Harry Bek se leeujag PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 25 August 2015 06:43
Untitled Document

Die groot bohaai oor Cecil die leeu van Zimbabwe en die genadelose moord-tannetrekker uit Amerika het my, hier knap ná Internasionale Leeudag, laat dink aan ou Harry en sy Amerikaanse trofeejagters.

Ou Harry Bek het ‘n redelike sukkelplaas iewers in die Kalahari noord van Vryburg gehad. Hier het hy met bees geboer, maar die droogtes het nie altyd gehelp om die kop bo water (eintlik sand in dié geval) te hou nie.

In die wintermaande het Harry Bek ‘n paar biltongjagters ingeneem om te help met die aanvulling van fondse vir die nodige veevoer, brandewyn en ander noodsaaklikhede.

Skaars
Metterwoon het die bokke op ou Harry se plaas begin om skaars, uitgeslape en baie wild te word. Gevolglik het die biltongjagters en die nodige brandewyngeld ook onrusbarend skaars geword.

Harry het iewers gehoor dat dit ‘petaal’ om te adverteer en hy sit met die hulp van sy vrind Donsneus, die kroegman op die naaste dorpie, ‘n advertensie op die ‘interweb’.

Uit Amerika kry ou Donsneus toe ‘n navraag oor die jag van ‘n ‘trofee-leeu’ en die Amerikaner bied ‘n waenhuis vol dollars aan vir die spulletjie.

Uitgeslape
Hoe Harry Bek die ding bewimpel het, is nie duidelik nie, maar ou Harry is glo nogal ‘n uitgeslape kêrel en hy kry dit reg om ‘n paar erg afgeleefde sirkusleeus vir amper-verniet aan te koop. En die Amerikaanse jagter word laat weet: “Dis reg, maar die prys is effe hoër.”

Nou vertel hulle dat die ou, hondmak leeus soos konings in ‘n versteekte kampie op die Kalahariplaas gelewe het. Genadebrood op sy beste.

Die leeukampie is só ingerig dat dit net ver genoeg van die jagterskamp af is, sodat die Amerikaanse leeujagter in die nag soms ‘n leeu in die vêrte kan hoor brul.

Geesdrif
Die dagfooie om in die jagterskamp aan te bly, bring welkome dollars in ou Harry se sak. Om die leeujagter se geesdrif hoog te hou, terwyl hy hom so lank moontlik laat oorstaan, het ou Harry ‘n vindingryke plan bedink.

Hy het ‘n leeupoot van die kop-en-vel-mat in sy voorkamer afgesny en dit voor aan ‘n besemstok gemonteer. Met die pootkierie druk hy elke nag, as die Amerikaner slaap, vars leeuspore in die stofpaadjies en om die suiping naby die jagterskamp.

Die volgende dag as hulle loop om te gaan ‘leeujag’, kry die Amerikaner skoon leeukoors as hulle die vars spoor volg. So hou dit aan totdat ou Harry sien die Amerikaner begin nou geesdrif verloor en dat die tyd aangebreek het vir die jagter om sy ‘trofee’ te skiet.

Biltong
Dan jaag Harry Bek die oudste en gehawendste van die sirkusleeus in ‘n kleiner kampie en die stomme ou vuilbaard word vir sy laaste maaltyd met biltong bederf. Nie net ‘n paar stukkies nie, maar ‘n hengse hoop, baie sout biltong. En die watertrog in die kamp word leeggemaak. Twee dae hou dit so aan.

Op die vooraand van die groot jagdag vertel Harry vir die Amerikaner dat hy die spoor van ‘n groot maanhaar gekry het en dat hy seker is hulle sal die leeu môreoggend vroeg raakloop.

Dié oggend skuil hy en die jagter agter ‘n bos vlak by die suiping. Ou Kiewiet maak die leeukampie se hek doer bo oop en die ou leeu storm oop-en-toe af suiping toe om sy verskriklike dors te loop les. Daar aangekom loop lê die leeu plat op sy pens en begin water suip.

Nou vertel ou Harry glo dat hy baie seker maak die Amerikaner is so naby moontlik aan sy teiken. Want as hy sou mis skiet, gaan daardie sirkusleeu dalk dink die geweer se knal is die klap van ‘n sweep en alles bederf deur op sy agterpote te gaan sit.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online