. Hy wil glo die sand wat met die uitgrawings vir ‘n dam verwyder word, gebruik vir die maak van plaveiblokke.

Volgens Petro Lemmer van Pienaarspoort het die Magalies-Bronberg Grondeienaarsvereniging die sandmyn aan die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling gerapporteer.


Lithops lesliei subsp. lesliei, wat in die volksmond as blommende klippe bekendstaan
Foto: Rafael Matysiuk

Dié department se Lorraine Mills het bevestig dat die bykans bedreigde rooidataspesie, Lithops lesliei subsp. lesliei, in die voorgestelde myngebied gevind is. Die plant is ‘n lid van die Aizoaceae-familie en staan in die volksmond as blommende klippe bekend.

Petro het gesê dat ‘n myn in dié landelike gebied van geen belang vir die gemeenskap of omgewing sal wees nie. Behalwe moontlike toename in misdaad, sal die grondwater beïnvloed word en die geraas en stof van mynaktiwiteite sal die rustige leefwyse skaad.

Sy het gesê as toestemming vir ‘n myn in die omgewing eers gegee is, daar niks is wat die volgende persoon sal keer om vir prospekteerregte op enige eiendom in die omgewing aansoek te doen nie. As minerale gevind word, is daar geen wet wat hulle sal keer om vir mynregte aansoek te doen nie.

Ons het verlede maand berig dat die mynpermit waarvoor aansoek gedoen word vir ‘n beperkte gebied van vyf hektaar is en vir twee jaar, wat vir ‘n maksimum van vyf jaar hernu kan word, geldig sal wees.

Volgens die agtergrondinligtingsdokument wat deur omgewingskonsultante Index Edms Bpk opgestel is, word beraam dat 6 000 m³ per kwartaal gemyn gaan word, wat 2 000 m³ per maand beteken, of omtrent 100 m³ per dag. Dit beteken dat ses daaglikse heen en weer togte per vragmotor afgelê sal word met gepaardgaande stofbesoedeling.

 

© 2019 Die/The Bronberger