My partytjie PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Sunday, 27 September 2015 15:25
Untitled Document

Welkom by my 13e verjaardagpartytjie en baie dankie vir jou teenwoordigheid. My naam is Die Bronberger, maar my vriende neig om my sommer ou Bronnie te noem.

Ek is in September 2002 op die kruin van die Bronberg gebore. Dit was nogal ‘n moeilike bevalling en in my babajare het dit soms maar broekskeur gegaan. Maar my ma en my pa het vasgebyt en gelukkig het hulle baie hulp en ondersteuning met my grootmaakproses gehad.

My getroue lesers het gehelp en my adverteerders het gesorg vir die noodsaaklike kragkos om my te help groter word. Tannie Tania, tannie Jeanette, tante Els en oom Allen-hulle was daar om my op te pas toe dit nodig was en aan julle almal sê ek baie dankie.

Vandag is ek ‘n stewige, gesonde tiener – uitgevreet, kan jy amper sê. Want wat jy nou in jou hand vashou, is die grootste Bronnie nog, met die meeste bladsye en die meeste advertensies ooit. My ouers is trots, opgewonde en baie dankbaar oor ek so mooi groei.

Dertien klink dalk nie vir jou na baie jare nie, maar jy moet onthou dat tydskrifjare anders is as mensjare. Dis langer. Amper soos met hondjare. Baie min onafhanklike publikasies leef om 13 jaar te sien en ek weet ek sou dit nie alleen kon regkry nie.

Van meet af aan het ek probeer om stories te vertel wat aanklank sal vind by die gemeenskap waarin ek grootword en dit lyk of my stories meestal byval vind, want die meeste van julle hou nogal van my.

Ek hou ook baie van julle, die mense waarsonder ek nie sou kon groei nie.

Die afgelope 13 jaar het ons lekker gesels. Ek het met julle gepraat en julle het met my gepraat. Ons het gepraat oor die dinge wat vir ons as gemeenskap saak maak: Oor die lief en die leed wat ons mense deel, die dinge wat ons mense doen en oor die sake en die omgewing wat ons na aan die hart lê. Ons skinder soms ‘n bietjie en soms praat ons ‘n bietjie nonsens, maar ons word deur niemand voorgeskryf oor dit waaroor ons moet praat nie. In ons gesprekke skram ons deurgaans weg van partypolitiek, pornografie en ander ongure onderwerpe.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online